LUR vir Onderwys ontvang haar nagraadse kwalifikasie aan die Universiteit van Pretoria
Deur Nicolize Mulder
Gelaai op 20 April 2012
Me Reginah Mhaule, LUR vir Onderwys in Mpumalanga, ontvang haar Meestersgraad in Publieke Administrasie.
Die LUR vir Onderwys in Mpumalanga, me Reginah Mhaule, was die afgelope week een van duisende trotse graduandi wat deel van UP se herfspromosieplegtigheid was.
Me Mhaule het Woensdagmiddag ‘n meestersgraad in Publieke Administrasie in die Rembrandtsaal op die LC de Villiers-sportkampus ontvang. Volgens haar was harde werk, toewyding en ’n liefde vir boeke die aansporing vir hierdie prestasie, wat sy ten spyte van haar vol program behaal het.
“Dit is net reg dat ons, wat die bewaarders van onderwys en die leiers van die lewenslange leerproses is, deur ons voorbeeld sal lei. Niks kan iemand keer om sy of haar drome te bereik as die persoon die nodige wilskrag en toewyding aan die dag lê om sukses te behaal nie. My enigste wens is dat hierdie prestasie ons jeug sal inspireer om gebruik te maak van die geleenthede wat opvoeding bied en om waardering daarvoor te hê dat Suid-Afrika inderdaad propvol geleenthede is,” het sy opgemerk.
Me Mhaule het in 1990 haar Sekondêre Onderwysersdiploma aan die Mgwenya-Onderwyskollege behaal, in 1966 ’n Baccalaureus-graad aan Unisa, in 1997 ’n verdere diploma in onderwys, in 2002 ’n BEd(Hons) aan die Universiteit van Potchefstroom en in 2008 ’n kursus in projek- en programbestuur aan die Universiteit van Johannesburg voltooi.
Sy het op ’n hele paar progressiewe liggame gedien, soos SADOU, SALGA en plaaslike regerings, waar sy ook ’n speaker en van 2003 tot 2006 die uitvoerende burgemeester was. Sy is tans lid van die ANC se Provinsiale Uitvoerende Komitee, lid van die ANC se Provinsiale Werkskomitee en natuurlik ook Lid van die Uitvoerende Raad.
|