Die TuksAlumni Beursfonds
Die alumnivereniging, TuksAlumni, het jare gelede as die Bond van Oud-Tukkies begin om geld in te samel vir ‘n beursfonds wat verdienstelike huidige studente help om aan hulle Alma Mater te studeer.
A) Inligting vir donateurs
Hoe kan Oud-Tukkies bydra tot die TuksAlumni Beursfonds?
Deur 'n donateur van TuksAlumni se Beursfonds te word, kan jy 'n behoeftige student help om, net so jy, 'n gesogte UP-kwalifikasie te bekom. As donateur van die TuksAlumni Beursfonds kan jy uitsoekjongmense help om 'n gesogte kwalifikasie aan 'n gesogte universiteit - die Universiteit van Pretoria - te behaal. Só bou ons aan lojale Oud-Tukkies, en handhaaf ons die standaarde van Tuks.
Voornemende donateurs kan die TuksAlumni-kantoor, tel + 27 12 420-3086 of alumni@up.ac.za vir meer besonderhede kontak.
Hierdie prominente Oud-Tukkies ondersteun reeds jare lank die TuksAlumni Beursfonds:
- Dr Chris Stals - Voormalige Kanselier van UP
- Dr Victor Hesse - Oudvoorsitter van die UP-Raad
- Dr Johan van Zyl - Uitvoerende Hoof van SANLAM
- Regter Frikkie Eloff - President van die Konvokasie
- Dr Piet Botha - Voormalige Voorsitter van die TuksAlumni-Raad en UP-raadslid
Doelwitte van die fonds
- Om verdienstelike studente van UP met beurse te ondersteun.
- Om deur hierdie finansiële ondersteuning hoë kwaliteit studente vir studie aan UP te trek en só die hoë standaarde van die Universiteit te handhaaf.
Hoekom deelneem?
As donateur of stigtersdonateur kan jy 'n verdienstelike student ook die geleentheid gee om te studeer - dit is 'n lewenslange geskenk! Jy sal ook 'n Artikel 18A-belastingsertifikaat ontvang mits jy nie self voordeel uit jou skenking trek nie.
Hoe word ek 'n stigtersdonateur?
Jy word 'n stigtersdonateur van die TuksAlumni Beursfonds deur 'n eenmalige donasie van R1 000 of meer te skenk. Slegs die eerste 1 000 donateurs sal as stigtersdonateurs beskou word. Jy kan ook twee gelyke donasies van 'n minimum van R500 per semester skenk. Skenkings van enige bedrag word egter ook verwelkom.
B) Inligting vir studente en voornemende beurshouers
Wie ontvang beurse?
Enige verdienstelike student in enige studierigting kan vir 'n TuksAlumni-beurs - wat vir een jaar geldig is - aansoek doen. Hoewel nie voorwaardelik, sal daar by die toekenning van beurse in aanmerking geneem word of die ouer of voog van die aansoeker 'n Oud-Tukkie is.
TuksAlumni stel ook Beurse aan nagraadse studente in enige studierigting beskikbaar
Minimum vereistes en kriteria vir beursaansoekers
- Beursaansoekers moet:
- oor matrikulasievrystelling met ten minste ‘n C-gemiddelde simbool beskik
- toelating tot UP hê;
- gekeur wees vir ‘n beplande studierigting; en
- aan die UP Raad se formule vir finansiële behoeftigheid voldoen.
- Beurstoekennings neem geslag- en ras gelykheid in ag.
- Daar mag van beurshouers verwag word om sowel tydens hulle studie as daarna ‘n betrokkenheid by die Kantoor vir Alumniverhoudings te handhaaf.
- Die beurswaarde sal wesenlik wees maar is beperk tot volle klasgeld.
- Voorgraadse beurse is jaarliks hernubaar.
- Die termyn waarvoor ‘n student vir die betrokke beurs kwalifiseer, word bepaal deur die minimum tydperk soos voorgeskryf deur die Algemene Regulasie G18.3.
- Beurshouers wat nie tot ‘n volgende studiejaar bevorder word nie, moet die daaropvolgende studiejaar op eie koste voltooi, waarna hernuwing van die beurs op grond van akademiese vordering heroorweeg kan word, indien fondse beskikbaar is.
- Nagraadse beurse se beurstermyn is beperk tot die minimum voorgeskrewe studietermyn, te wete:
- Honneursgraad – een jaar;
- Magistergraad – twee jaar; en
- Doktorsgraad – drie jaar
- In gevalle waar UP personeel kwalifiseer vir finansile bystand (byvoorbeeld personeelkorting, prestasiebeurs, ens.) sal die betrokke personeellid en/of sy afhanklikes nie vir die TuksAlumni-beurs kwalifiseer nie.
Aansoek- en Toekenningsprosedures
Studente kontak die UP KLIëNTEDIENSSENTRUM by tel +2712 420 3111 of csc@up.ac.za en doen aansoek vir die TuksAlumni-beurse op die voorgeskrewe beursaansoekvorm vir Studiefinansiering onder die afdeling "UP-ONDERSTEUNINGSBEURSE".
Meld asseblief hier dat die aansoek vir 'n TuksAlumnibeurs is. Meer inligting en aansoekvorms is beskikbaar by http://www.up.ac.za/fao/
Verdere navrae oor die TuksAlumni-beurse kan gerig word aan die Afdeling: Studiefinansiering, tel ( + 27 12) 420 2163.
- Die Universiteit adverteer die beurse jaarliks in die beursbrosjure en ander reklamedokumentasie.
- Belangstellende studente doen op die standaard UP-beursaansoekvorm aansoek vir die beurs.
- Na die sluitingsdatum word ‘n nominasielys met aanbevole beursbedrae aan die Keurkomitee vir oorweging voorgelê.
- Die algemene reëls wat in die brosjure oor studiefinansiering vervat word, geld vir voorgraadse sowel as nagraadse aansoekers, tensy die brosjure anders vermeld.
- Aansoekers moet aan die kriteria wat die Universiteit vir toelating tot die betrokke studierigting neerlê voldoen.
- Die kriteria ten opsigte van die betaling van beurse asook die terugbetaling van beurse, in gevalle waar studente nie bevredigend presteer het nie, verskyn in die brosjure oor studiefinansiering onder die opskrif “Algemene inligting oor UP studiefinansiering”.
- ‘n Beurstoekenning vir ‘n betrokke jaar is ten volle terugbetaalbaar in geval 'n student studie onderbreek, staak of van kursus verander.
- Skenkingsfondse word deur die Beleggingskomitee van die Raad van die Universiteit belê en geadministreer.
- Die Universiteit onderneem om jaarliks aan die TuksAlumni Raad verslag te doen oor die stand van die fondse.
- ‘n Artikel 18A belastingsertifikaat word slegs uitgereik aan donateurs wat nie voordeel uit hulle skenking ontvang nie.
Omvang en frekwensie
- Die fondse is kapitaalbouend. Hoogstens 80% van die rente-opbrengs word jaarliks vir beursdoeleindes beskikbaar gestel.
- Die TuksAlumni-Raad besluit hoeveel beurse jaarliks (binne die 80%-rente-opbrengs parameter) toegeken word.
- Bestaande kwalifiserende beurshouers geniet voorkeur.
- Die TuksAlumni-Raad besluit (met inagneming van die beurshouer se vordering) of die toekenning van ‘ n beurs vir die volgende termyn gekontinueer word al dan nie.
Bestuur en keurkomitee van die TuksAlumni Beursfonds
Die TuksAlumni Beursfonds word beheer deur die TuksAlumni-raad en bestuur deur die Afdeling: Studiefinansiering van Tukkies. Die keurkomitee bestaan uit die TuksAlumni-raad of 'n keurkomitee wat deur hierdie Raad aangewys is.
Die toekenning van beurse geskied in ooreenstemming met die TuksAlumni Algemene Beursfondsreglement asook die TuksAlumni/Absa Beursfondsreglement.
Ama Materfonds-afslag
Bogenoemde is nie 'n beurs nie, maar 'n EENMALIGE AFSLAG van R1000 op 'n eerstejaarstudent se klasgeld. Dit geld slegs vir eerstejaars wie se ouer(s) lede van die TuksAlumni Alma Materfonds is.
Studente wie se ouers lede van die Alma Materfonds is (of die ouers/lede self), doen by die TuksAlumnikantoor in Kya Rosa aansoek vir dié afslag op die voorgeskrewe vorm. Bewys van die ouer(s) se lidmaatskap van die Fonds moet gelewer word. Aansoek vir die afslag moet betyds gedoen word aangesien dit nie outomaties geskied nie en ook nie geld sodra die student se rekening 'n nul saldo bereik het nie. Geen geld word aan lede of studente uitbetaal nie.
Meer inligting oor en bepalings van die Alma Materfonds is hier beskikbaar.

Sommige van die TuksAlumni-beurshouers vir 2010 met UP-personeel
en die Voorsitter van die TuksAlumni-raad, Rikus Immink (links agter).
|