English |  Afrikaans |    
  
UP Regskliniek Tuisblad

Akademiese Program - Praktiese Regskunde (PRR 400)


Die UP Regskliniek kan 'n maksimum van 100 studente elke jaar akkomodeer. Voordat die studente kan inskryf vir Praktiese Regskunde (PRR 400), moet hulle `n kort CV en `n persoonlike profiel indien waarin hulle vorige werkservaring (bv. vakansiewerk), spesifieke vaardighede (bv. taalvaardighede), belangstellings en loopbaandoelwitte uiteengesit word. Applikante word dan individueel vir onderhoude genooi.

Gedurende hierdie onderhoude word die kliniek se misie en doelstelling aan die voornemende studente gekommunikeer, sowel as die eise en verantwoordelikhede wat gepaard gaan daarmee om met "regte kliente" (eerder as simulasies) te werk. Hy/sy word ook gedurende die eerste ontmoeting aangemoedig om na te dink oor sy/haar verwagtinge van die vak om dit dan met die ander studente en kliniek personeel te deel.

Na die individuele onderhoude word die eerste ontmoeting met studente gebruik om hulle te betrek in `n gesprek rakende die leeruitkomste wat die studente en kliniekpersoneel wou bereik. Vir die meeste studente is hierdie alreeds `n leerervaring in onderhandeling en die stel van doelwitte.

Gedurende `n tweede ontmoeting word studente gekonfronteer met die konsepte van groepwerk soos dit in die kliniek beoefen word en studente word versoek om groepe te vorm wat geslags- en kulturele- diversiteit weerspieel. Die rede vir die vereiste word aan die studente verduidelik en `n rooster word opgestel wanneer welke studentegroepe in die kliniek moet werk.

Studente, onder die toesig van prokureurs, neem deel aan opleidings-simulasies voordat hulle hulle eerste "regte" kliente ontmoet. Hierdie simulasies gebeur tydens `n intensiewe twee-dag lange orientasie-werkswinkel.

Praktiese Regskunde 410 is `n keusevak wat finalejaar LLB studente kan neem. Dit dra volle akademiese krediet en vind plaas in die eerste semester. Die vak bestaan uit:
 
'n Aanvanklike, intensiewe tweedag-werkswinkel wat weg van die kampus gehou word en waar studente leer van kliënt-georiënteerde konsultasies en -berading, diversiteit, gelykheid en onderhandelingsvaardighede;


Photo by/Foto deur Lourens Grové
  • `n Klaskamer komponent van een uur per week waartydens die dosent met die hele groep studente ontmoet en deur verskeie media en metodologiee onderrig gee in subtantiewe en prosedurele reg, sowel as vaardighede en waardes;
  • `n Praktiese komponent waar studente (aanvanklik in groepe, later in pare en uiteindelik alleen) met kliënte konsulteer, advies gee, gesamentlike navorsing oor die reg en die feite doen met die oog op probleemoplossing, briewe, kennisgewings en pleitstukke opstel, met ander partye en regsverteenwoordigers onderhandel en vaardighede leer op beide teoretiese en praktiese vlakke. Die vaardighede sluit alles in vanaf hoe om `n lêer te open of sluit tot hoe om `n saak te bestuur. Dit word alles gedoen onder die toesig van kliniekprokureurs wat deurentyds terugvoer aan die studente gee.
Praktiese Regskunde 420 is `n keusevak wat gedurende die tweede semester plaasvind. `n Voorvereiste vir die vak is dat die student Praktiese Regskunde 410 eers moes slaag. PRR 420 dra ook volle akademiese krediet en die vak se struktuur is dieselfde as die van Praktiese Regskunde 410.

Innoverende assesseringmetodologieë word gevolg en die volle reeks vaardighede word assesseer.

`n Portfolio word geskep van al die student of die groep se werk en bestaan uit:
  • `n Versameling van die kliente-lêers waarop die student gewerk het en wat voorbeelde bevat van die voltooide aansoek- en vrywaringsvorms, konsultasienotas, korrespondensie, pleitstukke, ens.;
  • Ervarings en aktiwiteite onderneem terwyl `n kandidaat-prokureur vir `n dag gevolg is;
  • Die algemene dag-tot-dag deelname en werk van die student in die kliniek;
  • Self-assessering, assessering deur personeel, eksterne assessering, portuurgroep-assesering en assesering deur die kliniek se kliente;
  • Gereelde toetse en take wat op die weeklikse lesings baseer is;
  • `n Opstel oor `n aktuele kwessie of bewys van ekstensiewe navorsing deur die student gedoen rakende `n leer waarop die student werk;
  • `n Mondelinge eksamen voor kliniek-personeel en praktisyns uit privaatpraktyk.  
Die Kliniek streef daarna om 360 grade evaluering van die student te bereik deur al die rolspelers so in die proses in te span.

Ons poog voortdurend om die vakke te verbeter. Die kliniese regsopleiding-huis bestaan huidiglik uit drie konsultasiekmaers en `n goed toegeruste rekenaarsentrum. Ons is ook in die proses om `n observasiekamer met `n eenrigtingspieel op te stel, wat ons in staat sal stel om studente se ontwikkeling in konsultasie-vaardighede te evalueer.

Studente wat wil aansoek doen vir toelating tot die vakke PRR 410 en PRR 420 kan aansoekvorms vind by die skakel "PRR 410 en 420 Aansoekvorms".