|
Eerste Internasionale Konferensie oor Verantwoordelike Leierskap
Ongeveer 149 internasionale beroepslui het van 18 tot 20 Mei 2010 by die Universiteit van Pretoria byeengekom vir die eerste Internasionale Konferensie oor Verantwoordelike Leierskap. Dit is georganiseer deur die Sentrum vir Verantwoordelike Leierskap (CRL) in die Universiteit se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe en geborg deur die Deutsche Gesellschaft für Technische Zusammenarbeit (GTZ).
Hierdie konferensie het praktisyns en teoretici bymekaargebring wat daartoe verbind is om verantwoordelike leierskap in verskeie sektore dwarsoor die wêreld te bevorder. 'n Breë spektrum van onderwerpe en uiteenlopende deelname het die kompleksiteit van die opkomende vakgebied van verantwoordelike leierskap weerspieël en het as 'n konstruktiewe platform gedien vir bydraes tot die verdere ontwikkeling van hierdie vakgebied.
Onderwerpe in die akademiese strome het gewissel van die vermoëbou van verantwoordelike leiers en omgewingsleierskap tot leierskap in gemeenskaps-ontwikkeling. Ander temas was beskrywings van leierskap, strategieë vir die vaslegging van volhoubaarheid in organisasies, die verbetering van leierskap in die openbare sektor en die koestering van leierskap in organisasies. Die praktisynstrome het 'n soortgelyke diversiteit getoon en het werkswinkelsessies oor die bevordering van verantwoordelike en waardegedrewe leierskap ingesluit. Spesifieke toepassings was onder meer nie-finansiële rekeningkunde, gesondheidsorg en klimaatsverandering.
Die CRL het ook die eerste Internasionale PhD Colloquium in Verantwoordelike Leierskap aangebied en het studente uit Suid-Afrika en Afrika byeengebring. Nog 'n konstruktiewe platform vir die bespreking van leierskapkwessies was die rondetafelsessies met hoof uitvoerende beamptes (HUB's) wat op die laaste dag van die konferensie tydens ontbyt plaasgevind het. By hierdie geleentheid het die perspektiewe van drie verskillende HUB's – Benjamin Mophatlane (van Business Connexion), Mark Drewell (van die Global Responsible Leadership Initiative in Brussels) en Russel Loubser (van die Johannesburgse Effektebeurs) – debat tussen afgevaardigdes gestimuleer.
Die konferensie het verder die belangrikheid van die versterking van netwerke vir die ontwikkeling van verantwoordelike leierskap beklemtoon. Daar word gehoop dat die idees en verhoudings wat deur die konferensie ontwikkel het en versterk is, sal bydra tot die groei van hierdie vakgebied ten einde by te dra tot stelsels wat sal help om 'n nuwe generasie verantwoordelike leiers te vestig.

Prof Cheryl de la Rey, Visekanselier en Rektor van UP, mnr Jacko Maree,
Hoof Uitvoerende Beampte van die Standard Bank-groep, prof Carolina Koornhof,
dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, en prof Derick
de Jongh, direkteur van die Sentrum vir Verantwoordelike Leierskap.
|