English |  Afrikaans |    
  
UP Regskliniek Tuisblad

Rakende die UP Regskliniek



Hatfield Hoofkantoor


- Photo by/foto deur Lourens Grové


- Photo by/foto deur Lourens Grové

Mamelodi Takkantoor



 

Die UP Regskliniek aan die Universiteit van Pretoria is in Junie 1980 gestig en het ‘n trotse tradisie in die lewering van regsdienste aan hulpbehoewendes. Finalejaar regstudente, kandidaatprokureurs en prokureurs kry die unieke geleentheid om in ‘n regspraktyk te praktiseer, terwyl hulle deur ervare praktisyns gementor word.

 

Studente konsulteer met en adviseer kliënte, doen navorsing met die oog op probleemoplossing, stel briewe en pleitstukke op, onderhandel met prokureurs, kandidaatprokureurs en ander gedingspartye. So leer hulle regsvaardighede aan, op sowel 'n teoretiese as 'n praktiese vlak. Personeel by die Kliniek verskaf opbouende terugvoer. Die Kliniek is ten volle geakkrediteer by die Prokureursorde van die Noordelike Provinsies en die Vereniging van Universiteitsregshulpinstansies. Die vernaamste gebiede van die reg waarin studente en kandidaatprokureurs diens verleen, sluit in: gesinsgeweld, familie-, kinder-, verbruikers-, arbeids-, delikte- en strafreg.

 

Lede van die Fakulteit en verwante professies ondersteun die Kliniek op 'n aktiewe wyse deur die lewering van 'n hoë gehalte kliniese regsonderwys aan studente en 'n hoë gehalte van regsdienste aan die minderbevoorregtes in die gemeenskap.

 

‘n Advieskantoor (deur die Sentrum vir Menseregte by Hammanskraal in 1994 gevestig) is gedurende Januarie 2001 in ‘n tak van die Regskliniek omskep en dit bied tans ‘n volledige reeks regsdienste aan die gemarginaliseerde gemeenskappe van Hammanskraal, Moretele, Mandela Village en Manjaneng. Ongeletterdheid en armoede is endemies in hierdie gebiede, en lei dikwels daartoe dat mense nie in staat is om toegang tot regsdienste te verkry nie. Vanaf 1 Februarie 2003 word die Hammanskraal-tak in vennootskap met die Regshulpraad bedryf. Die Hammanskraal-kliniek spesialiseer in siviele sake.

 

Die UP Regskliniek:

·         Word statutêr erken;

·         Vorm deel van die Regsfakulteit;

·         Beskik oor akkreditasie en sertifikasie by die Prokureursorde;

·        Het 'n voltydse direkteur, prokureurs, professionele assistente, kandidaatprokureurs, administratiewe en sekretariële personeel in diens;

·         Beskik oor die nodige infrastruktuur, liasseerstelsel en boekhousisteem;

·         Verskaf gratis regshulp;

·         Beskik oor omvattende aanspreeklikheidsversekering

·         Bied kredietdraende (praktiese regsopleiding) opvoedkundige kursusse aan;

·         Is 'n lid van AULAI ( Association for University Legal Aid Clinics);

·         Ontvang befondsing vanaf die Universiteit, asook privaat skenkers;

·         Het sterk bande met ander klinieke in Suid-Afrika en in die buiteland;

·        Sluit dikwels samewerkingsooreenkomste met regeringsorganisasies, professionele liggame, sogenaamde NGO's (nie-winsgewende regeringsorganisasies) en para-wetlike advies-kantore;

·         Het 'n hoofkantoor in Hatfield met takkantore in Hammanskraal en Mamelodi;  en

·         Is die voorkeur-opleidingsverskaffer vir aspirant skuldberaders.

·         Finalejaar regstudente en kandidaatprokureurs kry deur die Kliniek ‘n unieke geleentheid om in die regsveld te praktiseer terwyl hulle gementor word deur ervare kliniekprokureurs.

 

Weens die verskeidenheid projekte waarin die Kliniek betrokke is, bestaan die volgende afdelings in die Kliniek om met die verskillende projekte te werk:

 

·         Siviele Litigasie;

·         Skuldberading;

·         Hatfield Gemeenskapshof en Strafreg;

·         Navorsing en Kort Kursusse; en

·         Spesiale Projekte.

 

Die Kliniek se takkantore in Hammanskraal en Mamelodi verskaf regsdienste en advies aan die armes en dikwels gemarginaliseerde gemeenskappe in die omliggende areas.

 

Visie

 

Die UP Regskliniek streef daarna om dié toonaangewende regskliniek in Afrika te wees en om 'n bydrae te lewer om die Regsfakulteit van die Universiteit van Pretoria as uitmuntende opvoedkundige sentrum te hou.

 

Missie

·         Om die regspraktyk (gesimuleerd en werklik) te benut as 'n konteks waarbinne navorsing gedoen word oor en opleiding voorsien word in substantiewe en prosedurele regsbeginsels, etiek, professionele en interpersoonlike vaardighede, gepaste geskilbeslegting tegnieke en die vermoe om die reg, feite, prosedures en waardes te integreer;

·         Om kwaliteit regsdienste aan behoeftiges te verleen en so toegang tot geregtigheid te verbeter;  en

·         Om toewyding by personeel en studente te kweek en om 'n gemeenskap te bou wat gegrond is op demokratiese waardes, sosiale geregtigheid en fundamentele menseregte.

 

Struktuur

 

Die Regskliniek is deel van die Regsfakulteit en word statutêr erken as 'n regshulpkliniek in terme van die Wet op Prokureurs 53 van 1979 (soos gewysig) en is as sodanig gesertifiseer en geakkrediteer by die Prokureursorde van die Noordelike Provinsies.

 

Die personeel doen verslag aan die Departement van Prosesreg van die Fakulteit Regsgeleerdheid rakende sy opleidingswerksaamhede en aan die Bestuurskomitee ten aansien van die gemeenskapsdiens wat verrig word, wat op sy beurt aan die Fakulteitsraad van die Regsfakulteit en Prokureursorde van die Noordelike Provinsies verantwoording doen.


Om die Kliniek se 30ste Jaar Gedenkblad in PDF formaat af te laai, klik hier (ongeveer 53.2 MB)