Toekenning vir die beste eerste gepubliseerde artikel
Deur Sonja van der Waldt
Gelaai op 19 Oktober 2011
Dr Ruthira Naraidoo, 'n senior lektor van die Department Ekonomie, het die JJI Middleton-toekenning vir die beste eerste gepubliseerde artikel ontvang.
Die raad van die Ekonomiese Vereniging van Suid-Afrika het dr Naraidoo vereer vir sy artikel Vicious and victorious circles – the political economy of unemployment, wat in die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Ekonomie gepubliseer is.
Dr Naraidoo het sy akademiese loopbaan in 1999 as navorsingsgenoot van die Departement Ekonomie by die Cardiff Business School in die VK begin. In 2005 is hy as ’n dosent in Ekonomie van die School of Economic and Management Studies by Keele Universiteit in die VK aangestel. Hy het ook Ekonomie by die Universiteit van Nottingham Ningbo in China gedoseer, voordat hy ’n pos in die Departement Ekonomie by die Universiteit van Pretoria opgeneem het.
In 1997 het hy ’n BSc (Ekonomie)-graad van die Universiteit van Mauritius ontvang, waarna ’n MSc (Internasionale Ekonomie, Bankwese en Finansies)-graad en ’n PhD (Ekonomie)-graad van die Cardiff Business School aan hom toegeken is.
Dr Naraidoo se primêre navorsingsbelangstellings is toegepaste makro-ekonomiese teorie en beleid, tydreeks-ekonometrie en arbeidsekonomie, terwyl sy sekondêre navoringsbelangstellings politieke ekonomie, internasionale makro-ekonomie en finansiële ekonomie insluit. Hy doseer makro-ekonomie, besigheidsekonomie, beginsels van ekonomie, en statistiek vir ekonomie en finansies, om maar ’n paar te noem, op voorgraadse asook nagraadse vlak.
Nodeloos om te sê, het hy ook talle publikasies in dieselfde velde.
|