Algemene vrae
Wie behoort aansoek te doen vir etiese klaring?
Alle personeellede en studente (voorgraads en nagraads) van die Universiteit van Pretoria moet aansoek doen om etiese klaring indien hulle navorsing wil doen.
Ek is 'n voorgraadse student en ek neem 'n module wat vereis dat ek 'n navorsingsprojek moet doen, hoe moet ek aansoek doen om etiese klaring?
Jou kursus koordineerder of die aanbieder van die module het die verantwoordelikheid om te verseker dat studente wat navorsing moet doen as deel van die vereistes vir 'n spesifieke module etiese klaring het vir die navorsingsprojek.
Kan ek voortgaan met my navorsing terwyl ek wag vir etiese klaring?
Nee. Die Fakulteit Opvoedkunde se Etiekkomitee moet jou van 'n etiese klaringsbewys voorsien voordat jy mag voortgaan met veldwerk wat data-insameling insluit. Die indiening van 'n aansoek vir etiese klaring is nie voldoende om met data insameling te begin nie. Aansoeke vir etiese klaring wat ingedien word nadat data insameling reeds begin het sal nie aanvaar word of evalueer word nie.
Waar kry ek 'n aansoekvorm?
Jy kan die aansoekvorm op hierdie webbladsy aflaai en jy kan ook die gids vir die voltooiing van die aansoek hier vind. Onvoltooide aansoekvorms sal nie vir evaluering aanvaar word nie.
Wie kan my help om my aansoek om etiese klaring te voltooi?
Voorgraadse studente wat etiese klaring moet verkry moet deur hulle module aanbieders gehelp word. Indien 'n voorgraadse student navorsing moet doen as deel van die vereistes van 'n module, is dit primêr die module aanbieder se verantwoordelikheid om etiese klaring te verkry. Wanneer nagraadse studente aansoek doen vir etiese klaring, moet hulle die aansoek voltooi waarna hulle dit met hulle akademiese studieleiers neem vir bespreking, wat dan verantwoordelikheid neem om die student te lei in terme van etiese kwessies en toesien dat die aansoek akkuraat is. Die studieleier is ook mede-verantwoordelik vir die etiese standaarde van die studie.
Wat kan ek van my studieleier verwag?
Volgens die Universiteit van Pretoria se Etiese Kode vir Navorsing is akademiese studieleiers verantwoordelik daarvoor om 'n opleidingskonteks te voorsien waarin sake oor etiese waardes vrylik bespreek kan word. Verder is elke dosent verantwoordelik vir die vestiging van etiese beginsels onder studente en die navorsingspersoneel onder sy/haar supervisie. 'n Inleiding tot die konsepte en beginsels van navorsingsetiek moet deel vorm van die orientasie van alle nagraadse studente. Studieleiers en projekleiers moet ook as rolmodelle dien vir studente ten opsigte van die manier waarop navorsing uitgevoer word.
Wat beteken dit om 'n aansoek vir etiese klaring te laat evalueer?
Wanneer jy 'n aansoek vir etiese klaring indien, word dit op 'n Etiekkomitee vergadering aan twee evalueerders gegee. Evalueerders kry een maand om die aansoek sorgvuldig deur te lees en terugvoer aan die Etiekkomitee te verskaf op die volgende vergadering. Nadat die evaluerings van beide evalueerders bespreek is, word 'n besluit geneem om die aansoek goed te keur of om wysigings te versoek. Indien jou aansoek wysigings vereis, sal jy dit moet aanspreek tot die Etiekkomitee se tevredenheid en jou aansoek weer indien. Indien jou aansoek goedgekeur word, sal jy via epos in kennis gestel word dat jy suksesvol was en 'n etiese klaringsbewys sal aan jou gegee word.
Hoe lank is my etiese klaringsbewys geldig?
'n Etiese klaringsbewys is geldig vir 1 jaar in die geval van Honneurs studies, 2 jaar in die geval van Meesters studies, en 3 jaar in die geval van doktorale studies. Etiese klaringsbewyse vir personneellede is geldig vir die duur van die betrokke navorsingsprojek. Etiese klaringsbewyse vir voorgraadse navorsingsprojekte is geldig so lank die module aangebied word en die studie onveranderd bly.
Hoe lank neem dit?
'n Aansoek vir etiese klaring kan 'n ruk neem. Die Etiekkomitee aanvaar nie aansoeke direk van applikante nie, maar slegs van die Departementele Etiek Verteenwoordiger (DEV) wat die aansoek eers deurgaan vir akkuraatheid en volledigheid. DEV's moet aansoeke vanuit hulle departement ten minste een week voor 'n Etiekkomitee vergadering indien en die DEV mag hulle eie interne keerdatums vasstel. Die evalueringsproses kan een maand neem en afhangende van die resultaat, moet 'n aansoek dalk weer ingedien word. Dus kan jy verwag dat die aansoek 'n minimum van 2 maande kan neem vanaf die tyd wat dit ingedien is.
Watter vorms moet by my aansoek vir etiese klaring aangeheg wees?
Jou aansoekvorm moet vergesel wees van 'n (1) persoonlike verklaring van verantwoordelikheid geteken deur die applikant en studieleier, sowel as alle navorsingsassistente/werkers wat op die projek gaan werk, (2) vraelyste/observasieskedules/onderhoudskedules indien dit gebruik gaan word, (3) 'n kopie van die formele toestemming soos gegee deur 'n provinsiale departement van onderwys indien die navorsing in 'n publieke skool gaan plaasvind, (4) 'n kopie van die formele toestemming soos gegee deur 'n publieke skool of, indien by 'n private skool, die skool se direksie, (5) ongetekende voorbeelde van voorgestelde briewe van ingeligde toestemming op 'n UP briefhoof en geteken deur die applikant en die studieleier.
Waarom moet briewe van ingeligte toestemming op 'n UP briefhoof verskyn?
Wanneer jy navorsing doen, word jy geassosieer met die Universiteit van Pretoria en die data wat jy insamel word die eiendom van die Universiteit sodra jy jou navorsing en jou formele graad voltooi het. Byvoorbeeld, voordat jy jou skripsie/tesis inhandig, moet jy al jou rou data aan jou studieleier of aan die Departementshoof oorhandig. Om hierdie redes, wil die Universiteit van Pretoria hoë professionele en etiese standaarde verseker sover dit navorsingsaktiwiteite wat met die Universiteit van Pretoria geassosieer word.
|