Professor Cheryl de la Rey deur Rhodes-Universiteit vir haar bydrae tot maatskaplike verandering in die land vereer
Deur Nicolize Mulder
Gelaai op 14 Mei 2012
Prof Cheryl de la Rey lewer die vyfde jaarlikse Psychology and Social Change Project Award-rede as gas van die Departement Sielkunde van Rhodes-Universiteit.
In ’n toespraak by Rhodes-Universiteit in Grahamstad het prof Cheryl de la Rey, Visekanselier en Rektor van die Universiteit van Pretoria, die aard en rol van sielkunde in Suid-Afrika se hoëronderwysinstellings en die samelewing in die algemeen onder die loep geneem. Sy het ’n oproep gedoen vir ’n nuwe benadering in die dissipline om die probleme wat miljoene Suid-Afrikaners ervaar, beter aan te spreek.
Prof De la Rey is vanjaar se ontvanger van die jaarlikse Psychology and Social Change Project-toekenning van die Departement Sielkunde van Rhodes-Universiteit, wat verlede week in Grahamstad aan haar toegeken is. By die geleentheid het sy die vyfde jaarlikse Psychology and Social Change Project Award-rede gelewer as gas van die Departement Sielkunde van Rhodes-Universiteit.
Hierdie toekenning word aan vooraanstaande lede van die sielkundegemeenskap in Suid-Afrika gemaak wat nie gebonde is aan die tradisionele perke van die dissipline nie, en wat deur hul intellektuele, professionele en persoonlike werk ’n bydrae tot maatskaplike verandering in die land lewer. Diegene wat met die toekenning bekroon is, word as rolmodelle vir sielkundestudente beskou wat hulle aanmoedig om diep na te dink oor die rol wat sielkunde kan vervul om maatskaplike verandering beter te begryp en te bevorder. Die Adjunkminister van Hoër Onderwys en Opleiding, professor Hlengiwe Buhle Mkhize, is verlede jaar met die toekenning vereer.
In haar lesing, “Psychology: private – public good?”, het prof De la Rey ’n oorsig van strominge in sielkunde in Suid-Afrika oor die afgelope 40 jaar gegee en oor die huidige debat in die hoër onderwys oor die rol van sielkunde in Suid-Afrika besin. ’n Heersende tema binne die sielkunde is om die relevansie daarvan in ’n land wat gebuk gaan onder wydverspreide ongelykheid, te bevraagteken, het prof De la Rey gesê.
Sy het die gehoor uitgedaag om te besin oor hoe die vraag na meer befondsing vir sielkundekursusse met die geweldige tekortkominge van die land versoen kan word. Sy het daarop gewys dat terwyl daar baie aandag geskenk word aan die privaat voordele van sielkunde vir individue, daar min aandag geskenk word aan die openbare rol wat dit ten bate van die breër gemeenskap kan speel.
“Die vraag op mense se lippe is of sielkunde die sosiopolitieke vraagstukke van die dag aanspreek en of dit op die nasionale prioriteite wat deur die regering gestel word, reageer” het sy gesê.
Die soeke na ’n beter begrip van die relevansie van die dissipline het aanleiding gegee tot ’n oorheersende rol op die gebied van toegepaste sielkunde, wat prof De la Rey beskryf het as bestaande uit “nie veel meer as beskrywings van individuele lewens nie”.
Hierdie benadering gee aanleiding tot ’n relatiewe gebrek aan teorie-gebaseerde navorsing en is geneig om te konsentreer op die individu as die primêre eenheid van ontleding, met die gevolg dat die sentrale fokus van die dissipline steeds die privaat aspekte van sielkunde is. Die gevolg hiervan, aldus prof De la Rey, is ’n tekort aan sielkundige vakliteratuur en ontledings wat toegerus is om problematiese aspekte van die Suid-Afrikaanse samelewing te konfronteer.Voorts het sy gesê: “Ons moet verder gaan as blote beskrywing en navorsing lewer wat binêre denke aftakel. Ons moet ’n benadering ontwikkel wat toegepaste en basiese navorsing, teorie en praktyk, individu en gemeenskap, en die privaat en openbare domeine kombineer ten einde die uitdagings waarmee ons in ons land te kampe het, die hoof te bied.”
Volgens prof Michael Guilfoyle, Hoof van die Departement Sielkunde van Rhodes-Universiteit, gaan prof De la Rey voort om ons uit te daag om ons begrip van sielkunde te verdiep in die postapartheid Suid-Afrikaanse sowel as die globale konteks.
“Haar werk word onderskraag deur ’n oorkoepelende perspektief. Sy is ’n leier waarop sielkundiges trots kan wees,” het hy bygevoeg.
Prof De la Rey het verskeie boeke en artikels in vaktydskrifte oor sielkunde gepubliseer. Sy het ’n aansienlike bydrae tot gender-aangeleenthede, leierskap en hoëronderwysbeleid gelewer. Sy is lid van etlike nasionale komitees en beklee leierskapsposisies, onder andere as lid van die strategiese en beplanningskomitee van die Internasionale Raad vir Wetenskap (International Council for Science – ICSU).
|