Agtergrond

Die Dramadepartement van die Universiteit van Pretoria is in 1965 onder leiding van prof Cronjé gestig. Die Departement se oogmerk was om teaterpraktisyns op te lei wat bydraes kon lewer tot die snel ontwikkelende teaterbedryf van daardie tyd. Die Departement wou Afrikaanse teater verder bevorder, soos voorgeskryf deur die sosiohistoriese milieu en vereistes van die bedryf. Die alumni van die Departement, hulle werk in die teaterbedryf, sowel as die bydraes van personeellede en studente in die akademiese arena was en is steeds 'n bewys van die Departement se toewyding tot voortreflikheid.
Deur die jare het die Departement in voeling gebly met die vereistes van die bedryf en van 'n veranderende samelewing. Die Departement se toewyding tot voortreflikheid het steeds nie verander nie. Huidige opleiding sluit die kontemporêre begrip van die kunstenaar-geleerde in: deur sowel ervaringsleer as akademiese bevraagtekening te gebruik, kry studente 'n artistieke en kreatiewe sowel as 'n analitiese en praktiese benadering tot teater, film en verwante terreine, soos nuwe media. Vandag spog die Departement met 'n multikulturele omgewing waar Suid-Afrika se ryk en kultureel uiteenlopende erfenis erken en gevier word. Internasionale uitreiking vind gereeld plaas deur middel van die bywoning van konferensies en simposiums en deur geleenthede te skep vir praktiese toepassing van nuwe ontwikkelings.
|