English |  Afrikaans |    
  
Fakulteit Natuur- & Landbouwetenskappe

Na 150 jaar bedien Pretoria se fonteine steeds sy inwoners met skoon, vars water

Deur Geologie/Geology

Gelaai op 01 Augustus 2012

Grootfontein
Grootfontein

Vir meer as 150 jaar reeds is die inwoners van Pretoria se sentrale besigheidsdistrik afhanklik van die kristalhelder fonteine wat die stad vanaf sy vroegste dae voed.

‘n Nuwe Water Navorsingskommissie (WNK) projek, gelei deur die Universiteit van Pretoria (UP), hoop om meer lig te werp op die belangrike historiese en hedendaagse rol van die fonteine as ‘n voorbeeld van die rol wat grondwater in die vooruitgang van Suid-Afrika se stedelike watervoorsiening speel.

“Deur hierdie projek will ons illustreer dat grondwater nie net volhoubare water kan voorsien aan landelike gebiede nie, maar ook aan groot stede soos Pretoria,” sê WNK Navorsingsbestuurder, dr Shafick Adams. “Grondwater ontwikkeling is reeds geïdentifiseer as ‘n moontlike toekomstige aanvullende waterbron vir verskeie gebiede, maar daar is steeds ‘n mate van wantroue in die bronne vanaf verbruikers en beleidmakers.”

Die hoofstad van Suid-Afrika se ligging is oorspronklik bepaal deur die teenwoordigheid van ‘n ondergrondse waterbron (wat tot vandag toe bekendstaan as die Fonteine). Hierdie bron lewer steeds 40 Ml/dag en was die stad se enigste bron van vars water tussen 1855 en 1935. Dekades later lewer die Fonteine steeds water van die allerhoogste kwaliteit.

Pretoria is een van vele dorpe en stede in Suid-Afrika wat gedeeltelik of heeltemal afhanklik is van grondwater. Lank voordat blanke inwoners hulle in die omgewing tuisgemaak het, het die water van die Fonteine inheemse gemeenskappe reeds eeue lank voorsien. Die twee fonteine aan die suidekant van die stad was dan ook die rede waarom Pretoria se oorspronklike inwoners, die Bronkhorst broers, hulle hier kom vestig het, en die rede waarom die ZAR destyds besluit het om sy hoofstad vanaf Potchefstroom tot hier te verskuif. Tog is min inwoners selfs eers bewus van die belangrikheid van hierdie versteekte bron te Groenkloof.

Die Hidrologiese Erfenis Oorsig projek, soos die WNK projek bekendstaan, boekstaaf van Pretoria se ontwikkeling rondom sy grondwater bronne, insluitende historiese onttrekkings volumes en water kwaliteit, waar dit beskikbaar is.

“Pretoria is ‘n puik voorbeeld van die gebruik van grondwater vir stedelike water gebruik,” sê projekleier Matthys Dippenaar van UP se Departement Geologie. “Vir die mense van Pretoria hoop ons dat hierdie projek ‘n bewustheid sal skep asook ‘n waardering, dat hulle sal besef net hoe belangrik water – en in hierdie geval grondwater – in ons lewens is. Vir mede-wetenskaplikes beoog ons om beter toegang te gee tot historiese data.” Die Tshwane munisipaliteit het al sy historiese data en kaarte beskikbaar gemaak vir die projek.

Die Fonteine is nie Pretoria se enigste grondwater bron nie. In totaal word sowat 8% van die stad se varswater deur grondwater voorsien. Daar is ook Grootfontein, wat se water tot by die Rietvlei Waterwerke gepomp en met behandelde water van die Rietvlei Dam gemeng word. Aan die ander kant van die stad voorsien Sterkfontein water aan die inwoners van Centurion. Al hierdie bronne se water is steeds van die allerhoogste kwaliteit ten spyte van die ontwikkeling rondom hulle, en geen behandeling is nodig nie (chloor word wel bygevoeg voordat die water in die waterpype gaan).

Met díe dat grondwater gewoonlik ‘n ‘versteekte’ bron is, verskaf Pretoria se Fonteine ‘n rare kyk na die Aspoestertjie van waterbronne in Suid-Afrika. Wanneer die projek klaar is sal die inligting sover as moontlik aan die publiek beskikbaar gemaak word. Die projekspan beoog om teen die eerste kwartaal van volgende jaar klaar te maak.

Enigeen met historiese inligting, staaltjies of foto’s van die Pretoria Fonteine word uitgenooi om hierdie inligting met die projekspan te deel. Kontak gerus Matthys Dippenaar by Matthys.Dippenaar@up.ac.za of skakel 012 420 3117.

Die studie word bestuur deur dr Shafick Adams, Navorsingsbestuurder van die Water Navorsingskommissie, en hy kan gekontak word by shaficka@wrc.org.za  of 083 268 7945.
 



Bookmark this page: