Oorsig
|
.jpg) |
Geluk met u vakkeuse!
Plantkunde is, kortliks gestel, die studie (as wetenskap) van plante. Hierdie wetenskap sluit al die aspekte in van ‘n plantestudie naamlik: hul voortplanting (Reproduksie), struktuur (Morfologie), name en benaming (Nomenklatuur), klassifisering (Taksonomie), chemiese en fisiese prosesse wat in die plant plaasvind (Plantfisiologie), die verspreiding van plante oor die aarde (Plantgeografie) en die verwantskappe tussen plante onderling en tussen plante en hul omgewing (Plantekologie). Verder behels hierdie wetenskap ook die bestudering van molekulêre prosesse in plante (Plantmolekulêre biologie), oorerwing by plante (Plantgenetika), hul siektes (Plantpatologie) en hul evolusionêre ontwikkeling en fossiele-geskiedenis (Paleobotanie).
Afgesien van die primêre en baie belangrike bydrae van plante tot enige biologiese sisteem, speel plante ook ‘n fundamentele rol in talle ander aspekte van die biologiese wêreld, waarvan voedselvoorsiening en medisinale gebruike maar enkeles is. Nuwe gebruike van inheemse plantsoorte is tans aan die orde van die dag. Ons land het 'n besonder ryke verskeidenheid plantsoorte wat aangepas is om in verskillende habitatte te leef. Suid-Afrika is dus 'n paradys vir enigeen wat die inheemse plante, hul gebruike en hul leefwyses wil bestudeer.
Gryp dus die uitdaging aan en geniet tegelykertyd 'n ryke en volle studente- en beroepslewe terwyl u die geheimenisse van die plante ontrafel en ‘n bydrae tot ons samelewing en land lewer.
|