Toe Caster Semenya gedurende die openingseremonie van die 2012 Olimpiese Spele in Londen as die vaandeldraer vir Suid-Afrika gekies is, was dit voorwaar ’n teken van wat vir dié 21-jarige Tukkie-atleet voorgelê het.
Semenya het die 800 m-eindwedloop, soos dikwels vantevore in die huidige seisoen, tussen die agterste hardlopers begin. Sy het egter 200 m voor die wenstreep alles uitgehaal en al die ander atlete, behalwe die voorloper, een na die ander verbygesteek en die wedloop uitstekend in die tweede posisie voltooi om ’n silwermedalje te wen. Alhoewel sy later toegegee het dat sy die wedloop moontlik anders kon benader het, was sy ekstaties oor haar prestasie. "Ek het vandag baie geleer en sal dié kennis gebruik wanneer ek my voorbereidingswerk doen om in 2016 die goue medalje in Rio te verower," was Semenya se kommentaar.
Alhoewel nie al die Tukkie-atlete medaljes gewen het nie, het hulle vir puik vertonings gesorg. Met die uitsondering van Semenya se silwermedalje, was die nuwe Suid-Afrikaanse en Afrikarekord wat deur Marc Mundell in die 50 km-stap opgestel is, die hoogtepunt. Hy het 32ste geëindig en het sy rekord wat hy vroeër vanjaar tydens die Internasionale Amateuratletiekfederasie (IAAF) se Stapbekerbyeenkoms in Saransk opgestel het, verbeter.
Nog ’n hoogtepunt op die atletiekbaan was die vertoning van Lehann Fourie, wat net-net nie daarin kon slaag om die Suid-Afrikaanse rekord vir die 110 m-hekkies te verbeter nie toe hy 0.02 sekondes onder die rekordtyd oor die wenstreep getree het. Hy het, met ’n tyd van 13.28 sekondes, in die halfeindwedloop in die tweede plek geëindig. Alhoewel hy in die eindwedloop sewende was, bestaan daar steeds ’n goeie kans dat hy ná die Spele in Rio ’n medalje huis toe kan bring.
Oscar Pistorius, wat die eer beskore was om tydens die sluitingseremomie die vaandeldraer te wees, het hom in die 400 m-uitdunne goed van sy taak gekwyt en sy tyd van 45.44 sekondes het aan hom ’n plek in die halfeindronde besorg.
Die vyf lede van die 4x400 m-aflosspan sluit drie atlete van Tuks in (LJ van Zyl, Willie de Beer en Oscar Pistorius). Alhowel hulle in die eindwedloop sewende geëindig het, was hul tyd van 3:03.46 die vinnigste wat hierdie seisoen deur ’n Suid-Afrikaanse span aangeteken is.
Die verspringatleet Khotso Mokoena, die enigste Suid-Afrikaner wat tydens die Olimpiese Spele van 2008 in Beijing ’n silwermedalje gewen het, het probleme met sy aanloop ondervind, maar het ten spyte daarvan in die agtste plek geëeindig.
Ons atlete het ’n stewige grondsalg gelê vir selfs beter resultate wanneer hulle ons in 2016 by die Olimpiese Spele in Rio gaan verteenwoordig.