|
Kongres oor Modernisme en Moderniteit, 2 April 2012

Die Departement Afrikaans van UP het op 2 April ’n suksesvolle kongres, “Patryspoort na buite”, oor modernisme en moderniteit aangebied. Die kongres sluit aan by ’n navorsingsprojek in die Fakulteit Geesteswetenskappe by UP oor “suidelike” moderniteite wat in 2012 van stapel gestuur is. Die titel van die kongres, “Patryspoort na buite”, verwys na die patryspoorte wat op die universiteitswapen voorkom en in 2010 het wyle prof. Heinrich Grebe die reëlings van die vorige Patryspoortkongres hanteer. In 2012 was dit prof. Andries Visagie wat vir die organisasie verantwoordelik was.
Die openingsreferaat is deur die departementshoof van die Departement Afrikaans, prof. Willie Burger, oor Ingrid Winterbach se roman Die benederyk gelewer en dit is gevolg deur ‘n referaat oor dieselfde teks deur prof. Thys Human van die Universiteit van Johannesburg. Ander deelnemers van buite die Universiteit van Pretoria het dr. Franci Vosloo van die Universiteit van Stellenbosch en me. Martjie Bosman van Protea Boekhuis ingesluit.
Die referate van prof. Russel West-Pavlov (Departement Engels, UP) en mnr. Mark Kourie (Departement Filosofie, UP) het ’n interessante blik op die moderniteit buite die Afrikaanse en Nederlandstalige literatuur gebied. Nagraadse studente van die Departement Afrikaans, Shaun de Jager, Neil van Heerden en Dawita van der Walt (saam met prof. Andries Visagie) het ook flink aan die verrigtinge deelgeneem en waardevolle referate oor onderskeidelik die werk van Etienne van Heerden, N.P. van Wyk Louw en D.J. Opperman gelewer.
Die kongres het boeiende vrae oor die modernisme en die moderniteit in die globale Suide aan die orde gestel. Intussen duur die projek oor “suidelike” modernisme en moderniteit binne die Fakulteit voort en lede van die Departement Afrikaans neem steeds met belangstelling deel.

|