Oor ons Departement
Die eerste lesings in Plantkunde en Dierkunde aan die Universiteit van Pretoria, toe bekend as die Transvaal Universiteitskollege (TUK), het 'n aanvang geneem in Maart 1909.
Die enigste lektor op daardie stadium was 'n welbekende entomoloog, dr A J T Janse. In 1910 is prof H A Wager aangestel as die eerste voltydse lektor in die Departement Plantkunde en is later bygestaan deur dr B Elbrecht en prof J M Hector. Prof H A Wager het bedank in 1923 en is opgevolg deur prof C E B Bremekamp as die nuwe Hoof van die Departement Plantkunde in 1924. Ná sy bedanking in 1931 is hy deur prof B Elbrecht as nuwe Departementshoof opgevolg.
Die Departement Plantkunde was op daardie stadium gehuisves in die ou Landbou-gebou, maar het in 1940 verhuis na 'n splinternuwe Plantkunde-gebou in die noordwestelike hoek van ons hedendaagse UP-hoofkampus.
Die nuwe gebou is deur Gerard Moerdyk ontwerp.
In April 1944 het prof Margaretha G Mes as Departementshoof by prof B Elbrecht oorgeneem toe sy in dieselfde jaar afgetree het. Sy het vir haar uitsonderlike navorsing in die veld van plantfisiologie bekend gestaan en was die tweede dame wat as professor aan die Universiteit van Pretoria aangestel is. Die Bateman-laboratorium, een van die wêreld se eerste fitotronne, is in 1949 opgerig. Die Vetman-gebou (afgelei van Veterane van WOII) en die Bertha Stoneman-gebou is ook opgerig en het, tesame met die Bateman-laboratorium, as die nie-amptelike "Plantfisiologiese Navorsingsinstituut" in 1954 bekend geword.
Met prof Mes se afsterwe op 25 Julie 1959 is die nie-amptelike instituut amptelik die "Margaretha Mes Instituut vir Plantfisiologie" gedoop. Prof N Grobbelaar het prof Mes as Hoof van die Departement Plantfisiologie in 1959 opgevolg, terwyl prof H G W J Schweickerdt as Hoof van die Departement Plantkunde opgetree het. Met prof Schweickerdt se aftrede in 1963, het prof H P van der Schijff hom opgevolg as Hoof van die Departement Plantkunde. Die twee plantkundige departemente het egter saamgesmelt in 1975 met prof Van der Schijff se bevordering tot Dekaan van die Fakulteit van Wiskundige en Natuurwetenskappe. Prof Grobbelaar het opgetree as Hoof van wat toe bekend geword het as die Departement Plantkunde. Prof Grobbelaar het sy hoofskap bedank in 1986, hoewel hy aangebly het as Professor in die Departement.
Prof Albert Eicker is aangestel as die nuwe Departementshoof op 1 Oktober 1986. Prof J J M (Marion) Meyer het prof Eicker opgevolg as Hoof van die Departement Plantkunde met sy aftrede in Desember 2000.
|