English |  Afrikaans |    
  
Departement Wetenskap, Wiskunde en Tegnologie-onderwys

Opvoedkundedosent een van die top 200 Jong Suid-Afrikaners

Deur Faculty/Fakulteit

Gelaai op 28 Junie 2012

Dr Lindelani Mnguni. Foto met die vergunning van M&G
Dr Lindelani Mnguni. Foto met die vergunning van M&G

Dr Lindelani Mnguni, ’n dosent in Wetenskaponderrig, is een van die top 200 Jong Suid-Afrikaners vir 2012 wie se name op 21 Junie 2012 tydens ’n funksie in Johannesburg bekendgemaak is.

Die Mail & Guardian se 200 Jong Suid-Afrikaners-projek identifiseer en vertel die verhale van jong Suid-Afrikaners onder die ouderdom van 35 jaar wat in hul beroepe uitblink en uitsonderlike bydraes maak.
 
Lindelani sê dat hy glad nie verwag het om in die lys ingesluit te word nie. “Ek het nooit eens daaraan gedink nie. Ek doen wat ek doen en verwag niks in ruil daarvoor nie.” Die lys word reeds die afgelope ses jaar opgestel en bestaan uit tien kategorieë wat opvoedkunde insluit.
 
Lindelani het sy PhD oor MIV-onderrig in Suid-Afrikaanse skole op 28-jarige ouderdom verwerf. Hy het ver gevorder as ’n mens in ag neem dat hy in landelike KwaZulu-Natal grootgeword het en die enigste leerder in sy klas was wat matriek geslaag en ʼn universiteitsopleiding voltooi het. Die lewe het hom geleer om nederig te bly. Terwyl hy met sy BSc-studie aan UKZN besig was, het hy as ’n tuinier gewerk om geld vir kos te verdien. Dit het egter gelyk of dit alles tevergeefs was toe hy nie werk kon kry nadat hy sy graad verwerf het nie.
 
Lindelani was ’n gemiddelde student en gevolglik het hy nie vir nagraadse studie gekwalifiseer nie. Hy was egter ambisieus en het aansoek gedoen om spesiale vergunning om verder te studeer. Hy is aanvaar en van toe af het Lindelani op akademiese en persoonlike gebied uitgeblink. Hy verwerf sy meestersgraad met lof. Terwyl hy besig was met sy meesterstudie, het hy sy eie Saterdagskool en Junior Wetenskapakademie by die Hoërskool Marionhill in Pietermaritzburg begin. Hy wou kinders besiel en motiveer om te leer en vooruit te kom in die lewe.
 
Toe ’n vriend uit Engeland hom besoek en graag wou sien hoe mense in die Suid-Afrikaanse townships lewe, het ’n besoek aan Copesville en die besef van die lyding van die mense daar, Lindelani by ’n kruispad in sy lewe gebring. Hy het besluit dat hy eenvoudig meer oor MIV moes uitvind en moes leer hoe mense doeltreffend onderrig kon word om hulle te help om hul lewens te verbeter, en hulle te bemagtig. Dit het gelei tot sy registrasie by UP, waar hy ’n PhD in Kurrikulumstudies en MIV/Vigs-opvoeding verwerf het.
 
Lindelani is tans in diens van die Universiteit van Pretoria. Hy neem sy rol as dosent ernstig op en help studente uit landelike gebiede om by die universiteitslewe aan te pas. Hy lei ook ’n weeklikse gebedsgroep en motiveringsessies. Deur sy passie en volharding leer hy sy studente die belangrike les dat waar jy vandaan kom minder belangrik is as jou uiteindelike bestemming.
 
“Van nou af wil ek verseker dat ek voortgaan om ’n sinvolle bydrae te maak en om my insluiting as een van die top 200 Jong Suid-Afrikaners te regverdig, maar bowenal wil ek my studente inspireer om doelbewus daarna te strewe om ’n verskil te maak.”


Bookmark this page: