English |  Afrikaans |    
  
Dramadepartement

"Hegter" verken destruktiewe kant van verhoudings


Gelaai op 28 September 2010

"Liefde en seks is soos politiek: Dis nie wat jy sê wat saakmaak nie, nog minder wat jy bedoel, maar wat jy doen..."

Op die oppervlak is Hegter wakker, beskaaf, pittig, obseen, modern, aanhaalbaar, glansend, maar onder die vel is dit gevoelvol, pynlik, hartseer en wys. Alles in hierdie intieme kringetjie gaan om seksuele jaloesie en seksuele begeerte; dit spreek menslike isolasie versigtig aan – selfs in intense verhoudings.

Enigeen wat al ooit verlief was en die liefde verloor het, wat al ooit ontrouheid ervaar het of gevoel het hoe liefde sterf, sal Hegter kyk met ‘n maag wat draai van die pyn van herkenning.

Patrick Marber is ‘n Britse dramaturg. Sy tweede Drama, Closer (vertaal as Hegter) het geopen by die  Royal National Theatre in 1997. Dit het verskeie teatertoekennings ingepalm, waaronder die  Evening Standard Award vir die beste komedie. In 1999 het Closer geopen in Broadway, waar dit die New York Drama Critics’ Circle Award vir die beste buitelandse drama gewen het.

 

Regisseur André Stolz het sy dramastudies in 1981 by die Universiteit van Pretoria voltooi, en in dieselfde jaar sy TV-debuut gemaak in Anton Chekhov se The Cherry Orchard. Sedertdien werk hy as professionele akteur, regisseur, vervaardiger en vertaler. As regisseur en vertaler het hy klassieke stukke aangepak soos Ibsen (Hedda Gabler) en  Anton Chekhov (Oom Wanja). Hy het nuwe stukke uit die pen van Rian Malan (Die Nagloper), Harry Kalmer (Parkamampoer), Deidre Venter (Verwagtings) en Hans Pienaar (Kom terug, Saartjie en Drie Dosyn Rose) geregisseer.

Hegter speel gedurende die Woordpoort Kunstefees by die Universitiet van Pretoria, wat plaasvind vanaf 6 – 10 Oktober 2010.

Die produksie speel in die Maskerteater by die Universiteit van Preoria, van Donderdag 7 Oktober tot Saterdag 9 Oktober, om 20:00 elke aand en met ‘n matinee om 15:00 op Saterdag die 9de. Kaartjiepryse is R50.00 vir volwassenes, en R40.00 vir studente en blokbesprekings van 10 mense en meer.

UP Kunste verskaf tegniese ondersteuning aan die produksie.

Vir meer inligting, kontak:

Yvonne Rabie:  yvonne.rabie@up.ac.za of 012 420-2558

Vir besprekings, kontak:

Marielle Labuschagne: production@postino.up.ac.za of 012 420 3644

Bookmark this page: