University of Pretoria Logo
English |  Afrikaans |    
  
High Performance Centre

Atletiek Akademie & TuksSport Skool

Deur Wilhelm de Swardt

Gelaai op 22 Januarie 2009



Tuks se atletiekklub en die kunidges van die High Performance Centre (hpc) moet nouer saamwerk om te verseker dat SA-kampioene afgerig word wat medaljes op die Olimpiese Spele en wereldbyeenkomste wen. So meen Hennie Kriel wat van vanjaar af die bestuurder van Tuks se Atletiekklub is.

Kriel het voordat hy weer voltyds as atletiekafrigter begin werk het vir nege jaar as kondisioneringsafrigter van die rugbyspanne van SWD en Blou Bulle gewerk. "Vir my maak dit net sin dat ons as die atletiekklub nouer met die hpc begin saamwerk.

"Die hpc is 'n gevestigde instelling met van die wêreld se beste kundiges. Die foute wat moontlik in sportafrigting en al die ander verwante fassette van sport gemaak kon word, is reeds lankal deur die hpc geïdentifiseer."

"Een van die idees wat ek het, is om met die besluitnemers van die hpc te gesels oor die moontlike uitbreiding van die bestaande Atletiek Akademie. "Ek dink een van die groot foute wat gemaak word, is om atletiek as één sport te beskou. Dit is nie heeltemal reg nie.

"Gaan dink 'n bietjie na oor atletiek. Mense sal dan besef dat daar reuse verskille in die verskillende atletieknommers is. "Só verskil die oefenprogramme en tegniek van gewigstoters hemelsbreed van byvoorbeeld die van naellopers en middelafstandatlete.

"Daarom twyfel ek nie dat daar 'n werklike behoefte vir verskillende atletiek akademies is nie.

"My voorstel aan die hpc is dat ons aanvanklik met 'n naelloop en 'n middelafstand akademies moet begin, want dit is die nommers waarin swart atlete die beste presteer.

"Ek hoop dat ons (Tuks Atletiekklub en hpc) oor drie jaar reeds vyf sulke akademies aan die gang sal hê.

"Wat vir opgewonde oor die akademies maak, is die feit dat dit heeltemal ingeskakel is by die hpc se sportskool. "Ek is groot voorstander dat jong atlete 'n gebalanseerde opleiding ontvang. Dit mag nooit net alles oor sport gaan nie, want daar is geen waarborg dat elke jong atleet eendag 'n internasionale kampioen gaan word nie.

"Die feit dat al die atlete van die akademies ook by die sportskool onderrig ontvang beteken dat as hul sportloopbaan dalk nie realiseer nie, het die kinders ten minste 'n ordentlike matriek agter hul naam.

"Ek weet ook dat daar noue bande tussen die sportskool en die Universiteit van Pretoria bestaan. Dit is nog voordeel om by die sportskool onderrig te ontvang."

Tuks se sportskool is 'n privaat skool wat die Gauteng Departement van Onderwys se leerplan volg. Hoewel die onderrig in Engels geskied, doen die onderwysers moeite om Afrikaanssprekende kinders te help wanneer dit nodig sou wees. Nog 'n voordeel van Tuks se sportskool is dat jong talentvolle sportlui meer tyd het om hul sport te beoefen en daar toegesien word dat hulle ordentlik rus na 'n harde kompetisie of oefensessie. Daar is deurgans ook noue samewerking tussen die onderskeie afrigters en onderwysers om te verseker dat die leerlinge hul studie sowel as sportverpligtinge behoorlik nakom.

Die feit dat verlede jaar se matrieks 'n 100% slaagsyfer behaal het, is bewys dat dinge werk.

Die jong sportlui van die skool word deur die sportwetenskaplikes, dieëtkundiges, biokinetici, fisioterapeute en sportsielkundiges van die hpc bygestaan.

Ouers wat belangstel om hul kinders by die skool in te skryf kan Hettie de Villiers by 012-343-4501 bel om uit te vind wat die keuringsvereistes is.

Bookmark this page: