Die nuwe Direkteur van Navorsing, dr Carol Nonkwelo
Deur Corporate Communication and Marketing
Gelaai op 18 Julie 2012
Dr Carol Nonkwelo
Dit is met groot genoeë dat ons die nuwe Direkteur van Navorsing, dr Carol Nonkwelo, by die Universiteit van Pretoria verwelkom. Dr Nonkwelo beklee sedert die begin van Julie die pos as Direkteur van die Departement Navorsing en Innoveringsondersteuning.
Haar vorige pos was as Programdirekteur vir die Suid-Afrikaanse PhD-projek by die Nasionale Navorsingstigting (NNS) en haar wye relevante ervaring sal van groot waarde wees in haar nuwe pos. Sy was vroeër ook die Programbestuurder by Navorsings- en Ontwikkelingsbefondsing by die Departement van Wetenskap en Tegnologie se Innoveringsfonds (IF) en Waarnemende Uitvoerende Bestuurder in die Mediese Navorsingsraad se Navorsingsontwikkelingsdirektoraat.
Dr Nonkwelo kom oorspronklik uit die Oos-Kaap en het haar eerste graad by die Rhodes Universiteit verwerf. ’n Meestersgraad in Mediese Mikrobiologie (Long Island University, New York) en ’n PhD in Mikrobiologie (Temple University, Philadelphia) het gevolg, waarna sy ’n nadoktorale genootskap by die St. Jude Children’s Research Hospital in Memphis, Tennessee voltooi het. Die MBA (Universiteit van Kaapstad) wat sy in 2003 verwerf het, het gefokus op maniere waarop kenniswerkers in Suid-Afrika gewerf, gemotiveer en behou kan word.
Dr Nonkwelo sal verantwoordelik wees vir die strategiese, koördinerende en operasionele bestuur van die Departement Navorsing en Innoveringsondersteuning, en spesifiek van dié Departement se rol ten opsigte van die verskaffing van navorsingsondersteuning, nagraadse dienste, akademiese navorsingskontraktering en intellektuele eiendomsbestuur.
Vriendelike groete
Prof SG Burton
Viserektor: Navorsing en Nagraadse Studie
|
|
|