Belangrike skakels en gereelde vrae
Fakulteit-kliëntedienste
Navrae oor finansies en koshuise
012 420 3111
csc@up.ac.za
Fakulteitadministrasie vir voorgraadse studente
Daniel Letsoalo
012 420-3703
daniel.letsoalo@up.ac.za
Fakulteitadministrasie vir nagraadse studente
Petru Woest
012 4203111
Petru.woest@up.ac.za
VERWELKOMINGSDAG EN AKADEMIESE
ORIËNTERINGSWEEK
· Waarom moet ek die program bywoon wat tydens die Akademiese
Oriënteringsweek aangebied word?
Jy gaan relevante inligting en wenke kry wat jou verblyf aan die Universiteit baie gaan
vergemaklik en jou ook geld en tyd mag spaar.
· Jaarboeke (Regulasies en Leerplanne) en Roosterboek
Dit word tydens die Akademiese Oriënteringsweek uitgedeel, soos op die program
aangedui.
· Ek het laat gekom. By watter groep moet ek aansluit en waar kan ek
hierdie groep vind?
Elke student ontvang 'n Akademiese Oriënteringsprogram per slakkepos. (Die program is in
die Verwelkomingsdagprogram ingebind). Indien jy nie een ontvang het nie, kan jy dit by
die Algemene Navrae-toonbanke in die Kliëntedienssentrum (KDS) bekom. Slaan die
inligting van jou groep asook die betrokke lokaal daarin na.
TOELATING
· Mag ek by die Universiteit van Pretoria registreer?
Nuwe studente mag slegs na suksesvolle toelating registreer. Indien voorwaardelike
toelating verleen is, moet jy nog steeds aan die fakulteit waar jy wil registreer, se
vereistes voldoen.
· Ek het nog nie amptelik aansoek gedoen nie. Mag ek 'n laat aansoek
indien?
Voordat jy aansoek doen, kontak eers jou fakulteit se studenteadministrasie om seker te
maak dat plek beskikbaar is. Indien jou studierigting nie 'n keuringsrigting is nie en
indien die fakulteit nog genoegsame kapasiteit het, sal jou aansoek oorweeg
word. Laat aansoeke word slegs aanvaar indien daar ten volle aan die
toelatingsvereistes vir die betrokke graad voldoen word. Indien jy nie aan die vereistes
voldoen nie, sal jou aansoek nie aanvaar word nie. Geen aansoekfooie is terugbetaalbaar
nie.
· Ek het van my Graad 12-vakke laat hermerk en die uitslae gaan eers in
Februarie beskikbaar wees. Mag ek voorlopig registreer?
Nee, die uitslae van die hermerk gaan te laat beskikbaar wees.
· Hoe gaan ek te werk om 'n laat aansoek in te dien?
Nie alle fakulteite aanvaar laat aansoeke nie. Vind eers by die betrokke fakulteit se
studenteadministrasie uit of daar nog plek beskikbaar is. 'n Amptelike aansoekvorm is by
die Algemene Navrae-toonbanke in die Kliëntedienssentrum (KDS) beskikbaar. Die
volledig voltooide vorm moet by die Algemene Navrae-toonbanke in die Kliëntedienssentrum
(KDS), tesame met 'n aansoekfooi van R200,00, ingehandig word. Indien jy
toegelaat word, sal die fakulteit 'n toelatingsbrief sowel as 'n registrasievorm druk en aan
jou gee. Sluit asseblief so gou moontlik met die registrasievorm by jou groep aan
(raadpleeg die rooster in die Oriënteringsprogram.)
· Wanneer gee ek my simbolestaat in?
'n Afskrif van die simbolestaat moet aan jou registrasievorm vasgekram word. Sekere
fakulteite kontroleer reeds op Saterdag 16 Januarie, tydens verwelkomingsdag, die
uitslae op die simbolestaat. Bring dus asseblief jou simbolestaat saam.
· Moet ek my Nasionale Senior Sertifikaat in enige stadium voorle?
Indien jy ‘n voorgraadse student is wat vir die eerste keer by die Universiteit van Pretoria
inskryf, moet jy nie later nie as 13 Julie 2010 jou oorspronklike Nasionale Senior
Sertifikaat by jou fakulteit se studenteadministrasie toon.
· Ek het my simbolestaat tuis vergeet – wat doen ek nou?
Die uitslae word elektronies vanaf die onderskeie Departemente van Onderwys ontvang.
In sodanige gevalle behoort die uitslae op jou registrasievorm gedruk te wees. Indien dit
nie op jou vorm verskyn nie, is dit moontlik nie vanaf die Departement ontvang nie en
moet jy jou ouers versoek om aan jou 'n duplikaat te faks. Jy mag nie registreer
sonder 'n simbolestaat of ‘n oorspronklike Nasionale Senior Sertifikaat nie.
· Volgens my Graad 12-uitslae voldoen ek nie meer aan die minimum
toelatingsvereistes wat die fakulteit stel nie – wat staan my nou te doen?
Jy kan moontlik na 'n ander fakulteit verwys word waar jy wel voldoen. Jy moet egter
nogsteeds aan die minimum toelatingsvereistes van ‘n fakulteit voldoen.
· Ek is voorwaardelik toegelaat, maar my TPT is nou laer – wat staan my te
doen?
Jy kan nie tot die Universiteit toegelaat word indien jou TPT laer as die vereiste syfer vir
die betrokke fakulteit is nie. Indien jy voorwaardelik toegelaat is op grond van jou Graad
11-uitslae, kan jy moontlik ‘n toelatingstoets in Januarie aflê (Fakulteite Regsgeleerdheid
en Ekonomiese en Bestuurswetenskappe uitgesluit) wat kan bepaal of jy toegelaat word
al dan nie. Kontak die KDS in hierdie verband.
· Ek is op grond van my Graad 11-uitslae toegelaat tot ©° graadprogram in
die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappeof in die Fakulteit
Ingenieurswese, Bou-omgewing en Inligtingtegnologie, maar voldoen
nie meer aan die Wiskunde-vereiste nie.
Vier- of vyfjaarprogramme word in beide hierdie fakulteite aangebied, maar studente
moet die Toelatingstoets aflê waarna hulle vir toelating tot hierdie programme oorweeg
kan word. Kontak die persoon aangedui op die oorspronklike toelatingsbrief by jou
fakulteit se studenteadministrasie om uit te vind of jy nog steeds aanvaar sal word.
· Waar kry ek 'n bewys om te bevestig dat ek by die Universiteit
geregistreer het?
Tydens registrasie word 'n bewys van registrasie gedruk en aan jou gegee. Jy moet hierdie
bewys veilig bewaar en slegs afskrifte daarvan aan instansies soos die bank, mediese
skemas, ens voorsien. Jy het hierdie bewys nodig om jou studentekaart te ontvang. 'n Kopie
van hierdie bewys kan teen R20,00 by die KDS verkry word. Jy word aangeraai om
voldoende afskrifte te maak en dit te laat beëdig.
