Gemeenskapsbetrokkenheid
Boekskenkingsprojek
In 2009 wou personeellede van die SEA ‘n bydrae maak om onderwys op grondvlak te verbeter. SEA het ‘n fokus op leesgeletterdheidsnavorsing sodat geletterdheidsonderwys en leer in skole verbeter kan word, en personeellede het boeke gekoop om aan ‘n laerskool te skenk om te help om ‘n verrykende taalleeromgewing te skep. Die skool, wat in ‘n klein gemeenskap aan die buitewyke van Pretoria geleë is, is ‘n instelling waar geen skoolfooie betaalbaar is nie en
kinders van die armste mense in die samelewing gaan hier skool. Die skool het nie ‘n biblioteek nie en terwyl personeellede hul bes probeer om die leerders se leesvaardighede te verbeter, staar hulle reuse-uitdagings in die gesig as gevolg van die leerders se swak sosio-ekonomiese agtergrond en diverse taalbehoeftes, sowel as die minimum hulpbronne wat beide tuis en by die skool beskikbaar is om lees te bevorder.
As deel van die SEA se uitreikprogramme is beide fiksie- en niefiksieboeke spesifiek vir leerders in die Tussenfase gekies aangesien beide die onderwysers en leerders in hierdie grade by die skool min boeke vir taalverryking beskikbaar gehad het. Die boeke is in die eerste semester vanjaar oorhandig.
Die Suid-Afrikaanse Moniteringstelsel vir Laerskole (SAML)
SAML is al sedert 2003 in Suid-Afrika werksaam. Die projek is daarop gemik om samewerking tussen die navorsing- en skoolgemeenskappe te bewerkstellig sodat voorste navorsing gelewer kan word wat positiewe verandering in skole teweeg sal bring. Die navorsing verteenwoordig samewerking tussen skole en die SEA vir skoolverbetering. SAML word huidiglik in Engelse, Sepedi- en Afrikaanse skole geadministreer en meer as 1 600 leerders neem jaarliks aan die projek deel. Deel van die projek is die hulpbron-webwerf vir Geluidsleer, Lees en Wiskunde, wat oop vir die publiek is.
Die SAML-projek vorm deel van ‘n studie wat deur die Nasionale Navorsingsraad en die Suid-Afrikaanse-Nederlandse Navorsingsprogram oor Alternatiewe in Ontwikkeling (“the South Africa Netherlands Research Programme on Alternatives in Development” (SANPAD)) gefinansier word. Die tweede been van hierdie projek staan as die Suid-Afrikaanse Sekondêre Inligtingstelsel (“South African Secondary School Information System” (SASSIS)) bekend.
|