GIBS se DBA-graad kry volle internasionale akkreditering
Deur GIBS News
Gelaai op 13 September 2012
Die Association of MBAs (AMBA) wat in Londen gebaseer is, het die Doktorsgraad in Besigheidsadministrasie (DBA) van die Universiteit van Pretoria se Gordon Institute of Business Science (GIBS) volle internasionale akkreditering vir ʼn vyf-jaar- hernubare termyn gegee
Die Association of MBAs (AMBA) wat in Londen gebaseer is, het die Doktorsgraad in Besigheidsadministrasie (DBA) van die Universiteit van Pretoria se Gordon Institute of Business Science (GIBS) volle internasionale akkreditering vir ʼn vyf-jaar- hernubare termyn gegee. Dit is die eerste keer dat ʼn Suid-Afrikaanse sakeskool se doktorale program in sakebestuur internasionale akkreditering kry.
Die DBA se akkreditering bring die getal AMBA-akkrediterings vir GIBS op twee te staan. Die eerste was die Sakeskool se vlagskip-program, die MBA (Meestersgraad in Besigheidsadministrasie). GIBS het vyf jaar gelede die gesogte AMBA- internasionale akkreditering vir sy MBA-program gekry en in Mei vanjaar het die Assosiasie se International Academic Advisory Board (IAAB) aanbeveel dat die akkreditering onvoorwaardelik vir ʼn volgende tydperk van vyf jaar verleng word.
Een van die beste sakeskole
AMBA -akkreditering, die wêreldwye maatstaf vir alle MBA-, Masters in Business & Management (MBM) en DBA-programme, word slegs gegee aan sakeskole met voortreflike programme van die hoogste internasionale standaard, en dit is ʼn bevestiging van GIBS se kwaliteit-onderrig.
“Die erkenning van ons DBA, benewens ons MBA se akkreditering deur AMBA, versterk ons posisie as een van die beste sakeskole, nie net in Afrika nie, maar internasionaal. Dit gee aan ons studente die versekering dat ons wêreldklas-programme aanbied wat internasionale erkenning geniet,” sê Shireen Chengadu, die uitvoerende direkteur van akademiese programme.
“In ons strewe na uitnemendheid as ʼn leidende sakeskool verseker ons dat ons aan ons studente ʼn mededingende voordeel gee deur onsself met die beste professionele liggame in die wêreld te verbind. Benewens GIBS se AMBA-akkreditering, is GIBS ook lid van twee van die wêreld se grootste sakeskool-netwerke en akkrediteringsliggame, die Association to Advance Collegiate Schools of Business en die European Foundation for Management Development,” het Chengadu bygevoeg.
|