English |  Afrikaans |    
  
Fakulteit Regsgeleerdheid

TuksRegte Alumni


Prof dr Nico van der Merwe word met sy 80ste verjaarsdag by TuksRegte vereer

deur prof Kobus van Rooyen

Die Fakulteit Regsgeleerdheid het op Vrydag, 1 Junie 2012, twee unieke stappe gedoen: prof Nico van der Merwe, wat vanaf 1960 tot 1965 die Hoof van die Departement Privaatreg by Tukkies was, is met 'n noenmaal en 'n spesiale huldeblykbundel vereer.

Die lywige bundel is saamgestel uit briewe wat 25 studente uit daardie tydperk aan prof Nico geskryf het oor sy rol in hul lewens en loopbane. Profs Kobus van Rooyen (voormalige Hoof van Strafreg aan UP vir 30 jaar), Fanie van Jaarsveld (Voormalige Hoof van Handelsreg en Arbeidsreg aan UP vir meer as 30 jaar) en George Barrie (voormalige Dekaan van die UJ Regsfakulteit) was die redaksielede en die Dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid, prof André Boraine, was die gasheer by die noenmaal.

Prof Nico se oudstudente was dit eens dat hierdie briljante dosent, wat ná sy vyf jaar aan Tukkies vir 30 jaar Justisiekollege tot 'n invloedryke eenheid saamgesnoer het, 'n onuitwisbare invloed op hulle en die Suid-Afrikaanse reg gehad het. Verder, dat prof Van der Merwe deur sy briljante onderrig hulle almal geïnspireer het om weg te beweeg van die kasuïstiese benadering tot die reg, na 'n beginselbenadering.  Dit het uiteindelik tot helderheid, geregtigheid en toeganklikheid tot die reg bygedra. Die beginselbenadering het 'n omwenteling in die Suid-Afrikaanse reg meegebring wat selfs teenstanders daarvan, soos prof Boberg van Wits, beweeg het om later te erken dat hy self prof Van der Merwe se benadering ter oplossing van verskeie probleme rondom die onregmatige daad aangeneem en daarna gepropageer het.

Prof Nico het vir 30 minute die gaste in 'n sprankelende lesing tydens die noenmaal weer geïnspireer. Sy humor was deurspek met juridiese kwinkslae waarvoor hy aan die einde luide applous ontvang het. 

Prof George Barrie (finalejaarstudent in 1963 en latere Dekaan van RAU) het hoogtepunte uit Nico se klasse op treffende wyse tydens 'n heildronk opgesom en die gehoor laat terugdink aan die inspirerende klasse wat hierdie briljante Matie (met ‘n 95% gemiddeld!) in die sestigerjare aan UP gelewer het.

Oudkollegas van Justisiekollege, prof Dawie de Villiers en dr Jan D’Oliveira het ook die geleentheid bygewoon.  Oudkollegas Len Dekker, Johan Kok en Oscar Schrenk het ook bydraes tot die bundel gemaak.

Prof Boraine het sy inleiding tot die bundel afgesluit met dié woorde, waarmee almal saamgestem het: 
Salute Magister!