English |  Afrikaans |    
  

Kansellasie van die Lentedag-voorafpartytjies 2011

Deur Prof Roelf Visser

Gelaai op 05 September 2011

Die 2010 Lentedag-voorafpartytjies (Pre-Springday party) het tot aansienlike probleme en skade op die koshuispersele gelei. Dit is te wyte daaraan dat die koshuise en fasiliteite op die terrein nie ontwerp is om groot getalle mense, insluitende die publiek, te akkommodeer nie.

Ten einde 'n oplossing te vind vir die probleme wat in 2010 ervaar is, is daar onder meer met die VSR en ander belanghebbendes gesprek gevoer, terwyl ’n maatskappy wat byeenkomste koördineer, ook genader is om hulp te verleen met ’n moontlike projekplan. Alle voorstelle is geëvalueer teen onder andere die agtergrond van die bepalings van nuwe wetgewing wat openbare byeenkomste en funksies reguleer. Hierdie wetgewing stel streng vereistes ten opsigte van sake soos skarebeheer, verkeersopeenhopings en regulering, die veiligheid van inwoners, die oortreding van dranklisensiebeperkings, ensomeer.

Dit het ongelukkig duidelik geword dat die risiko’s wat gepaard gaan met Lentedag-voorafpartytjies nie sinvol beperk kan word nie. Die logistiese probleme gepaardgaande met ‘n megapartytjie op die koshuisterrein is eenvoudig te groot. Derhalwe het die bestuur van die Universiteit besluit dat die klubhuise by die onderskeie koshuise op Dinsdag 6 September 2011 gesluit sal wees. Daar sal dus geen Lentedag-voorafpartytjies by die koshuise op Dinsdag 6 September 2011 plaasvind nie.

Prof Roelf Visser
Direkteur: Koshuisaangeleenthede en Akkommodasie