|
Nuus uit die TuksAlumni-kantoor
Die TuksAlumni-kantoor het verskeie streeks- en ander gebeure oor die afgelope paar maande aangebied, terwyl die TuksAlumni Gholfklub ook hul jaarlikse gholfkampioenskappe gehou het. Lees ook meer oor die maatskaplike-verantwoordelikheidsprojek van die TuksAlumni-kantoor asook die beplande aktiwiteite vir die volgende paar maande.
Alumnikantoor se donasies hou kinders warm hierdie winter
’n Maatskaplikeverantwoordelikheidsprojek van die TuksAlumni-kantoor, wat begin het met die skenking van gebruikte papier vir herwinningsdoeleindes, het uiteindelik gelei tot die skenking van komberse vir ’n agtergeblewe preprimêre skool in Mamelodi, Pretoria.
Die gebruikte papier wat oor ’n tydperk deur personeel van die Tuksalumni-kantoor en die Departement Institusionele Bevordering by Kya Rosa versamel is, is deur Mondi gekoop vir herwinning. Die geld wat ontvang is, is gebruik om komberse te koop wat op Vrydag, 16 April, oorhandig is aan die kinders van Viva Village – ’n hulpbehoewende gemeenskap wat deur die TuksAlumni-kantoor geïdentifiseer is.
Die gemeenskap waarin Viva Village geleë is, is ’n informele nedersetting in Mamelodi-Oos waar meer as 250 000 mense bly. Daar is ’n werkloosheidsyfer van 89%, ’n hoë vlak van ongeletterdheid, ’n stygende misdaadsyfer en kinders wat aan die nagevolge van MIV/VIGS ly. Die Universiteit van Pretoria is betrokke by verskeie projekte om die gemeenskap op te hef. Onder hierdie projekte is die konstruksie van ’n naskoolsentrum deur konstruksiebestuurstudente en die verskaffing van beradingsdienste deur studente in opvoedkundige sielkunde.
Die preprimêre skool wat gestig is as deel van hierdie projek verskaf ’n veilige, gesonde omgewing vir dié kwesbare kinders. Ongeveer 30 kinders van tussen vier en ses jaar woon die skool daagliks by. Daar word kos vir hulle gegee, hulle word versorg, en hulle neem deel aan ’n program met opvoedkundige aktiwiteite. Hulle was baie opgewonde oor die helderkleurige komberse wat hulle ontvang het en wat hulle deur die winter warm sal hou.

TuksAlumni-personeellid, Vuyo Ntloko, met kinders Hierdie seuns was beïndruk met hulle nuwe komberse.
van Viva Village.
Aftreeseminare baie suksesvol
Die TuksAlumnikantoor het in Maart twee seminare oor aftrede aangebied – een vir mense wat jonger as 65 is en een vir diegene oor 65. Die seminare is goed bygewoon en was baie suksesvol. Dr Piet Muller, ’n toekomskundige en skrywer, het as fasiliteerder by hierdie sessies opgetree.
Die seminaar vir die jonger groep het gefokus op die voorbereiding vir aftrede, en onderwerpe soos die sielkundige en toekomskundige aspekte van aftrede, die besluit oor wat jy met die res van jou lewe gaan doen, mediese aspekte van veroudering, innerlike groei na aftrede en die allerbelangrike finansiële aspekte van aftrede is gedek.
By die seminaar vir die ouer groep mense is gepoog om antwoorde op die volgende twee vrae te kry: Hoe kan ek my lewensverwagting finansier (aangesien mense se lewensverwagting sedert die vorige eeu met 40 jaar toegeneem het)? Hoe vind ek sin en genoegdoening in my later jare? Onder die onderwerpe wat gedek is, is paradigmas oor ouderdom, geldsake en die mediese aspekte van ouderdom.
Alumnigroep kom bymekaar na Varsity Cup
Die TuksAlumni-kantoor het kaartjies gereël vir die groot Varsity Cup-wedstryd wat op 1 Maart tussen die universiteite van Pretoria en Stellenbosch plaasgevind het. Omtrent 67 alumni het die wedstryd bygewoon, en al het Tuks verloor, was die gees goed! Na afloop van die rugby het 30 mense in ’n restaurant bymekaargekom vir ’n funksie waar prof Niek Grové as gasheer opgetree het. Almal het die aand geniet en die bande tussen alumni is weer eens versterk.
Johannesburg-streek hou AJV
Alumni van die Johannesburg-streek het op 12 Mei op die GIBS-kampus bymekaargekom vir hulle algemene jaarvergadering. Na afloop van die AJV kon gaste ’n ete geniet. Die spreker by die geleentheid was prof Cheryl de la Rey, Visekanselier en Rektor. Ongeveer 100 alumni het die geleentheid bygewoon, en die musiek is verskaf deur Aanklank, ’n groep wat uit twee studente bestaan.

Vernon en Kobie van Wyk. Voor: Neo Tsebe, Tebogo Sebambo; agter:
Ben Ridgard en Riaan Booysen.
TuksAlumni-sakeontbyt saam met Michael Katz
Prof Michael Katz was die gasspreker by die TuksAlumni-sakeontbyt wat op 7 Mei plaasgevind het. Hy het gepraat oor die onderwerp Suid-Afrikaanse tendense in korporatiewe reg en belastinghervorming.
Sy aanbieding het gefokus op die nuwe Maatskappywet, en die veranderings daarin met betrekking tot die samesmelting van maatskappye, kategorieë van korporatiewe beheer, direkteure se voldoeningspligte, maatskappyredding en die erkenning van werknemers.
Prof Katz is die voorsitter van die korporatiewe regsadviseurs, Edward Nathan Sonnenbergs Geïnk. Hy het in 1997 ’n ereprofessorskap van die Universiteit van Pretoria ontvang en is as buitengewone professor aangestel. Hy word as voorste regsgeleerde gelys in verskeie internasionale gidse oor regsgeleerdes, soos die Guide to the World’s Leading Tax Lawyers 2008 en die PLC Which Lawyer 2008/2009.

Michael Katz was die gasspreker by die eerste TuksAlumni-sakeontbyt vir 2010.
Klub- en alumnigroepenuus
AmaTuks-sokkerondersteunersgroep
Die AmaTuks-ondersteunersgroep is aktief, en het die AmaTuks vanjaar dwarsdeur die Nedbank-bekerkompetisie ondersteun. Hulle is selfs na Pietermaritzburg om hul span te ondersteun teen die AmaZulu in die kwarteindrondte, wat die span ongelukkig met een doel verloor het.
TuksAlumni Gholfklub
Die TuksAlumni-gholfkampioenskap het op 6 Maart by die Pretoria-buiteklub plaasgevind. Dit was ’n suksesvolle geleentheid waaraan 88 spelers deelgeneem het.
Die wenners van die kampioenskap is soos volg:
Manskampioen vir 2010:
Anthonie Botha met 73 punte
Mans – A-divisie:
Dawid Muller met 67 punte
Anthonie Botha met 70 punte
Gideon Lombard met 72 punte
Mans – B-divisie:
Jacques Botha met 43 punte
Rene Otto met 35 punte
Jan van der Merwe met 35 punte
Mans – C-divisie:
Tucker Vorster met 33 punte
Brett Oldridge met 32 punte
Kobus Coetzee met 26 punte
Dameskampioen vir 2010:
Lenza de Jager met 83 punte
Dames:
Laetitia Steynberg met 31 punte
Colette de Klerk met 31 punte
Gaye Vivier met 29 punte
Studente:
Artur Pereira met 32 punte
Francois van Schouwenburg was naaste aan die pen op die agtste putjie, en Anthonie Botha op die 14de putjie, terwyl die langste dryf op die 12de putjie deur Willie Theron geslaan is.
Tydens die algemene jaarvergadering is die nuwe komitee aangewys, en hulle is soos volg:
- Dr Pierre Davis (Kaptein)
- Anthonie Botha
- Craig Carlyon
- Erich Grützmacher
- Dudley Pound
- Willie Theron
- Christene Hare
- André van Wyk
- Dirk Venter
Teken gerus die volgende gholf-geleenthede op die kalender aan:
- IBIT (Ingenieursgholfdag) op 30 Julie by die Pretoria-buiteklub
- Tuks vs Rhodes op 15 Augustus by die Irene-gholfklub
- Tuks vs Kovsies op 19 September by die Irene-gholfklub
- TuksKlub 60+ op 7 Oktober by die Pretoria-buiteklub
- TuksAlumni-gholfdag op 23 Oktober by die Pretoria-buiteklub
- Tuks vs Maties op 7 November by die Wingatepark-gholfklub
Vir meer inligting oor die TuksAlumni Gholfklub, skakel Lynette Smith by 012 4202278 of e-pos haar by lynette.smith@up.ac.za.
Kalender
Maak seker maak dat jy die volgende datums vir die komende drie maande in jou dagboek aanteken:
- 1 Junie: Keerdatum vir nominasies vir Laureaattoekennings
- 3 Junie: TuksRugby-ondersteunersklub (TROK): Gholfdag
- 4 Junie: TuksAlumni Kos- en Wyngilde: Proe van goeie Franse vonkel- en Suid-Afrikaanse tafelwyne
- 9 Junie: TuksKlub 60+: Kultuurbesoek
- 23 Julie: TROK-middagete
- 29/30 Julie: TuksAtletiek-ondersteunersklub: Middagete (2)
- 30 Julie: TuksAlumni Gholfklub: Ingenieursgholfdag, Pretoria-buiteklub
- 5 Augustus: George-streeksfunksie
- 5 Augustus: TuksKlub 60+: Etensuurkonsert en ligte middagete
- 6 Augustus: NKP-rugbyondersteuners: Middagete
- 12 Augustus: TuksSportgholfdag: Nelspruit
- 12 Augustus: Windhoek-streeksfunksie
- 19/20 Augustus: TuksSport: Roemsaal-geleentheid
- 29 Augustus - September: TuksKlub 60+: Jaarlikse besoek aan Nasionale Krugerwildtuin
|