’n Gesellige gesprek met mev Mary Robinson
Deur Norman Taku - Centre for Human Rights
Gelaai op 08 Augustus 2012
Die personeel van die Sentrum vir Menseregte voel beide geëerd en verheug dat hulle die geleentheid kon hê om op 7 Augustus 2012 as gashere op te tree tydens ’n onvergeetlike intieme gesprek met mev Robinson in die Oordenkingsruimte (“Sanctuary Room”), met sy uitsig op die Ewige Vlam by Vryheidspark in Pretoria.
Mev Mary Robinson is ’n Buitengewone Professor in die Sentrum vir Menseregte en die Sentrum vir die Studie van Vigs by die Universiteit van Pretoria.
Dit was inderdaad ’n baie spesiale geleentheid: Die doel van mev Robinson se huidige besoek aan Suid-Afrika was om die 10de Lesing van die Nelson Mandela-stigting, wat drie dae voor ons gesprek in die Kaapstadse Stadsaal plaasgevind het, aan te bied. Dit is die plek waar mnr Mandela sy eerste toespraak gelewer het nadat hy op 11 Februarie 1990 uit die tronk vrygelaat is.
Mev Robinson het ons voor haar vertrek na Suid-Afrika ingelig dat sy ons graag wou besoek, wat getuig van haar lojaliteit teenoor ons twee sentrums en haar passie vir jong kampvegters vir menseregte. Die voorstel dat die geleentheid die vorm van ’n intieme “gesprek voor die kaggel” moes aanneem, het onmiddellik byval gevind en daar is besluit dat Vryheidspark die ideale plek vir ’n ontmoeting tussen ’n wêreldleier op die gebied van menseregte en ’n groep jong professionele persone en voornemende kampvegters sou wees. Met die gehoor aan haar voete het die “Oudste”, mev Robinson, eers ’n halfuur lank oor haar kinderjare, haar opvoeding en haar beroep gesels.
Norman Taku, Assistentdirekteur, Sentrum vir Menseregte, UP, Pierre Brouard, Adjunkdirekteur, Sentrum vir die Studie van Vigs, Mary Robinson, Buitengewone Professor, SMR en SSV, UP, en Asha Ramgobin, Direkteur, Instituut vir Menseregte en Ontwikkeling (IMO)
Mev Robinson was die middelkind en die enigste dogter tussen vier seuns; dus het haar stryd om gelykheid en menseregte vroeg begin! Nadat sy haar regstudie aan Trinity College in Dublin voltooi het, is sy gedurende die tyd toe die oorlog in Viëtnam gewoed het na Harvard-universiteit, waar sy met nuwe idees kennis gemaak het. Ná haar terugkeer na Ierland, waar jongmense veronderstel was om ingetoë te wees en nie gesien of gehoor te word nie, het sy haar met “Harvard-nederigheid” (volgens die man met wie sy later sou trou), toewyding en selfvertroue vir menseregte begin beywer. In die vroeë 1970’s is sy op 26-jarige ouderdom tot die Senaat verkies, waar sy opspraak verwek het toe sy verklaar het dat sy ten gunste was van gesinsbeplanning in Ierland, ’n oorwegend Katolieke land.
Sy het oor haar verkiesing tot President van Ierland gesels en vertel wat dit vir haar beteken het om die eerste staatshoof te wees wat Rwanda ná die menseslagting in dié land besoek het. Die uitdagings wat sy as die VN se tweede Hoëkommissaris vir Menseregte die hoof moes bied, is goed bekend. Sedertdien was sy aktief betrokke op talle gebiede en het sy onder die beskerming van baie organisasies opgetree. Haar mees onlangse prestasie was die totstandbrenging van die Mary Robinson-stigting – Klimaatsgeregtigheid (MRFCJ).
Haar sterk persoonlikheid en teenwoordigheid het verseker dat die gehoor aandagtig na elke woord geluister het. Die staaltjies wat sy vertel het, het hulle dikwels laat skaterlag en haar vertellinge oor haar lewe en ervaringe was besielend. Dit was egter duidelik dat sy veral die tweede helfte van die aand geniet het toe sy vrae kon beantwoord oor alles van politieke onderdrukking en transnasionale korporatiewe verantwoordelikheid tot die verband tussen MIV/Vigs en klimaatsverandering. Deur uit haar eie lewenserevaringe en glansryke loopbaan te put, kon sy sinvolle voorstelle maak oor hoe beduidende verandering teweeggebring kan word. Sy het die jongmense herhaaldelik aangemoedig om al die indrukwekkende sosiale mediawerktuie wat hulle tot hul beskikking het te gebruik om menseregteskendings op te spoor en bekend te maak, en om deur middel van publisiteit op aanspreekikheid aan te dring.
Onder die Bemba van Zambië is daar ’n uitdrukking wat lui: “Hy wat die woud binnegaan, draai nie om wanneer hy die takke hoor kraak nie.” In mev Robinson se geval is openbare diens en menseregte die woud wat sy baie jare gelede binnegegaan het en, ten spyte van die baie takke wat sy hoor kraak het, het sy aanhou loop. Baie van die mense wat op dié aand in die gehoor was, staan by die rand van die woud of het alreeds die eerste treë op die pad daardeur gegee. Haar gedagtes en voorstelle sal handig te pas kom wanneer hulle te staan kom voor die blywende uitdaging om menseregte vir almal te verseker.
Dit was ’n uitmuntende aand. As gashere was ons, soos altyd, op ons stukke, waarvoor ons ons opregte dank wil uitspreek teenoor Carole Viljoen en Eric Lwanga, wat al die nodige reëlings getref het om te verseker dat die byeenkoms net so besonders (selfs vir ons) as betowerend was. Die spyseniering was uitstaande, die dekor werklik uniek en die bywoning honderd persent. Dankie Eric en Carole dat julle weer eens die Sentrum se vaandel hoog laat wapper het.
Beste mev Robinson, dankie vir die voorreg om u gashere te kon wees.
|