Nuwe Direkteur vir die BSc Vierjaar Program aangestel
Deur Martie Maree
Gelaai op 04 Februarie 2011
Dr Quenton Kritzinger
Dr Quenton Kritzinger is onlangs as die nuwe Direkteur van die BSc Vierjaar Program in die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe aangewys.
Dr Kritzinger was, voor sy aanstelling ’n senior lektor in die Departement Plantkunde by die Fakulteit. Hy is baie opgewonde oor die moontlikhede van die BSc Vierjaar Program en sê: “Ek beskou hierdie program as ’n integrale deel van die sukses en toekoms van die Fakulteit. Dit is fantasties om deel te wees van ’n program wat aan studente met potensiaal ’n poort tot wetenskap en wetenskapgebaseerde programme voorsien. Ek is daartoe verbind om ’n suksesvolle program aan te bied wat veral op personeelontwikkeling, onderriguitnemendheid en studente-ondersteuning fokus.”
Dr Kritzinger het sy PhD in Plantpatologie in 2005 voltooi en is sedert sy permanente aanstelling in 2006 betrokke by die onderrig van MLB111 en verskeie ander voorgraadse en nagraadse modules. Hy was ook studeleier vir verskeie honneurs- en meestersgraadstudente. Ander prestasies sluit die ontvangs van die Jong Plantpatologie-toekenning deur die Suide-Afrikaanse Vereniging van Plantpatoloë in 2002 en 2004 in.
“Ek is passievol en entoesiasties oor die program en sien uit daarna om in samewerking met die personeel en studente hierdie reeds erkende program te bevorder.”
|
|
|