University of Pretoria Logo
English |  Afrikaans |    
  
UP Regskliniek Tuisblad

Kliniese regsopleiding

 


Wat is kliniese regsopleiding?

 

Praktiese regskunde streef daarna om die teorie en praktyk binne die LLB-kurrikulum te integreer deur van kliniese metodologie gebruik te maak om aan studente substantiewe en prosesreg en vaardighede te leer. Dit word hoofsaaklik gedoen deur die lewering van regsdienste aan behoeftige persone ten einde hul toegang tot geregtigheid te bevorder en by die student ’n verbintenis aan te kweek tot die bou van ’n samelewing wat op demokratiese waardes, maatskaplike geregtigheid en fundamentele menseregte gegrond is.

 

Kliniese regsopleiding kan as ’n metodologie en ’n gebied van kundige ondersoek, dws as ’n vak, of vanuit ’n breër filosofiese perspektief beskou word.

 

As ’n metodologie maak dit gebruik van die regspraktyk (gesimuleer of werklik) as ’n konteks waarin onderrig verskaf word in substantiewe en prosesreg, etiek, professionele vaardighede, doeltreffende interpersoonlike verhoudinge en die vermoë om die reg, feite en prosedure te integreer.

 

As ’n vakgebied is dit die studie van wat prokureurs in die praktyk doen.

 

As ’n filosofie streef dit daarna om institusionele regsopleiding te verander en te herstruktureer ten einde ’n filosofie oor die rol van prokureurs in die samelewing daar te stel:

 

‘Om sigbare modelle te skep van geregtigheid in aksie, om ’n verbintenis te toon tot die verwesenliking van geregtigheid, en om teen ongeregtigheid op te tree deur regstudente te leer dat welvarende prokureurs ’n verantwoordelikheid het om regverdigheid in gemeenskappe te fasiliteer.’



 2014 Studentegroep (Foto deur Lourens Grové)

 


Wie baat by die integrasie van kliniese regsopleiding en gemeenskapsdiens?

 


Regstudente baat daarby, aangesien hulle

·         regs-, oordraagbare en persoonlike vaardighede aanleer;

·         hul kennis van regsreëls en -prosesse in ’n lewenswerklike situasie ontwikkel;

·         te doen kry met ’n verskeidenheid etiese en praktiese professionele kwessies;

·         ’n geleentheid kry om hul teoretiese kennis op ’n geïntegreerde wyse in ’n werkkonteks toe te pas;

·         selfvertroue ontwikkel; en

·         bewus word van die stryd wat armes voer, en van wyer maatskaplike probleme en hoe dit met regsprobleme verband hou.

 

Die Fakulteit Regsgeleerdheid, en dus die Universiteit, baat daarby deurdat dit

·         onderrig-, leer- en assesseringstrategieë verbeter;

·         geleenthede vir navorsing in konteks bied;

·         skakels met regspraktisyns,die regering en ander diensverskaffers en befondsers ontwikkel;

·         insette van huidige of voormalige kliniese praktisyns bekom;

·         sy profiel in die gemeenskap verhoog; en

·         studente met beter vermoëns, ervaring en waardes bekom.

 

Die gemeenskap baat daarby deurdat

·         hulle beter toegang tot regsdienste verkry;

·         doelwitte wat op nasionale vlak in die nasionale belang gestel is op ’n kliniese vlak omskryf en uitgevoer word; en

·         lede opgelei word deur interaksie met studente en kliniese praktisyns.

 

Die georganiseerde beroep

·         verkry beter studente wat betref hul vermoëns, ervaring en waardes; en

·         verbeter sy beeld deur die verrigting van pro bono-werk en befondsing.

 

Die regeringe en sy regshulpagentskappe

·         word bygestaan in die verwesenliking van kritieke opleidingsuitkomste;

·         ontvang bystand met die verskaffing van regshulp;

·         verkry toegang tot akademiese navorsing;

·         verkry ’n aandeel in die Universiteit se hulpbronne deur middel van vennootskappe; en

·         trek voordeel uit die bevordering van beroepe op die gebied van maatskaplike geregtigheid.