Krygsgevangene in brons verewig: Edoardo Villa se bydrae tot Suid-Afrikaanse beeldhoukuns
Deur UP Arts Museum
Gelaai op 20 Julie 2012
Edoardo Villa is aan die begin van die Tweede Wêreldoorlog deur die Italiaanse weermag opgekommandeer en is in Egipte gevange geneem. Hy is na Suid-Afrika gestuur en as krygsgevangene in die Zonderwater Krygsgevangenekamp naby Cullinan geïnterneer.
Na die Oorlog was Villa een van die vele Italianers wat Suid-Afrika as hulle nuwe tuiste aanvaar het. Sy abstrakte kuns en vernuftige gebruik van verskillende materiale het Suid-Afrikaners bekoor en hy het gou een van Suid-Afrika se vernaamste beeldhouers geword. Villa se werk vorm deel van stedelike sowel as landelike landskappe dwarsoor Suid-Afrika. Met sy Italiaanse aard en Afrika-hart het Villa ʼn unieke en kosbare erfenis nagelaat.
In 1963 het Edoardo Villa by sy lewenslange vriend Cecil Skotness, wat die Amadlozi-groep gestig het, aangesluit om swart kunstenaars te onderrig en tot verdere uitnemendheid en internasionale blootstelling aan te spoor. In hierdie groep was kunstenaars soos Sidney Kumalo, Lucas Sithole, Dumile Feni en Ezrom Legae uitblinkers.
Die Departement UP Kunste van die Universiteit van Pretoria en die Edoardo Villa Trust, bied vanaf 31 Julie 2012 ʼn oorsig oor die nalatenskap wat Edoardo Villa (1915-2011) in brons agtergelaat het.
Die uitstalling sal van 1 Augustus tot 30 November 2012, Maandae tot Vrydae, van 10:00 tot 16:00 in die Edoardo Villa-museum op die Hatfieldkampus van die Universiteit van Pretoria vir die publiek oop wees. ʼn Nuwe boek, getitel Villa in Bronze waarin 378 gegote beelde uitgebeeld word, sal te koop aangebied word.
Vir meer inligting, kontak 012 420 6419/5450 of per e-pos: museums@up.ac.za.
Taalversorger: UP Taaleenheid
|