UP Kunste bied aan: KUESTA Universiteitskore Prestige Konsert
Deur UP Arts
Gelaai op 17 Augustus 2011
Die mees gesogte koorkonsert op die Pretoria-kalender vind op Sondag 2 Oktober 2011 om 18:00 plaas.
Die “Groot 5” Suid-Afrikaanse Universiteitskore sal by hierdie prestige Kuesta-galakonsert optree. Die deelnemende kore is die Universiteit van Pretoria Camerata, die Universiteit van Stellenbosch Koor, die Universiteit van Johannesburg Koor, die Nelson Mandela Metropolitaan Universiteitskoor en die Noordwes-Universiteitskoor (PUKkoor).
Die konsert vind in die Musaion, op UP se Hatfieldkampus plaas. Kaartjies is by Computicket beskikbaar teen R100 vir volwassenes and R80 vir afgetredenes, studente en skoliere. Kaartjies is beperk, so moenie sloer nie. Kyk www.computicket.com.
Die kore se repertoriums bestaan uit gewyde, sekulêre en tradisionele musiek in verskillende style en sal hoofsaaklik a cappella uitgevoer word. Die hoogtepunt van die aand sal ’n massakoorwerk wees wat deur die 320 koorlede uitgevoer word. Die kore en hul dirigente het al groot aansien op internasionale verhoë verwerf en het deur die jare talle toekennings op nasionale en internasionale vlak ontvang.
Die Kuesta Universiteitskoorfees word reeds meer as 30 jaar in rotasie op die verskillende universiteitskampusse aangebied. Vanjaar se fees bestaan uit koorwerkswinkels en repetisies met ’n galakonsert wat met die indrukwekkende massakoorwerk sal afsluit.
KLIEK HIER VIR MEER INLIGTING OOR DIE DOEL VAN KUESTA
|
|
|