Internasionale Konferensie: Bestuur van Migrasie en Maatskaplike Beleid op Streeksvlak
Deur Shirley de Villiers
Gelaai op 10 April 2012
Die Departement Politieke Wetenskappe van die Universiteit van Pretoria sal as gasheer optree vir ’n konferensie oor “Die bestuur van migrasie en maatskaplike beleid op streeksvlak: ’n Vergelyking tussen integrasiebeleide en -praktyke op streeksvlak in Europa en Afrika”, wat op 19 en 20 April 2012 gehou sal word.
Internasionale en streeksmigrasie is deesdae ’n fundamentele verskynsel wat op sowel politieke as maatskaplike vlak aandag behoort te geniet. Benewens die bestuur van migrasiebewegings, wat verskeie uitdagings aan nasionale bestuur stel, vereis die fasilitering van vrye beweging tussen streke belangrike omwentelings in maatskaplike beleid op streeksvlak.
Hierdie konferensie, wat deur die Europese Unie befonds word, sal die belangrike verband tussen migrasie, maatskaplike beleid en streeksbestuur ontleed deur op die sterk en swak punte van bestaande benaderings in Europa en Afrika te fokus. Dit bring die wêreld se vooraanstaande kundiges op dié gebied byeen, asook die hoofverteenwoordigers van burgerlike organisasies en interregeringsagentskappe.
Die sprekers is ondere ander prof Luk van Langenhove (Verenigde Nasies Universiteit, Brugge), dr Alexander Betts (Oxford), dr John Oucho (Nairobi) en dr Guy Nono (Douala, Kameroen).
Die konferensie sal in kamer L1-76 van die UP Nagraadse Sentrum (gebou 52 op die kampuskaart) gehou word.
Vir verdere inligting oor die konferensie, of om bywoning te bevestig, kan u met me Carla Jellema in verbinding tree (carla.jellema@up.ac.za or +27 12 420 4486).
|
|
|