Sonop en Erika bou wenvlot
Deur Sonop
Gelaai op 05 Maart 2012
Sonop se Joolvlot vir 2012 met sy karakters. Agter vlnr: Buzz Lightyear,King Julian, Sponge Bob en Genie. Voor vlnr: Die Aliens en Minjons
Die vreugdevure het Saterdagaand, 11 Februarie 2012 hoog in Sonop gebrand toe aangekondig is dat die Sonop/Erika vlot as die 2012 wenvlot aangewys is.
Dit kon ook nie anders nie - want die skares langs die roete kon nie uitgepraat raak oor die kleurvolle strokiesprent karakters op die vlot nie.
Sonop se HK lid vir Jool, Reinardt Munnik (4de jaar LLB) vertel dat hulle in die lig van die oorkoepelende Jool 2012 tema “When I turn on the TV” juis op hierdie kleurvolle karakters besluit het omdat meeste mense langs die roete, kinders en studente is wat die karakters baie goed ken.
By die beoordelingspunt in Lynnwood waar al die eregaste ook gesit het, was dit veral Buzz Lightyear en Sponge Bob wat met hulle manjefieke bewegings die mense op hulle voete gehad het.
Die vlotbou onder leiding van Thomas van der Meulen, Franus Winterbach en Cornel du Toit het bykans twee weke geduur en die Sonop Joolkomitee oor die R30 000 uit die sak gejaag.
Sedert 2011 is Sonop in die gelukkige posisie dat sy vlot na die Jooloptog nie maar net afgebreek en van die materiaal óf herwin óf weggegooi word nie. Dit word alles vir ‘n tweede rondte ter wille van liefdadigheid aangewend.
Al die versierings – wat ook vanjaar se mooi kleurvolle karakters insluit – word aan FELICITAS Skool vir Verstandelik en Fisiek Gestremdes in Brakpan geskenk wat dit tydens hulle jaarlikse karnaval in Maart gebruik. Mens kan jou maar net indink hoe die kinders dit gaan geniet as Buzz Lightyear, Sponge Bob, King Julian, Genie, die Minjons en Dark Vader hulle opwagting daar maak!
Sonop se Jool vir vanjaar het egter nie geëindig met die ontvang van die trofee vir die beste Joolvlot 2012 nie. ‘n Uitreik na Mosambiek om daar te gaan help met ‘n kerkbouprojek asook ‘n perdery-uitstappie vir minderbevoorregdes is onder andere nog op die spyskaart.
|