Magister in Openbare Gesondheid (MPH) –Oorsig
Inleiding
Die Magister in Openbare Gesondheid (MPH) -program berei professionele praktisyns voor vir leierskaprolle in die bestuur, verbetering en evaluering van gesondheid, gesondheidsintervensies en die gesondheidsorgstelsel. Dit is 'n graad wat internasionaal erken word, alhoewel MPH-grade oor die wêreld grootliks verskil in terme van intensiteit, omvang en diepte. Dit is hoofsaaklik 'n praktykgeoriënteerde graad, nie 'n navorsingsgraad nie.
Neem kennis dat die term “openbare gesondheid” verwys na die gesondheid van hele bevolkings. Dit is nie beperk tot die openbare gesondheidsektor nie. Studente van beide openbare en private gesondheidsektors vind dat die MPH-graadprogram hulle noodsaaklike kennis en kompetensie bied wat hulle in hul werk en beroepe help.
Die MPH-program stel studente in staat om deeglike kennis van die vele fasette van gesondheid en gesondheidsorg op te doen. Dit stel studente ook bloot aan die baie dissiplines wat betrokke is. Terselfdertyd is die veld van gesondheidstelsels en openbare gesondheid veels te wyd dat studente spesialiste in al die aspekte kan word. Dit is hoekom die MPH-program op so 'n wyse gestruktureer is dat studente, in samespreking met personeel van die Skool, slegs een fokusarea of “spoor" in openbare gesondheid kan kies. Aan die einde van hierdie program sal studente nie alleen kennis opgedoen het van die hele veld van gesondheidstelsels en openbare gesondheid nie, maar hulle sal ook genoegsame kompetensie in een besondere veld ontwikkel het.
Alle graadkursusse en modules word in Engels aangebied. Die Skool bied deur middel van 'n (niekredietdraende) kursus aan die Universiteit taalprogramme aan om mense wat nie Engels magtig is nie, te assisteer. Inskrywing vir 'n taalprogram kan deur die Studenteadministrateur gereël word. Studente moet genoegsaam vlot in Engels wees voordat hulle met die MPH-program kan begin. Die taalkursusse word op die Hoofkampus van die Universiteit van Pretoria aangebied.
 Volle beskrywing van MPH
MPH spore 2008
Daar is tans agt beskikbare fokusareas
Epidemiologie en Biostatistiek
Epidemiologie en Biostatistiek subspoor: Monitering en Evaluering
Openbare Gesondheid Laboratoriumprogram (PHLP)
Veldepidemiologie en Laboratoriumopleiding (FELTP)
Gesondheidsbeleid en -bestuur
Omgewings- en Arbeidsgesondheid
Omgewings- en Arbeidsgesondheid subspoor: Arbeidshigiëne
Siektebeheer
Gesondheidnavorsingsetiek
Gesondheidbevordering
|