Studiefinansiering
Verskeie versekeringsmaatskappye en konsultaktuarisfirmas bied beurse aan vir voltydse aktuariële studies. Hierdie beurse is gewoonlik omvattend, maar die kandidaat moet gewoonlik vir die borg gaan werk vir die tyd wat die beurs betaal het.
Dit is baie moeilik vir studente om beurse vir hul eerste studiejaar te bekom aangesien meeste maatskappye eers wil sien hoe studente akademies op universiteit presteer voor hulle die belegging maak.
Die South African Actuarial Development Programme (SAADP) bied studiefinansiering aan verdienstelike studente wat dit nie andersins kan bekostig om universiteit toe te gaan nie. Dit sluit ook borgskappe vir die eerste studiejaar in. Meer inligting kan verkry word by SAADP.
Die Departement Versekerings- & Aktuariële Wetenskap hou nie lyste van borge nie. Kandidate word aangeraai om die maatskappy direk te kontak. Omdat ‘n beurshouer gewoon ‘n “vennoot” in die maatskappy word, ag ons dit ‘n goeie leerskool en ondervinding vir die student om self die maatskappy te beoordeel volgens hul optrede tydens beursonderhandelinge. Op hierdie manier kan die kandidaat dan self besluit of hy of sy ‘n “vennoot” van die betrokke maatskappy wil word.
Dit mag dalk ‘n bedekte seën wees om nie ‘n beurs te hê en daarom ‘n werkverpligting te hê na jy afgestudeer het nie. Die vrye keuse van graduandi, veral dié met ‘n paar vrystellings, plaas hulle in ‘n baie beter posisie om ‘n aanstelling van hul keuse te beding.
Studente wat aktuariële wetenskap aan die Universiteit van Pretoria wil studeer moet op hul beursaansoekvorms aandui dat hulle gaan registreer vir die BSc (Aktuariële en Finansiële Wiskunde)-graad en daarna vir die BSc (Hons)(Aktuariële Wetenskap)-graad.
‘n Volledige lys van studiefinansiering wat vir studente beskikbaar is, kan hier verkry word.
Merietetoekennings wat deur die Universiteit van Pretoria betaal word, dra ook by om die finansiële las te verlig. Besonderhede hiervan kan van die Universiteit se Beurse en Lenings Afdeling by die Kliëntedienssentrum verkry word. Merietetoekennings word outmaties van ‘n student se studenterekening afgetrek.
Daar is ook jaarlikse pryse vir toppresteerders an die bedrae van hierdie pryse wissel van R1000 tot R5000, afhangende van die maatskappy wat die prys borg.
Tuis
|