· Ek het nie ‘n Nasionale Senior Sertifikaat met toelating vir graaddoeleindes
nie, maar wil graag by die Universiteit inskryf. Hoe gaan ek te werk?
Aanvaarde studente mag registreer indien hulle in besit is van 'n Nasionale Senior Sertifikaat
en voldoen aan die minimum vereistes vir toelating tot 'n baccalaureusgraad. Indien die
bewoording “voldoen aan die minimum vereistes vir 'n baccalaureusgraad.“ nie op die
sertfikaat gedruk is nie, sal jy nie toegelaat word om by die Universiteit te registreer nie,
behalwe moontlik in die Fakulteit Opvoedkunde. Raadpleeg die Hoof: Studenteadministrasie
in hierdie verband.
· Ek is gekeur vir 'n graadprogram, maar voldoen nie meer aan die
vereistes nie – wat doen ek nou?
Jy mag registreer vir 'n ander graadprogram waarvoor jy wel aan die vereistes voldoen en
wat nie 'n keuringsrigting is nie, mits daar plek beskikbaar is. Jy moet vooraf skriftelike
toestemming verkry van die hoof van die betrokke studenteadministrasie by die fakulteit
waar jy wil registreer. Gebruik egter dieselfde registrasievorm waarop die besonderhede
van die vorige graad gedruk is en bring slegs die wysigings daarop aan. Die Hoof:
Studenteadministrasie se handtekening moet vooraf verkry word. 'n Tweede aansoekvorm
moet onder geen omstandighede voltooi word nie.
· Ek is nie gekeur vir 'n spesifieke rigting (bv Geneeskunde/ Tandheelkunde/
Veeartsenykunde/Fisioterapie) nie. Hoe gaan ek te werk om wel
keuring te verkry?
Daar bestaan 'n moontlikheid om na ses maande toelating te kry. Jy moet vooraf by die
Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe aansoek doen en indien toelating verkry is, neem
jy byvoorbeeld 'n BSc-rigting met die modules wat benodig word om vir keuring in
aanmerking te kom. Jy moet egter vir die korrekte modules inskryf. Indien jy hierdie
modules slaag, kan jy aansoek doen om na die eerste semester weer oorweeg te word. Die
hoof van jou fakulteit se studenteadministrasie, asook die leier tydens die Oriënteringsweek,
kan jou behulpsaam wees met die keuse van modules. Jy moet onthou om vroegtydig, voor
die aanvang van die eerstesemestereksamen, aansoek te doen. Aansoekvorms is
verkrygbaar by die Algemene Navrae-toonbanke in die KDS. Daar is ook ander rigtings wat
aan keuring onderworpe is, bv Argitektuur, Kommunikasiepatologie, ens. Inligting in hierdie
verband kan gedurende die Akademiese Oriënteringsweek verkry word by die spesifieke
groep waar jy moet aanmeld. (Raadpleeg die rooster in die Akademiese
Oriënteringsprogram.)
· Wanneer moet ek aanmeld?
Die inligting (datums en tye van sessies) verskyn in die Akademiese Oriënteringsprogram
wat jy ontvang het.
· Wanneer begin die lesings?
Lesings neem ‘n aanvang op Woensdag 27 Januarie 2010 – behalwe waar anders
vermeld word.
STUDENTE MET SPESIALE BEHOEFTES
(FISIESE EN LEERGESTREMDHEDE)
· Is daar enige hulp vir studente met spesiale behoeftes?
Die Universiteit het ‘n Eenheid vir Studente met Spesiale Behoeftes. Die eenheid vorm
deel van Studenteondersteuning, Studentesakegebou, Kamers 1-19 en 1-20.
Ondersteuning word verleen op akademiese en emosionele vlak.
· Moet ek vooraf enige spesiale reelings tref?
Skakel met dr GM Nolte by 012 420 4002; e-pos: madeleine.nolte@up.ac.za of
mnr ZW Mahlangu by 012 420 2582; e-pos: simon.mahlangu@up.ac.za of mnr J Erwee
by 012 420 4281; e-pos: juan.erwee@up.ac.za.
STUDENTEONDERSTEUNING
Studenteondersteuning bied verskeie ondersteuningsdienste aan studente. Die dienste
sluit in
- akademiese ontwikkeling (beroepsvoorligting, studiemetodes en leeskursusse,
streshantering, tydsbeplanning, beroepsvoorbereiding);
- potensiaalontwikkeling (konflikhantering, kommunikasievaardighede, doelwitstelling,
probleemoplossing); en
- individuele en verhoudingsterapie (verhoudings, interpersoonlike probleme,
stres, depressie, eetversteurings, lewenstrauma, emosionele probleme en
ontwikkeling van lewensvaardighede).
Kontak me R Paul by 012 420 2333, e-pos: ria.paul@up.ac.za of besoek hulle in die
Studentesakegebou, Kamer 2-13.
Buiten die bogenoemde dienste wat deur Studenteondersteuning gebied word, is daar
ook ‘n 24-uur Krisisdiens. Skakel 012 420 2310 of tolvry 0800 006 428 om met ‘n berader
te praat.
INTERNASIONALE STUDENTE
· Moet ek ook die Akademiese Orienteringsweek bywoon?
Voor die algemene Akademiese Oriënteringsweek vir alle nuwe studente aan die
Universiteit, sal ‘n spesiale oriënteringsprogram vanaf 13 tot 15 Januarie 2010 vir nuwe
internasionale studente deur die personeel van die Kantoor vir Internasionale Studente in
die KDS aangebied word. Die oriënteringsprogram en ander relevante inligting sal aan jou
gestuur word.
· Ek het plek in ‘n Universiteitskoshuis – wanneer sal ek toegelaat word
om in te trek?
Internasionale studente wat reeds koshuisverblyf verkry het, sal toegelaat word
om in die koshuis in te trek voordat hulle die spesiale oriënteringsprogram bywoon.
Datums: 8 tot 11 Januarie 2010, 08:00 – 16:00.
Studente wat nie gedurende bogenoemde tye kan intrek nie, moet Kampussekuriteit
skakel by +27 012 420 2310 om die nodige reëlings te tref.
· Heffing vir internasionale studente
Internasionale studente, met die uitsondering van studente van die SAOG-lande en
nagraadse studente wat registreer vir navorsingsgerigte meestersgraad- en doktorale
programme, sal dubbel die normale studiegelde betaal.
Alle internasionale studente moet, bo en behalwe die normale heffings, jaarliks 'n
internasionale administrasieheffing van R2 000,00 betaal. Hierdie bedrag is tesame met
die voorgeskrewe aanvangsbetalings voor registrasie betaalbaar deur studente wat tot
die Universiteit van Pretoria toegelaat is en wil registreer.
· Mediese versekering
Die Immigrasiewet, seksie 13, vereis dat alle internasionale studente in Suid-Afrika oor
voldoende mediese dekking beskik. Studente sal nie toegelaat word om te registreer
sonder bewys van voldoende mediese versekering nie. Die Universiteit van
Pretoria bied BESTMed Mediese Sorg en Versekering aan internasionale studente.
Lidmaatskap van ‘n mediese skema moet by die Internasionale Studentekantoor bevestig
word alvorens jy mag registreer. Lidmaatskappremies vir BESTMed is vooruitbetaalbaar
en word direk aan BESTMed betaal .
www.bestmed.co.za “STUDENT APPLICATION”
Tel: +27 086 680 1357
· Studiepermitte
Dit word van alle kandidate wat nie oor Suid-Afrikaanse burgerskap beskik nie, verwag
om voor registrasie bewys te lewer van ‘n geldige studiepermit of 'n diplomatieke
paspoort wat geakkrediteer is vir Suid-Afrika, of ‘n asielsoekerspermit of ‘n vlugtelingspermit.
Kandidate wat permanente verblyf in Suid-Afrika het, is verplig om ‘n Suid-
Afrikaanse identiteitsdokument voor te lê.
· Borgskappe
Internasionale studente wat oor borgskappe (bv 'n beurs) beskik, moet bewys daarvan in
die vorm van 'n borgskapbrief saambring. Hierdie brief moet die borgskapbedrag asook
waarvoor die borgskap aangewend mag word (bv verblyf/studies ens) spesifiseer.
FINANSIES EN BEURSE
· Waar kan ek inligting kry in verband met my rekening?
Alle navrae rakende studenterekeninge word deur die KDS hanteer.
Tel: 012 420 3111; faks: 012 420 4555; e-pos: csc@up.ac.za
· Waar kan betalings gemaak word?
By die kassiere in die KDS. U kan ook ‘n betaling direk in die Universiteit se bankrekening
maak – en wel by 'n tak van 'n bank of by wyse van 'n elektronies oorbetaling. Maak
verkieslik van laasgenoemde metode gebruik. Let asseblief daarop dat daar 'n minimum
48 uur-klaringstydperk is voordat betalings in die Universiteit se bankrekening op jou
rekening sal reflekteer. Hou dit in gedagte wanneer betalings gemaak word.
Bankbesonderhede is soos volg:
ABSA, Hatfield of Standard Bank, Hatfield
Takkode: 632005 Takkode: 01 15 45 15
Rekeningnommer: 2140 000 054 Rekeningnommer: 01 260 260 4
Swiftkode: ABSAZAJJCPT Swiftkode: SBZAZAJJ
Meld asseblief altyd jou studentenommer as verwysing, want daarsonder kan
jou betaling nie verwerk word nie.
· Hoe gaan ek te werk om ‘n internetbetaling te doen?
Skep 'n begunstigde → betalings → voeg nuwe by → koppel begunstigde by Absa gelys.
In die venster wat verskyn, tik UNI. Kies “UNIV PRETORIASTUDENT”. Gebruik jou 8-syfer
studentenommer as verwysing.
· Word kaartbetalings aanvaar?
Ja, betalings met `n krediet- of debietkaart kan by die kassiere in die KDS gemaak word.
Kredietkaartbetalings kan ook telefonies gereël word – skakel 012 420 3111. Let asseblief
daarop dat in sommige gevalle ’n prosesseringstydperk van 24 uur benodig word.
Alternatiewelik kan `n kredietbetaling via die Universiteit se webwerf
(www.up.ac.za/cardpayment) gemagtig word. Sodanige betalings sal reeds dieselfde dag
op u rekening verskyn.
· Wat maak ek met die bewys van betaling?
Toon jou depositostrokie of kwitansie wanneer jy registreer.
· Word tjekbetalings aanvaar?
Ja. Indien dit nie `n bankgewaarborgde tjek is nie, is `n klaringstydperk van 10 werksdae
op die betaling van toepassing.
· Word vooruitgedateerde tjeks aanvaar?
Nee, geen vooruitgedateerde tjeks sal aanvaar word nie.
· Wat is die koste van my studieprogram?
Studente betaal volgens die modules waarvoor hulle registreer. Na registrasie word 'n
registrasiebewys uitgedruk. Ten einde studente te help met `n raming van hulle studiekoste
bevat die regstrasiebewys 'n voorlopige tarief vir elke module. Ramings van studiekostes
kan ook by die Studenterekeningkonsultante in die KDS aangevra word. Die finale rekening
is ‘n weerspieëling van die modules waarvoor jy geregistreer is. Dit is ook om hierdie rede
belangrik dat studente seker maak dat hulle vir die korrekte modules geregistreer is. Moenie
slegs wegbly van 'n klas of by die dosent staak nie - doen dit op die korrekte wyse, want jy
is verantwoordelik vir onderriggelde vir al die modules waarvoor jy geregistreer het.
Staking van modules: By jou fakulteit se studenteadministrasie
Algehele staking: Rekeningkonsultante in die KDS
· Wanneer is onderriggelde betaalbaar?
Voor of op 30 April: 50% van gelderekening
Voor of op 31 Julie: Volle rekening
· Word enige betalings vereis alvorens ek kan registreer?
Ja, die volgende aanvangsbetalings moet gemaak word voordat jy toegelaat sal word om te
registreer:
Ten opsigte van onderriggelde: R3 000,00
Ten opsigte van losiesgelde: R3 250,00
Internasionale heffing: R2 000,00
Die bedrag betaalbaar voordat jy mag registreer is die som van die bostaande heffings wat
op jou van toepassing is.
Die volgende kan as voorbeeld dien: ‘n Internasionale student wat in ‘n koshuis inwoon
betaal: R8 250,00 (= R3 250,00 + R3 000,00 + R2 000,00).
Let daarop dat hierdie betalings eerste betalings ten opsigte van onderrig- en losiesgelde is
en nie addisionele heffings bo en behalwe die gewone heffings nie.
Let ook daarop dat jy nie `n geregistreerde student is indien jy die nodige
aanvangsbetalings betaal het nie. Jy is slegs `n geregistreerde student as jy `n voltooide en
getekende registrasievorm ingedien het en `n bewys van registrasie aan jou uitgereik is.
· Is daar korting op vroee betaling?
Ja. 'n Korting van 2,5% word toegestaan indien jou rekening teen 31 Maart ten volle
vereffen is. Die korting word slegs bereken op betalings wat deur jou gemaak is en sluit nie
betalings in soos Universiteitsbeurse of -lenings asook NSFAS-lenings nie.
· Is daar gesinskorting?
Ja, indien meer as een lid van `n gesin in dieselfde jaar by UP registreer. Die korting is
egter net ten opsigte van onderriggelde alleenlik (nie losiesgelde, studiemateriaal, ens).
Die korting beloop 10% van onderriggelde vir elke gesinslid indien twee gesinslede
geregistreer is, en 20% vir elke gesinslid indien meer as twee gesinslede geregistreer is.
Om vir hierdie korting te kwalifiseer moet jy jaarliks skriftelik aansoek doen by die KDS.
· Wat gebeur as my rekening agterstallig is?
Indien jou rekening agterstallig is, sal jy nie jou eksamenuitslae of `n akademiese rekord
ontvang nie. Die hernuwing van jou registrasie, asook plasing in `n koshuis vir die volgende
termyn sal nie toegelaat word nie.
· Waar kan ek aansoek doen om 'n privaat lening?
Jy kan by een van die handelsbanke of by die Edu-Loan by die kassieretoonbank geleë in
die KDS by kassieretoonbank nommer een aansoek doen om 'n lening.
Die Edu-Loan-hulplyn kan geskakel word by 011 670 6100, 012 420 5175 of 086 055
5544.
BEURSE
· Ek is 'n beurshouer. Moet ek nog steeds 'n betaling voor/tydens
registrasie maak?
Indien 'n beurs aan jou toegeken is, moet 'n afskrif van die amptelike brief wat bevestig
dat 'n beurs aan jou toegeken is tydens registrasie by `n Studenterekeningkonsultant
ingedien word. Indien die bewys van die beurstoekenning nie ingedien word nie sal jy die
voorgeskrewe aanvangsbetalings voor of tydens registrasie moet maak. Dieselfde geld
ook indien die beurs nie jou volle rekening vereffen nie. Merietebeurse kan nie
aangewend word vir die betaling van enige reserveringsheffing en/of aanvangsbetalings
nie.
· Kan 'n rekening na my beursgewer gestuur word?
Daar word maandeliks 'n rekeningstaat gepos na die permanente adres wat deur die
student verskaf is. Jy moet seker maak van die korrektheid van die rekeningstaat (asook die
adresinligting) en dit self aan jou beursgewer stuur. Indien jy nie 'n rekening ontvang nie,
moet jy navraag by die KDS doen – die nie-ontvangs van 'n rekeningstaat word nie as rede
aanvaar vir die versuim van betalings of laat betalings nie.
Studenterekeninge word slegs op versoek van beursinstansies aan hulle gestuur.
· Waar kan ek aansoek doen om universiteitsfinansiering?
In 2010 word, gebaseer op die riglyne vir beurstoekennings, voorgraadse prestasiebeurse
vir nuwelinge en senior studente outomaties toegeken. Studente wat in enige ander
beurse en lenings wat deur die Universiteit bestuur word belangstel, moet daarvoor
aansoek doen voor die sluitingsdatum van 31 Oktober in die jaar wat studie voorafgaan.
Aansoeke moet aanlyn gedoen word by www.up.ac.za/fao of ‘n aansoekvorm kan van die
Kliëntedienssentrum op die Hatfieldkampus of by die administrasiekantore van die ander
kampusse verkry word.
Inligting rakende beurse en lenings sowel as prestasiebeurse is gepubliseer in die brosjure
Studiefinansiering 2010 en is ook beskikbaar by www.up.ac.za/fao. Kontakbesonderhede: epos:
CSC@up.ac.za; tel: 012 420 3111.
· Van my Graad 12-vakke word hernagesien. Sal die UPprestasiebeursbedrag
outomaties aangepas word?
Beurstoekennings word gefinaliseer volgens finale punte wat gedurende Januarie vanaf
die verskillende onderwysowerhede ontvang word. Hernasienuitslae word vir hierdie doel
buite rekening gelaat.
AKKOMMODASIE/HUISVESTING
· Hoe doen ek aansoek om toelating tot 'n koshuis?
In die aansoekvorm om toelating tot die Universiteit is 'n afdeling “Akkommodasie in ‘n
Universiteitskoshuis”. Indien jy hierdie afdeling tydens jou aansoek om toelating tot die
Universiteit voltooi het, is jou aansoek om plasing reeds oorweeg. Jy kan egter by die
Kliëntedienssentrum navraag doen oor moontlike beskikbare plek in die koshuise. Laat
aansoeke sal oorweeg word en jou naam sal op die waglys geplaas word.
· Kan ek iets doen om ‘n plek in my voorkeurkoshuis te verseker?
Doen vroegtydig aansoek. Studente word sover moontlik volgens hulle keuse
geakkommodeer. Omdat die aantal plekke beperk is, is dit egter nie altyd moontlik om
almal in hul voorkeurkoshuis te plaas nie. Jy kan 'n brief ter motivering van jou
voorkeurkoshuis by toonbanke 7 en 8 in die KDS indien of dit faks na 012 420 4555. Merk
die brief duidelik “Vir aandag: Koshuiskonsultante”.
· Hoe doen ek aansoek vir verblyf in Sonopkoshuis?
Sonop word nie deur die Universiteit bestuur nie en is verantwoordelik vir hulle eie
plasings. Navrae rakende akkommodasie in Sonop moet aan die koshuis self gerig word
by 012 460 5723/460 7830 of toniev@sonop.org.za.
· Vir watter koshuis moet ek aansoek doen?
Enige koshuis op die Hatfieldkampus, behalwe in die volgende gevalle:
Gesondheidswetenskappeprogramme: Studente wat vir enige studieprogram in die
Fakulteit Gesondheidswetenskappe sowel as koshuisinwoning aansoek doen, word tydelik
oorweeg vir die koshuise op die Hatfieldkampus, aangesien slegs ‘n beperkte aantal
studente vir hierdie programme gekeur word. Studente wat dus gekeur word vir een van
die Gesondheidswetenskappeprogramme en reeds plek in ‘n koshuis verkry het of steeds
plek verlang, sal verskuif word na/geplaas word in een van die Prinshofkampuskoshuise. Die
plasing vind eers in Oktober plaas, nadat keuring afgehandel is. Die Universiteit behou die
reg om studente wat in ‘n ander Universiteitskoshuis geplaas is of inwoon, daarheen te
verskuif met inagneming van die beskikbaarheid van plekke.
Opvoedkundestudieprogramme: Studente wat tot ‘n studieprogram in die Fakulteit
Opvoedkunde toegelaat word en ook koshuisplek verlang, word in een van die koshuise op
die Groenkloofkampus (Kiaat, Zinnia, Lilium of Inca) geplaas, met inagneming van die
beskikbaarheid van plekke. Die Universiteit behou die reg om studente wat in ‘n ander
Universiteitskoshuis geplaas is of inwoon, daarheen te verskuif. Indien jy tot ‘n ander
studieprogram toegelaat word en dan oorskakel na ‘n Opvoedkundeprogram en reeds plek
in ‘n Hatfieldkampuskoshuis verkry het, sal jy na een van die Groenkloofkampuskoshuise
verskuif word.
· Hoe word die plasings gedoen en wanneer is my kans die beste om plek
te kry?
Die aanvraag na koshuisplek is groter as die hoeveelheid beskikbare plekke, daarom kan
plek in ‘n koshuis nie gewaarborg word nie. Studente kan egter reeds vanaf Maart van
die voorafgaande jaar aansoek doen. Koshuisplasing geskied deurlopend soos wat die
aansoeke ontvang en verwerk word, totdat al die koshuise gevul is. Hoe vroeer jy dus
aansoek doen, hoe beter is die kans vir plasing in ‘n koshuis. Akademiese
prestasie word ook in aanmerking geneem. Tydens die plasingsproses word die
voorkeurkoshuis eerste in aanmerking geneem. Indien die koshuis reeds vol is, word jy
vir die ander koshuise oorweeg indien daar plek beskikbaar is. Studente word skriftelik in
kennis gestel van hul koshuisplasing. Indien daar geen plek in enige koshuis is nie, word
jou naam op ‘n waglys geplaas volgens akademiese meriete.
· Wanneer is my koshuisgelde betaalbaar?
'n Vasgestelde aanvaardingsbetaling is betaalbaar binne 30 dae vanaf die datum wat op
die plasingsbrief verskyn. Die aanvaardingsbetaling dien as bevestiging dat jy die
toegekende plek aanvaar. Indien die aanvaardingsbetaling nie betyds betaal word nie,
word die koshuisplek gekanselleer. Indien dit nie moontlik is om die aanvaardingsbetaling
binne die vereiste tydperk te betaal nie, kan daar moontlik met die Koshuiskonsultante by
die KDS reëlings getref word.
· Word etes voorsien wanneer ek in 'n koshuis woon?
Ja, indien die koshuis oor `n eetsaal beskik. `n Bedrag vir etes word aan elke student
beskikbaar gestel sodra hulle in die koshuis intrek. Indien hierdie bedrag opgebruik is,
kan ekstra etes gekoop word deur ‘n addisionele betaling vir etes by die kassiere in die
KDS te maak.
· Waar kan ek ‘n etekaart bekom?
Jou etekaart word deur die huiskomiteelid aan jou uitgereik wanneer jy die koshuis betrek.
· Is enkelkamers beskikbaar?
Kamerplasing word by die koshuise self hanteer en enkelkamers word volgens meriete
toegeken. Jy kan 'n brief waar jy jou aansoek om 'n enkelkamer motiveer na die
Kliëntedienssentrum faks, ‘n e-pos stuur of dit by die Koshuiskonsultante in die KDS by
toonbank 7 of 8 indien, waarna dit vir oorweging na die koshuis gestuur sal word.
· Hoe werk die waglys vir koshuise?
Indien al die koshuise vol is, word jou naam op 'n waglys volgens akademiese meriete
geplaas. Wanneer kansellasies ontvang word, word die volgende persoon vanaf die waglys
geplaas.
· Hoekom is my maat met 'n laer TPT reeds geplaas?
Hy/sy het moontlik vroeër aansoek gedoen of 'n direkteursplek verkry. Die Direkteur:
Koshuisaangeleenthede en Akkommodasie het 'n aantal plekke wat hy volgens meriete
toeken.
· Het julle enige ander akkommodasie/huisvesting beskikbaar?
Privaatverblyf is beskikbaar en die volgende nommers kan in dié verband geskakel word:
_ Privaat akkommodasie: Tel: 012 362 5112/3
_ Arlon Eiendomme: Tel: 012 362 5499
_ Akkommodasie Stasie: Tel: 012 342 6825
_ Urban Digs: Tel: 012 362 6231
_ Huurkor: Tel: 012 342 2001
_ Off-Campus Rental: Tel: 012 362 6123
· Hoe is die koshuiskamers toegerus?
Elke kamer het 'n bed, lessenaar, ingeboude kas en boekrak.
· Ek kon nie die Opedag bywoon nie – kan ons reel om die koshuise te
besoek?
Die huiskomitee (Voorsitter of Primaria) van die spesifieke koshuis kan gekontak word om
spesiale reëlings te tref.
· Wat doen ek as ek plek in die koshuis verkry het en wil kanselleer?
Kansellasies moet skriftelik geskied en die redes vir kansellasie moet in die skrywe
gemeld word. Pos jou kansellasiebrief aan die Koshuiskonsultante, Kliëntedienssentrum,
Universiteit van Pretoria, 0002 of faks dit na 012 420 4555 of stuur dit per e-pos na
csc@up.ac.za.
· Is die aanvangsbetaling terugbetaalbaar sou ek my plek in die koshuis
kanselleer voordat ek ingetrek het?
Slegs 'n gedeelte is terugbetaalbaar. 'n Reserveringsheffing van R1 600,00 word uit die
aanvaardingsbetaling verhaal en die restant sal op aanvraag terugbetaal word.
· As ek koshuisplek verkry het, hoe behou ek my plek die daaropvolgende
jaar?
Hernuwing van plek geskied op grond van akademiese meriete. Die gemiddeld van
die eerstesemesterpunte word in aanmerking geneem vir hernuwing van plek vir die
daaropvolgende jaar. Dit is dus van die uiterste belang dat studente vanaf hulle eerste
semester akademies goed presteer. Studente wie se gelde agterstallig is, word nie weer
vir plasing oorweeg nie. Aangesien die aanvraag groter is as die hoeveelheid beskikbare
plekke, word die studente met die hoogste gemiddeldes geplaas en die res van die
studente word op 'n waglys geplaas. Studente word op 'n deurlopende basis vanaf die
waglys geplaas soos kansellasies ontvang word.
Die koshuisplasingsbeleid word van tyd tot tyd hersien en studente asook hul ouers sal
gedurende April/Mei 'n inligtingsbrief ten opsigte van hernuwing van plek ontvang.
· Wanneer kan ek by die koshuis intrek?
Spesiale reëlings is getref sodat eerstejaarstudente op 16 Januarie 2010 (tussen 12:00 en
16:00) en 17 Januarie 2010 (tussen 07:00 en 10:00) kan intrek.
TOETSE
(AKADEMIESE GELETTERDHEIDS-/
TOELATINGS-/REKENAARTOETS)
Akademiese Geletterdheidstoets
· Is dit nodig dat ek die Akademiese Geletterdheidstoets afle?
Die Akademiese Geletterdheidstoets is verpligtend. Alle nuwelingeerstejaarstudente wat
by die Universiteit inskryf, moet hulle akademiese geletterdheid bewys deur die toets af
te lê.
· Wanneer en waar word die Akademiese Geletterdheidstoetse afgeneem?
Die Toets word op 19 Januarie 2010 afgeneem. Die tye en plekke vir die Akademiese
Geletterdheidstoets word in die Akademiese Oriënteringsprogram aangedui.
· Ek het die Akademiese Geletterdheidstoets misgeloop – wanneer en waar
word dit weer afgeneem?
'n Laat toets word op Saterdag 6 Februarie 2010 om 09:00 in die Kanseliersgebou op die
Hatfieldkampus afgeneem.
· Waar en wanneer kry ek die uitslae van die Akademiese Geletterdheidstoets?
Hatfieldkampus: Donderdag 21 Januarie op die kennisgewingborde suid van die
Geesteswetenskappegebou (GW);
Groenkloofkampus: Donderdag 21 Januarie op die kennisgewingborde onder die
Ouditorium.
· Waar kry ek meer inligting oor die uitslae van die Akademiese
Geletterdheidstoets?
Navrae sal op Donderdag 21 Januarie van 12:00 tot 15:00, en op Vrydag 22 Januarie van
9:00 tot 13:00 by die navraetoonbank op vlak 3 van die Geesteswetenskappegebou
beantwoord word.
· Ek het die Akademiese Geletterdheidstoets geslaag – watter modules kan
ek in die plek van die akademiese geletterdheidsmodules neem?
In die Akademiese Oriënteringsprogram en/of jaarboek van die betrokke fakulteit behoort
duidelikheid hieroor te wees. Indien nie, raadpleeg jou fakulteit se studenteadministrasie.
Studente wat in die Fakulteit Geesteswetenskappe geregistreer is, sal die inligting tydens
die Akademiese Oriënteringsweek van die organiseerders ontvang.
· Wat staan my te doen as ek nie die Akademiese Geletterdheidstoets
geslaag het nie?
Registreer vir EOT 110 en EOT 120 (behalwe waar ander vereistes gestel word, bv vir
studente in die Fakulteit Ingenieurswese, Bou-omgewing en Inligtingtegnologie). Ander
spesifieke inligting sal tydens die Akademiese Oriënteringsweek aan jou voorsien word.
Toelatingstoets
· Met wie kan ek die uitslae van die Toelatingstoets bespreek?
Uitslae van die Toelatingstoets is nie onderhandelbaar nie. Vir enige navrae, spreek die
hoof van jou betrokke fakulteit se studenteadministrasie.
Rekenaartoets
· Ek wil aansoek doen om die vrystellingseksamen af te le vir CIL 111
(Rekenaargeletterdheid) – hoe en waar doen ek dit?
Aansoek om vrystelling van CIL 111 (Rekenaargeletterdheid) word gedoen by die
Sentrumhoof, Studenterekenaarsentrum, hv Roper- en Burnettstraat. Opvoedkundestudente
doen aansoek by die Rekenaarlaboratorium op die Groenkloofkampus. Indien die
vrystellingseksamen suksesvol afgelê word, is `n vrystellingsheffin in plaas van die normale
onderrigheffing betaalbaar.
VERLENGDE PROGRAMME
· Ek wil moontlik die verlengde program volg – wie moet ek spreek?
Slegs kandidate wat die Toelatingstoets afgelê het, word oorweeg vir toelating tot en
plasing in die verlengde programme.
Natuur- en Landbouwetenskappe: Indien jy ten volle aan die BSc-vereistes voldoen en
steeds die vierjaarprogram wil volg, kontak me A Botha, NW1-gebou, Kamer 3.52, Tel:
012 420 4322 of raadpleeg die jaarboek vir meer volledige inligting. Die BSc:
Vierjaarprogram word op die Mamelodikampus van die Universiteit van Pretoria
aangebied.
Ingenieurswese bied 'n vyfjaarprogram aan: Kontak prof D Grayson by 012 420 4109 vir
meer besonderhede aangaande die ENGAGE-program.
Geesteswetenskappe: Slegs studente wat reeds toegelaat is op grond van hul Graad 11-
uitslae asook die uitslae van die toelatingstoets, mag vir die BA (Verlengde program)
registreer.
REGISTRASIE
· Registrasievorm
’n Registrasievorm word gedurende Novembermaand aan nuwelingeerstejaarstudente
gepos. Hierdie vorm moet op Woensdag 20 Januarie 2010 saamgebring word.
Let daarop dat jy slegs `n geregistreerde student is as jy `n voltooide en getekende
registrasievorm ingedien het en `n bewys van registrasie aan jou uitgereik is.
· Ek het nog nie 'n registrasievorm ontvang nie, wat staan my te doen?
Om te kan registreer, moet jy ’n registrasievorm hê. Meld voor Woensdag 20 Januarie by
jou betrokke fakulteit se studenteadministrasie aan om 'n registrasievorm te bekom.
· Watter modules moet ek kies?
Tydens die Akademiese Oriënteringsweek sal die programbestuurders en senior
personeel beskikbaar wees om jou van inligting te voorsien. Hulp word ook in die
registrasiesessies deur die fakulteit se studenteadministrasiepersoneel verskaf.
· Waar word die lesings aangebied?
Tydens die Akademiese Oriënteringsweek gaan die lesingrooster aan jou beskikbaar
gestel word. In die lesingrooster word die plek en tyd van ’n spesifieke module aangedui.
Senior personeel van die Universiteit sal jou touwys maak oor hoe om die roosterboek te
gebruik en hoe om jou rooster uit te werk.
· Wanneer registreer ek?
Registrasietye word in die Akademiese Oriënteringsprogram aangedui. Studente moet by
hierdie registrasietye hou. Tydens die Oriënteringsweek sal `n tydperk opsy geskuif word
waarin student in groepe sal registreer. Die proses begin in die lokaal soos aangedui in
die Akademiese Oriënteringsprogram. Registrasievorms sal nie sonder ‘n afskrif van jou
simbolestaat van Graad 12-uitslae of ‘n oorspronklike Nasionale Senior Sertifikaat aanvaar
word nie. Skryf asb jou TPT op die registrasievorm. Alle registrasievorms moet vooraf
deur 'n senior personeellid van die Universiteit gekontroleer en onderteken word.
· Ek het toelating tot bv die Fakulteit Geesteswetenskappe, maar is nie
meer seker watter rigting ek moet volg nie.
Spreek die programbestuurders of organiseerders tydens die Akademiese
Oriënteringsprogram (besonderhede van die organiseerders verskyn in die jaarboek) of
reël by die KDS om 'n afspraak met een van die kursuskonsultante te maak. Die
studenteadviseurs sal ook beskikbaar wees vir hulp in dié verband.
· Hoe gaan ek te werk om modules waarvoor ek geregistreer het, te
wysig? (sien ook Staking/wysiging van modules)
Vaste datums is bepaal wanneer studente kan wysig. Klasse word in die tussentyd
bygewoon.
Studente in die Fakulteit Geesteswetenskappe:
1ste kwartaal, 1ste semestermodules: 12 Februarie, Oranje Laboratorium, IT-gebou
2de kwartaal, 1ste semestermodules: 19 Maart, Studenteadministrasie, IT-gebou 2-9
3de kwartaal, 2de semestermodules: 30 Julie, Studenteadministrasie, IT-gebou 2-9
4de kwartaal, 2de semestermodules: 22 September, Studenteadministrasie, IT-gebou 2-9
Jaarmodules: 12 Februarie, Oranje Laboratorium of
30 Julie, Studenteadministrasie, IT-gebou 2-9
Studente in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe:
1ste semestermodules: 10-11 Februarie, CBT Laboratoriums 1,2,3
2de semestermodules: 21-22 Julie, CBT Laboratoriums 1,2,3
Studente wat aan ander fakulteite studeer, kan gedurende die week van 8–12
Februarie by die studenteadministrasie van die spesifieke fakulteite die nodige wysigings
doen.
Laaste dag vir staking van modules sonder dat klasgelde betaalbaar is:
1ste kwartaal-, 1ste semester- en/of jaarmodules: 19 Februarie 2010
2 de kwartaalmodules: 19 Maart 2010
3de kwartaal- en 2de semestermodules: 30 Julie 2010
4de kwartaalmodules: 22 September 2010
· Ek het Inligtingstegnologie op skool geneem. Moet ek vir die modules
Rekenaargeletterdheid en Inligtinggeletterdheid registreer?
Ja, die Rekenaar- en inligtinggeletterdheidsmodules CIL 111 en CIL 121 (of soos in die
verskillende programme voorgeskryf) is verpligtend vir alle nuwelingeerstejaarstudente.
Studente kan egter die toets aflê vir vrystelling van CIL 111 (Rekenaargeletterdheid). Doen
aansoek by die Sentrumhoof, Studenterekenaarsentrum, hv Roper- en Burnettstraat. Indien
die vrystellingseksamen siksesvol afgelê word, is `n vrystellingsheffing in stede van die
normale onderrigheffing betaalbaar.
· Ek het nie keuring gekry vir 'n Gesondheidswetenskapperigting nie. Ek is
tans ingeskryf vir 'n BSc-graadprogram ter voorbereiding vir moontlike
keuring. Wanneer vind keuring plaas?
Jy moet voor die begin van die eksamen aan die einde van die eerste semester aansoek
doen vir toelating tot die Gesondheidswetenskapperigting. Vorms is beskikbaar by die
Algemene Navrae-toonbanke in die KDS. Jou eerstesemesteruitslae word in berekening
gebring vir keuring en indien jy gekeur word, kan jy reeds vanaf die tweede semester
oorskakel na die Gesondheidswetenskapperigting.
LW: Die bedrag van jou UP-prestasiebeurs sal aangepas word indien jy tot MBChB
toegelaat word.
· Ek wil graag aansoek doen om keuring te kry vir die BVSc-program. Ek is
tans ingeskryf vir ’n BSc-graadprogram ter voorbereiding vir moontlike
keuring. Wanneer vind keuring plaas en wat moet ek doen om in
aanmerking te kom vir keuring?
Keuring vind plaas na die eerste studiejaar. Jy moet voor die aanvang van die eksamen aan
die einde van die eerste semester (voor 30 Junie) aansoek doen vir toelating tot
Veeartsenykunde. Vorms is beskikbaar by die KDS.
· Kan ek my graad na-uurs voltooi?
Nee. Inligting van modules wat dmv fleksieleer aangebied word, verskyn in die Roosterboek
asook in die betrokke fakulteitsjaarboeke.
· Ek is nog nie seker van die keuse van 'n studierigting nie. Wie kan ek
hieroor spreek?
Jy kan 'n afspraak met een van die kursuskonsultante in die KDS maak of met een van
die studenteadviseurs by Bemarkingsdienste (studenteadviseurs bied hierdie diens net in
Januarie aan). Indien jy professionele toetsing verlang, kontak die voorligtingsielkundiges
by Studenteondersteuning in die Studentesakegebou.
· Moet ek vooraf 'n afspraak maak indien ek hierdie professionele toets wil
afle en is daar enige betaling daaraan verbonde?
Afsprake word gemaak deur 012 420 2333 te skakel en die toets beloop R500,00 per
persoon vir skoliere. Indien jy by UP registreer, sal 'n gedeelte van die geld aan jou
terugbetaal word nadat die oorspronklike kwitansie by `n Studenterekeningkonsultant in
die KDS ingedien is. Toetsing vir ingeskrewe studente is gratis met dien verstande dat
daar vooraf 'n afspraak gemaak word.
· Tot wanneer kan ek my studierigting verander?
Tot twee weke na aanvang van lesings – dus 10 Februarie 2010.
EKSAMEN- EN LESINGROOSTERBOTSINGS
· Eksamenbotsing: Mag ek vir modules registreer wat op die eksamenrooster
bots?
Ja, jy mag, met die uitsondering van studente wat by die Skool vir Ingenieurswese of die
Skool vir die Bou-omgewing geregistreer is. Hou egter in gedagte dat indien jy dit wel doen,
een van die twee modules in die hereksamenperiode geskryf moet word. Indien jy dus
sou kon kwalifiseer vir 'n hereksamen, sal jy nie toegelaat word om 'n hereksamen in
sodanige module af te lê nie. Hierdie reëling geld egter net waar twee modules bots. Geen
student sal toegelaat word om vir 'n derde module te registreer wat met gemelde twee
modules bots nie.
· Lesingrooster: Mag ek modules neem wat op die lesingrooster bots?
Nee, jy moet modules kies wat nie met mekaar bots nie. Indien daar voorgeskrewe modules
is wat bots, moet jy die betrokke departementshoof kontak. Daar kan moontlik spesiale
reëlings getref word.
STUDENTEKAART
· Waar kan ek 'n studentekaart bekom?
Jou studentekaart sal een dag na registrasie deur die KDS uitgereik word. Jou bewys van
registrasie en jou oorspronklike identiteitsdokument moet getoon word alvorens 'n
studentekaart aan jou uitgereik sal word. Gesondheidswetenskappe: Studenteadministrasiesentrum,
Vlak 3, HW Snymangebou (noordvleuel).
· Is daar enige kostes verbonde aan die verkryging van 'n studentekaart?
'n Eerste studentekaart, sowel as 'n eerste toegangskaart tot die koshuisterrein, word gratis
uitgereik. Indien jou kaart verlore raak, kan jy by die KDS 'n duplikaat aanvra teen die
volgende koste: Studentekaart: R30,00; toegangskaart tot die koshuisterrein: R60,00.
· Moet ek aansoek doen om die biblioteek te gebruik?
U het nie nodig om aansoek te doen nie. Studente wat geregistreer is, mag die biblioteek
gebruik. Lidmaatskap word direk na uitreiking van die studentekaart verkry.
ALLERLEI
· Wat moet ek saambring na die Akademiese Orienteringsweek?
Behalwe jou registrasievorm en Graad 12-uitslae, ook ‘n potlood, uitveër en pen.
· Kan ek vooraf enige handboeke aanskaf?
Moet geen boeke aanskaf voordat die dosent(e) nie opdrag hiervoor gegee het nie.
· Watter sake-ondernemings/besighede is in die onmiddellike omgewing
van die Universiteit en koshuise gelee?
Banke, boekhandelaars, apteke, sport- en klerewinkels asook kruidenierswinkels.
· Hoe veilig is die kampus?
Die veiligheidsdienste skep ‘n veilige omgewing vir studente en personeel deur bewese
en innoverende misdaadvoorkomingstrategieë en -aksies.
Telefoonnommers:
24-uur beheerkantoor: 012 420 2310
24-uur Krisisdiens: Tolvry: 0800 006 428
24-uur reaksievoertuig: 083 654 0476 of *15431
· Ek het my sleutels/kaart/trui verloor. Waar kan ek navraag doen?
Alle verlore goedere word by Veiligheidsdienste (oostelike ingang) in die
Administrasiegebou (Die Skip) ingegee. Tel: 012 420 2310.
· Watter boeke en/of rekenaar moet ek aanskaf?
Tydens die Akademiese Oriënteringsweek gaan jy voorligting oor hierdie aangeleentheid
kry. Spaar geld, moeite en tyd en woon alle lesings by. Die boekwinkels in Hatfield is
behulpsaam met die aankoop van voorgeskrewe boeke.
· Hoe kan ek sukses verseker op Universiteit?
U gaan tydens die Akademiese Oriënteringsweek lesings kry oor hierdie uiters belangrike
aspek. Woon alle lesings tydens die week by.
Gratis ondersteuning tov studiemetodes is beskikbaar, skakel Studenteondersteuning vir ‘n
afspraak by 012 420 2333.
STAKING/WYSIGING VAN MODULES
EN/OF ALGEHELE STAKING VAN STUDIE
· Indien ek vir 'n module geregistreer het, maar besluit om dit nie meer te
neem nie of 'n ander module in die plek daarvan te neem – hoe gemaak?
Jy mag solank die nuwe module se klasse bywoon, maar die wysiging moet op jou
akademiese rekord deur jou fakulteit se studenteadministrasie aangebring word. Daar is
spesifieke dae waarop jy hierdie wysigings moet registreer. Let wel – finale datums vir
wysigings verskyn op bladsy 14.
· Hoe gaan ek te werk om van studierigting te verander nadat ek reeds vir
'n bepaalde rigting geregistreer het?
Jy moet by die studenteadministrasie van die fakulteit waar jy die nuwe studierigting wil
volg, aansoek doen en 'n vorm voltooi. Indien jou aansoek goedgekeur is, word die
studierigting op jou rekord verander en 'n nuwe registrasiebewys sal aan jou uitgereik word.
· Ek oorweeg dit om my studies aan UP permanent/tydelik te staak. Met
wie kan ek gesels?
Voor jy tot hierdie stap oorgaan, kontak eers Studenteondersteuning by 012 420 2333.
· Wat moet ek doen as ek my studies in geheel wil staak?
Die Universiteit moet skriftelik in kennis gestel word. Daar is 'n voorgeskrewe vorm by die
KDS beskikbaar (by Studenterekeningkonsultante) wat deur jou voltooi en ingedien moet
word. Jou studentekaart moet saam met die vorm by die KDS ingedien word.
· Moet ek betaal vir modulewysigings en/of studierigtingwysigings?
As jy voor 17 Februarie jou studierigting wysig, is daar geen gelde betaalbaar vir die
modules wat jy in die proses staak nie. Dieselfde geld vir enige kwartaalmodules,
semester- of jaarmodules wat binne 10 dae na die aanvang van sodanige module
gestaak word. Indien jy egter 'n module na 10 dae na die aanvang van die
module staak, moet jy onderriggelde betaal. Die onderriggelde betaalbaar sal
bereken word ooreenkomstig die datum wat die Universiteit kennis van die staking
ontvang. Maak dus seker dat 'n module wat jy betyds gestaak het, nie op jou rekening
verskyn nie.
· Wat is my finansiële verpligting as ek my studies algeheel staak?
Staking binne 10 dae na aanvang van die akademiese jaar vir nie-keuringstudierigtings:
R620,00. Staking binne 10 dae na aanvang van die akademiese jaar vir
keuringstudierigtings: R1 500,00. Staking na 10 dae na aanvang van die akademiese
jaar: gelde word gehef ooreenkomstig die datum van staking.
· Wat is my finansiele verpligting as ek inwoning in 'n koshuis beeindig?
Jy moet betaal vir die aantal dae wat jy in die koshuis ingewoon het, asook vir etes wat jy
geneem het. 'n Basiese tarief vir die dae wat die kamer leeg staan totdat 'n plaasvervanger
die kamer beset, word ook gehef. Indien jy inwoning voor of op 1 Maart beëindig, is 'n
minimum fooi van R1 600,00 betaalbaar.
VERVOER/PARKERING
· Mag eerstejaars met hul motors Universiteit toe ry en waar kan hulle
parkeer?
Ja, eerstejaars mag. Parkeerplek is egter beperk. Studente mag nie op die
Hatfieldkampus parkeer nie, maar wel in die volgende parkeerareas: hv Burnett- en
Festivalstraat, hv Duxbury- en Heroldstraat en hv Lynnwood- en Heroldstraat. Studente
wat op die ander kampusse studeer kan by die mini-KDS op die onderskeie kampusse om
'n parkeerskyfie aansoek doen. Inwonende koshuisstudente mag in die betaalde
parkeerareas van die koshuise parkeer (H17 – Festivalstraat; H29 – Heroldstraat en H30
– Lunnonweg) maar moet kennis neem dat daar slegs ‘n beperkte aantal parkeerplekke
beskikbaar is. Alle eerstejaaraansoeke sal op ’n waglys geplaas word, en plasing sal eers
geskied sodra aan alle seniors plekke toegeken is. Plasings kan slegs geskied indien
parkering beskikbaar is. Kontak me Annemarie Iske by annemarie.iske@up.ac.za of
skakel 012 420 5171.
· Het die Universiteit 'n busdiens?
Daar is 'n pendelbusdiens wat ongeveer elke halfuur vanaf die Universiteit na die
manskoshuise en Katjiepieringdameskoshuis vertrek. 'n Pendelbusdiens van en na die
Groenkloofkampus is soggens, smiddae en saans tot 22:00 beskikbaar. Studente kan ook
van die munisipale busdiens gebruik maak.
BUSROOSTER
GROENKLOOFKAMPUS HATFIELDKAMPUS
NA HATFIELDKAMPUS NA GROENKLOOFKAMPUS
07:00 10.30 18:45
08:00 11:30 19:45
09:00 12:30 21:00
10:00 15:00 22:00
11:00 17:00
13:30
Kontak mnr HPR Smit, tel: 012 4202745, e-pos: herkie.smit@up.ac.za vir meer
besonderhede.
LC DE VILLIERS-STADION
Parkeer-en-Ry Fasiliteit – na en van die Hatfieldkampus
Daagliks vanaf 06:45 tot 18:30
MAMELODIKAMPUS
06:45 vanaf Mamelodi-aflaaisone: hv Suid- en Hildastraat
18:00 vanaf hv Suid- en Hildastraat: Mamelodi-aflaaisone
Vir meer besonderhede, kontak me C Basson, tel: 012 4203900,
e-pos cornelia.basson@up.ac.za.
GESONDHEIDSWETENSKAPPE: PRINSHOFKAMPUS
Gedurende die eerste semester, vanaf Olympus na die Hatfieldkampus (07:00) en terug
(17:30).
Gedurende die tweede semester, vanaf Hatfieldkampus na Prinshofkampus (07:00-07:05)
en terug (17:30).
|