University of Pretoria Logo
English |  Afrikaans |    
  
Rugby

Tuks-vroue skitter in Reunion

Deur Morris Gilbert

Gelaai op 22 Junie 2009

'n Opgewekte Tuks-span nadat hulle in die eindstryd teen Frankryk verloor het.
'n Opgewekte Tuks-span nadat hulle in die eindstryd teen Frankryk verloor het.

Tuks se vroue het goeie rede om breed te glimlag nadat hulle die Universiteit met groot onderskeiding by ín internasionale sewestoernooi van 18 tot 21 Junie op die eiland Reunion verteenwoordig het.



Tuks, die enigste klub wat deelgeneem het, het teen Frankryk se nasionale span in die eindstryd verloor. Die eindtelling van 19-7 vertel egter nie die volle verhaal nie aangesien Tuks die eerste drie gedruk en met rustyd (7-7) nog sterk in die wedloop was.

Die keerpunt van die wedstryd was toe ’n Tuks-speler in die tweede helfte vir ’n gevaarlike duikslag koelkas toe gestuur is, ’n beslissing wat steeds deur die afrigter, Riaan van der Merwe, in twyfel getrek word.

Riaan het Tuks se vertoning as manjifiek beskrywe. In hul opmars na die eindstryd het Tuks met Reunion (15-5), Mayotte-eilande (55-0) en Madagaskar (10-0) afgereken.

“Die vroue het Tuks se naam hooggehou synde ons as klub teen ander lande se nasionale spanne deelgeneem het. Die stewige vertoning teen Frankryk in die finaal is van besondere betekenis omdat hulle net uit beroepspelers bestaan,” het Riaan bygevoeg.

Dié stewige vertoning sal Tuks met groot selfvertroue na Oeganda laat opruk waar hulle vanaf 15 Julie aan ’n internasionale toernooi deelneem. Ook die Springbokke sal daar hul slag wys.

Volgens Riaan was Veronica Malan-Tshwane, Yolanda Meiring en Ilze van Staden Tuks se groot uitblinkers in Reunion.


Bookmark this page: