Drie Tuks-atlete in die voorlopige span vir die Londense Olimpiese Spele ingesluit
Deur Danie Cornelius
Gelaai op 06 Junie 2012
Caster Semenya
Met die Suid-Afrikaanse Sportfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) se aankondiging van ’n voorlopige span van 112 lede vir die Olimpiese Spele wat in Julie en Augustus gehou sal word, het die aftelling na die Londense Olimpiese Spele nou in alle erns begin. Dié span sluit die Tuks-atlete LJ van Zyl, Caster Semenya en Marc Mundell in.
Van Zyl en Semenya se keuring berus op hul puik vertonings tydens die IAAF se Wêreldkampioenskaptoernooi wat verlede jaar in Daego, Korea gehou is waartydens albei medaljes verower het, asook die feit dat hulle in die loop van die seisoen aan die vereistes vir kwalifisering voldoen het. Mundell se plek in die span is verseker deur sy uitstaande vertoning toe hy enkele weke gelede tydens die IAAF Wêreldstapkampioenskapbyeenkoms in Saransk, Rusland nie net sy eie SA-rekord verpletter het nie, maar ook die Afrikarekord vir die 50 km-stap verbeter het.
Saskok het aangekondig dat atlete wat nog nie in die span is nie, tot die einde van Junie tyd het om hul name by die finale lys vir die SA Olimpiese span te voeg. Vyf Tuks-atlete wat moontlik op ’n plek in die span aanspraak kan maak, neem tans aan atletiekbyeenkomste in Europa deel. Die finale span sal in Julie aangekondig word.
|
|
|