English |  Afrikaans |    
  
Rugby

Maroela het kroon in sig

Deur Morris Gilbert

Gelaai op 25 Februarie 2009

Petrus du Plessis, Maroela se kaptein.
Petrus du Plessis, Maroela se kaptein.

Maroela, Tuks se verteenwoordiger in die Varsitybeker-koshuisliga, begin Saterdag met hul aanslag op die kampioenskapskroon wat hulle verlede jaar net-net misgeloop.

Maroela se eerste wedstryd is teen die Puk se Over de Voor. Dit vind op Coca-Cola-park in Johannesburg plaas en is die hoofvoorwedstryd vir die Super14-kragmeting tussen die Lions en Bulls.

“Ons het verlede jaar tweede geëindig, wat nie sleg vir die eerste probeerslag was nie. Dié seisoen mik ons egter na die eerste plek omdat ons dié keer presies weet wat om te verwag,” het die afrigter, Etienne van der Merwe, Woensdag gesê.

Volgens hom was dit bemoedigend hoe hard die spelers in die afseisoen gewerk het. ’n Mens kon reeds met die eerste oefening van die seisoen sien dat die spelers groter, sterker en fikser as die ooreenstemmende tyd verlede jaar was. Dit bring mee dat Maroela baie beter as in 2008 voorberei het.

Van der Merwe sê die pasafgelope Lyceum-uitklopliga was deeglike voorbereiding vir die Varsitybeker-reeks.

“Die eindstryd teen Sonop was kliphard en ons moes uithaal om te wen. In dié proses is ook ons kopsfiksheid aan ’n groot vuurdoop onderwerp,” het Van der Merwe bygevoeg.

“Ons sê nooit nee vir ’n eindstrydsege nie, maar besef terselfdertyd dat daar ook ruimte vir verbetering is. Ons het te veel strafskoppe by die afbreekpunte afgestaan en sal hier baie meer akkuraat moet wees,” meen die Maroela-afrigter.



Bookmark this page: