Kyk wat berig die media oor ons Alumni! Hierdie brokkies is uit verskillende media verkry en word soms geplaas in die taal waarin dit verskyn het.
Neem gerus deel deur ‘n kort boodskap met nuus oor jouself of jou mede-alumni se loopbaanprestasies te stuur aan alumni@up.ac.za of faks (+2712) 362-5088. Maak asseblief seker dat jy ook die UP-kwalifikasie(s) en jaar waarin dit ontvang is, insluit.
Dr Aldred Genade (BA(Teologie), 2002; MA, 2004) is aangestel as die Direkteur van die nuwe bestuurseenheid in die Fakulteit Teologie aan die Noordwes-universiteit se Potchefstroomse Kampus. Hy is ook aangestel as Senior Dosent in die Nuwe Testament. Hy is onder andere verantwoordelik vir die bestuur van die Teologie-afstandsprogram.
Jaco Minnaar, (BIng(Landbou-ingenieurswese), 1998) is aangewys as Vrystaat Landbou se Jongboer van die Jaar vir 2011. Hy gaan die Vrystaat verteenwoordig op die Nasionale Jongboer van die Jaar-kompetisie wat later vanjaar gehou word. Die kompetisie word deur Agri SA en Toyota Suid-Afrika aangebied. Jaco het op die familieplaas Botesrust grootgeword en het op Henneman skoolgegaan. Later het hy ’n graad in Landbou-ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria behaal. Hy boer hoofsaaklik met mielies, aartappels, soja, vee en wild.
Theo Skosana (BIng(Industriële Ingenieurswese)) is die Provinsiale Direkteur van Standard Bank in Noordwes.
Errol Kruger (BCom(Bedryfsekonomie), 1985) was die Registrateur van Banke tot 1 Julie vanjaar, toe hy uit die pos getree het. Hy was die vierde Registrateur van Banke en ook die een wat die langste in die pos gedien het. Errol het op 1 Augustus by Qatar Financial Centre as Besturende Direkteur aangesluit. Sy verantwoordelikhede sluit toesighouding oor banke, versekeringsmaatskappye en portefeuljebestuursmaatskappye, asook die magtiging van maatskappye wat met dié instellings sake wil doen, in. Hy het 34 jaar gelede as ’n klerk by die Suid-Afrikaanse Reserwebank begin werk, en was die laaste twee dekades betrokke by banktoesighouding en -regulering.
Dr Frederick C de Beer (MBChB, 1971; MD, 1982), ’n ou fakulteitslid van die Universiteit van Kentucky en huidige Voorsitter van die Departement van Interne Geneeskunde, het die pos as Dekaan van die Kollege vir Geneeskunde en Visepresident van Kliniese Akademiese Aangeleenthede by dié universiteit aanvaar. Hy het sy nagraadse studie aan die Royal Postgraduate Medical School in Londen voltooi. Hy het as professor in Geneeskunde aan die Universiteit van Stellenbosch gedien voordat hy oorsee is.
Johann Strydom is die Besturende Direkteur van World Leisure Holidays. Hy het sowat 13 jaar gelede by die reis- en vakansiebedryf aangesluit. Voor dit het sy loopbaan ’n paar interessante wendings geneem. Hy was onder andere die Bestuurder van MultiChoice, hy het ’n assosiasie met Byrne Fleming (SA) gevorm en hy was Assistenthoof van Federale Volksbeleggings se onderdeledepartement, Finansiële Direkteur van Suid-Afrikaanse Brouerye se sorghumdepartement en rekenmeester by TOSA, wat deur Stewarts & Loyds besit word.
Heyneke Meyer (BA(Liggaamlike Opvoeding), 1988; BA(Hons)(Geografie), 1990) (Laureaat-ontvanger, 2007)) is aangewys as uitvoerende bestuurder van rugby by die Blue Bulls Company (Edms) Bpk. Meyer sal verantwoordelik wees vir die oorhoofse bestuur van Blue Bulls-rugby, wat amateurrugby en professionele rugby insluit, met die fokus op die prestasie van spanne in professionele rugby. Meyer het die Bulle na vier Currybekertitels en hul eerste Super Rugby-titel in 2007 aangevoer. Hy het aan die einde van 2009 by die unie aangesluit na sy terugkeer uit Engeland, en was by die opleiding van afrigters betrokke.
Candice Dabner (BCom(Bemarkingsbestuur), 2007) is aangestel as projekkoördineerder by LiN Media, die sambreelorganisasie wat tien gemeenskapskoerante in Limpopo verteenwoordig. Sy het voorheen by ’n reklamemaatskappy in Johannesburg gewerk. In haar nuwe pos sal sy alle projekte en aktiwiteite van LiN Media, wat nou ook ’n eie kantoor in Tzaneen het, bestuur.
Malene Breytenbach (BA, 1968: BA Hons(Engels), 1973) het aan UP studeer en in 1985 na Stellenbosch verhuis, waar sy verder gestudeer het en ’n doktorsgraad in Joernalistiek, ’n meestersgraad in Ou Nabye-Oosterse Studie en ’n meestersgraad in Antieke Studie behaal het. In 2005 het sy met ’n romanse, Palmyra herleef, by Lapa-uitgewers gedebuteer. Daarna het sy verskeie historiese, kontemporêre en mediese romanses (ook onder die skuilnaam Marilyn Bennet) geskryf. Sy het ook al verskeie kortverhale vir tydskrifte en koerantartikels geskryf.
Zak Benjamin (BA(Beeldende Kuns), 1979) het eers argitektuur gestudeer, opgeskop, en as ’n stoker en pyplêer gewerk voordat hy vir beeldende kuns ingeskryf het. Hy het dekor gemaak vir die Staatsteater, ’n kunsskool in Kaapstad bedryf, en was ’n onderwyser en dosent by die Vaaldriehoek Technikon en die Noordwes-universiteit. Die opening van die Zak Benjamin Retrospective op 20 September 2011 by die Oliewenhuis-museum het saamgeval met dié Suid-Afrikaanse veteraankunstenaar se sestigste verjaardag. Sommige van die werke op die uitstalling sal in 2012 op ander plekke in die land uitgestal word.
Dr Elmi Muller (MBChB, 1995) is onlangs aangewys as wenner van die Shoprite/Checkers se Vrou van die Jaar-kompetisie in die afdeling gesondheidsorg, omdat sy die eerste persoon in die wêreld was wat ’n nier van ’n MIV-positiewe persoon op ’n ander MIV-lyer oorgeplant het. Sy is ’n chirurg by die Groote Schuur-hospitaal. Sy het die eerste baanbrekersoperasie in Oktober 2008 uitgevoer en het sedertdien nog 14 sulke operasies gedoen.