English |  Afrikaans |    
  

Węreld se wetenskapakademies bepleit gekoördineerde aksie ten opsigte van bevolking en verbruik by Rio+20

Deur Academy of Science of South Africa (ASSAf)

Gelaai op 19 Junie 2012

Die węreld se 105 wetenskapakademies – insluitend die Academy of Science of South Africa (ASSAf) – het die węreldwye uitdagings ten opsigte van bevolking en verbruik beklemtoon deur te vereis dat węreldleiers tot beslissende aksie oorgaan.

ASSAf-president, professor Robin Crewe, het gesê dat die Academy of Science of South Africa ingenome is daarmee om ’n ondertekenaar van die verklaring te wees wat ’n gekoördineerde aksie ten opsigte van bevolking en verbruik vereis. Die uitdagings van bevolkingsaanwas en verbruik affekteer ontwikkelende sowel as ontwikkelde lande en plaas natuurlike hulpbronne onder druk. Hierdie is egter wêreldwye verantwoordelikhede wat op ’n kollektiewe en gekoördineerde wyse aangespreek moet word.

“Die Rio-spitsberaad bied ’n unieke geleentheid vir beleidmakers om die grondige, getuienisgebaseerde advies van wetenskapakademies van oor die wêreld te gebruik wanneer besluite oor die wêreld se toekoms gemaak word.”
 
Akademies van regoor die wêreld, insluitend uiteenlopende lande soos Brasilië, Ghana, die VK, Suid-Afrika, Bolivia en Duitsland, het deur middel van die IAP, die wêreldwye netwerk van wetenskapakademies, saamgekom om aksie ten opsigte van bevolking en verbruik te vereis.

Die akademies se verklaring beklemtoon die feit dat huidige patrone van verbruik, veral in lande met hoë inkomste, wegvreet aan die planeet se natuurlike kapitaal teen tempo’s wat die belange van toekomstige generasies ernstig beskadig, en gevolglik moet dit dringend verminder word. Dit beklemtoon verder die feit dat indien die regte toestande heers, die vermindering van vinnige bevolkingsaanwas ekonomiese ontwikkeling kan stimuleer en fasiliteer, gesondheid en lewenstandaarde kan verbeter, asook politiese en maatskaplike stabiliteit en sekuriteit kan verhoog.

Die verklaring beklemtoon die relevansie van bevolking en verbruik met betrekking tot die toekoms van sowel ontwikkelde as ontwikkelende lande en herinner beleidmakers wat vir Rio+20 voorberei aan die behoefte om die volgende te oorweeg:
  • Bevolking en verbruik bepaal die tempo’s waarteen natuurlike hulpbronne geëksploiteer word en die aarde se vermoë om nou en in die toekoms in ons kos-, water-, energie- en ander behoeftes te voorsien.
  • Huidige verbruikspatrone in sommige wêrelddele is nie meer volhoubaar nie.
  • Vinnige bevolkingsaanwas kan ’n struikelblok wees met betrekking tot die verbetering van lewenstandaarde in arm lande, om armoede uit te wis en om genderongelykheid te verminder.
  • Veranderings in bevolkingsouderdomstruktuur vanweë afnemende geboorte- en sterftetempo’s kan belangrike omgewings-, maatskaplike en ekonomiese nagevolge hê, byvoorbeeld as gevolg van die toenemende vraag na gesondheidsorg- en pensioenstelsels.
  • Bevolkingsaanwas dra by tot verhuising en verstedeliking wat indien dit onverwags en onbeplan is ekonomies en polities ontwrigtend kan wees en ernstige omgewingsimpakte tot gevolg kan hê, wat kan keer dat potensiële geleenthede vir ekonomiese en maatskaplike ontwikkeling gerealiseer word.
  • Die kombinasie van onvolhoubare verbruik en die aantal mense op die planeet kan ons kapasiteit om natuurlike biodiversiteit te ondersteun affekteer.
Die verklaring beklemtoon ook ’n paar belangrike stappe wat gedoen moet word, insluitend:
  • die oorweging van bevolking en verbruik in alle beleide, insluitend dié wat verwant is aan die vermindering van armoede en ekonomiese ontwikkeling, wêreldregering, onderrig, gesondheid, gendergelykheid, biodiversiteit en die omgewing;
  • die vermindering van die vlakke van skadelike tipes verbruik en die ontwikkeling van meer volhoubare alternatiewe, met kritiese stappe wat nodig is in lande wat hoër inkomste het;
  • die aanmoediging van ontwikkelingstrategieë wat help om bevolkingsaanwas te verminder, in die besonder dié wat onderrig vir vroue en meisies bevorder;
  • die voorsiening van toegang tot omvattende voortplantingsgesondheid- en gesinsbeplanningsprogramme vir almal. Hierdie kwessie vereis substansiële bykomende hulpbronne en aandag met betrekking tot beleid vanaf regerings en internasionale skenkers;
  • ’n wêreldwye skuif na ’n nuwe, groen ekonomie deur middel van die vermindering van die vlakke van skadelike tipes verbruik en die ontwikkeling van meer volhoubare alternatiewe;
  • die ontwikkeling van beleide wat die lewenskwaliteit van ouer mense verbeter en nuwe geleenthede vir hul voortgesette bydrae tot die samelewing skep; en
  • die ontwikkeling van beleide ten opsigte van stedelike beplanning wat toekomstige verbruiks- en demografiese tendense in ag neem.


Bookmark this page: