University of Pretoria Logo
English |  Afrikaans |    
  
Alumni

AlumNuus en profiele  

In hierdie uitgawe val die fokus op die Roos-familie. Dit is nie net die kinders van adv Tielman Roos, eerste Kanselier van die Universiteit van Pretoria, wat by UP studeer het nie; ses van sy agterkleinkinders is ook tans vir grade aan Tuks ingeskryf. U is welkom om bydraes vir hierdie item te stuur na alumni@up.ac.za of te faks na +27 012 362 5088. Maak seker u verskaf u hoogste UP-kwalifikasie en die jaar waarin u afgestudeer het. 

Die Rose blom by UP 

Adv Tielman Roos, eerste Kanselier van die Universiteit van Pretoria en Adjunkminister van die destydse Unie van Suid-Afrika, sou met reg trots kon wees op sy nasate. Nie net het sy eie kinders by UP studeer nie, maar ses van sy agterkleinkinders het besluit om in hul voorsate se voetspore te volg en is tans volbloed-Tukkies.  

Hul verbintenis met Tukkies strek egter verder terug as dit, sê mev Stephanie Roos. Sy is die skoondogter van adv Roos, wat in 1936 oorlede is. Haar pa, Abraham Hauptfleisch, het sy BCom-graad in 1916 aan UP verwerf en haar ma, Eudora, was ’n student aan die destydse Normaal Onderwyskollege, wat intussen ingelyf is in UP se Fakulteit Opvoedkunde. Stephanie (76) en haar susters, Eugenie Burger, Gretchen Schutte en Annette du Toit, het ook almal hul studies aan UP voltooi. Dan was daar natuurlik adv Roos se seuns, Tielman en Frederick Van Reenen, wat onderskeidelik hul grade in ortopedie en ekonomie in die laat 1940s aan UP voltooi het. 

Sy en haar man, Frederick Van Reenen, se paaie het by Tukkies gekruis en kort voor lank was die tweetjies getroud. In 1956 is die eerste van hul sewe kinders, Lorinda, gebore. Daarna het Frits-Marcellus, Tilania, Eugenie, Quintus, Desmeon en Andrius gevolg. Lorinda en haar man is albei tandartse en praktiseer reeds vir 'n hele aantal jare in Engeland.  

Pierre du Preez (27), ’n regsstudent, sê hy hoop sy kinders sal eendag die familie-tradisie voortsit en by Tukkies studeer. Sy broers, Reenen (20) en Theon (25), is tans onderskeidelik besig met hul grade in BCom-beleggingsbestuur en Voedselwetenskappe aan UP. Die Du Preez-broers se ma, Tilania, het haar LLB-graad aan Tukkies behaal en haar man, Pierre, op kampus ontmoet.  

Dis ‘Tuks of niks’, sê Byron Briedenhann (18), wat vanjaar met sy BCom-studies aan UP begin het. Hy en sus Jonay (19) is Eugenie se twee spruite. Eugenie en haar man, Joggie, het albei hul tandheelkundegrade aan Tukkies behaal en bedryf tans ’n praktyk in Windhoek, Namibië. Byron en Jonay is kranige swemmers – hulle swem tans vir TuksSport en word gereken as van Suid-Afrika se beste swemmers. Jonay is tans ’n eerstejaarstudent in Sportwetenskappe, maar hoop om volgende jaar regte te studeer. 

Zian Roos (19), ’n ingenieurstudent, is dol oor die koshuislewe. Pa Quintus, wat sy graad in boubestuur aan UP behaal het, en ma Ursula, ’n onderwyseres, het ook by UP ontmoet. Desmeon en Andrius, wat albei hul regsgrade aan UP behaal het, se kinders is nog klein, maar ouma Stephanie hoop dat hulle ook eendag die trotse Roos-tradisie sal voortsit.



Voor: Jonay Briedenhann en Zian Roos. Agter: Byron Briedenhann en
die Du Preez-broers Theon, Pierre en Reenen.


 

  • Estelle Kriek (26) (BA Drama(Hons), cum laude, 2005) en Charles Bouguenon (BA Drama) is deel van die teatervertoning The Rocky Horror Picture Show, wat weer eens in Mei 2010 in Pretoria op die planke is. Estelle vertolk die rol van die onskuldige en naïwe Janet Weiss, terwyl Charles die rol speel van Dr Frank N Furter, die minlike psigotiese transvestiet wat van ’n ander planeet af kom.
  • Dr Boitumelo Semete-Makokotlela (30) (BSc Genetika, 2004; BSc(Hons), 2005) is ’n navorser by die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad (WNNR), waar sy deel is van ’n span wat besig is met werk aan nanomedisyne-leweringstelsels vir anti-tuberkulosemedisyne. Sy het ook ’n PhD van die Noordwes-universiteit.
  • Hannes Horne (75) (BA Drama(Hons), 1968; MA, 1970) is ’n bekende akteur, stemkunstenaar, regisseur en voorste teaterpersoonlikheid wat ook ’n dramadosent was aan UP, waar hy baie van vandag se bekende Suid-Afrikaanse akteurs opgelei het. Hannes het onder die bekende Anna Neethling-Pohl studeer en het tussen 1968 en 1980 ’n huishoudelike naam, gesig en stem in Pretoria en Suid-Afrika geword.
  • Dimitri Khumalo (29) (BSc(Hons) Tegnologiebestuur, 2008) is ’n prosesingenieur wat vir Absa Bank werk.
  • Karen Lee (28) (BSc Agric, 2004; MSc Agric, 2008) is ’n dosent by die Grootfontein-landboukollege in Middelburg, Oos-Kaap.
  • Dr Theo de Jager (47) (BA(Hons), 1985; MA, DPhil, 1989) is visepresident van Agri SA in Pretoria. Theo is ook gekwalifiseer as afslaer, eiendomswaardeerder, taksateur en prinsipaal in eiendomsagentskappe en as vlieënier. Verder boer hy in Georges-vallei naby Tzaneen, waar hy met bloekom, avokado’s, lietsjies en Nguni-beeste boer.
  • Neil Claasen (36) (BCom Hotel- en Toerismebestuur, 1994) het as finansiële direkteur by Fujitsu-dienste Suid-Afrika aangesluit. Hy is egter nie ’n nuweling by die Fujitsu-groep nie, en was vanaf 2001 tot 2007 die finansiële direkteur van Fujitsu Siemens Rekenaars SA, en vanaf 2008 die streeks- finansiële direkteur van Fujitsi Siemens MEA. Hy het die volgende drie jaar in Duitsland deurgebring as deel van Siemens se bestuursontwikkelingsprogram. 
  • Anton Krugel (39) (BA Inligtingontwerp, 1994) is as ontwerpdirekteur aangestel van Interbrand Sampson, wat in Johannesburg gebaseer is. Hy het vir ’n verskeidenheid topkliënte in verskillende bedryfsektore in Johannesburg en Kaapstad gewerk.
  • Izak Petrus (Peet) du Plooy (34) (BIng Meganies, 1997) is ’n handels- en beleggingsadviseur by die Wêreldwye Natuurlewefonds (WWF). Hy is deur die Mail & Guardian geïdentifiseer as een van 300 jong Suid-Afrikanders saam met wie 'n mens  moet gaan middagete eet. Hy het in 2004 die handels- en beleggingsadviseur van die plaaslike tak van die WWF geword. 
  • Dr Ntavhanyeni Phaswana (43) (BA(Hons), 1995; MA Bybelwetenskap, 1997; MA Praktiese Teologie, 2008) het onlangs kwalifikasies van twee universiteite ontvang toe hy sy Troubeamptediploma aan Unisa en sy tweede meestersgraad in praktiese teologie aan UP verwerf het. Hy is ook ’n direkteur van Bo-die-Krans Lodge, Paradise Maname Independent School, Ntavhanyeni Business Enterprise en Machaka Learning Academy.  Ntavhanyeni het in 2000 ’n doktorsgraad in letterkunde en filosofie aan Unisa behaal.  
  • Stefan Oberholtzer (50) (BIng Chemies, 1981; BIng(Hons), 1983; MIng, 1993; MBA, 1987) is die groep- besturende direkteur van Chubb Suid-Afrika. Stefan verskaf leiding en strategiese bestuur aan die maatskappy se drie bedryfsafdelings: Monitering en Reaksie, Chubb Brand en Chubb Geïntegreerde Stelsels.
  • Madeleen Teseling (41) (LLB, 1992) is sedert 2006 die eienaar van Teseling Prokureurs in Kimberley. In haar hart is sy ’n perdeliefhebber, en sy werk as ’n prokureur.
  • Pieter (Piet) van Zyl (46) (BSc Agric, 1991; BSc Agric(Hons), 1993) het die leisels oorgeneem as hoof- uitvoerende bestuurder van York Timbers. Hy is ’n voormalige besturende direkteur van Hans Merensky Timber.
  • Jacques de Villiers (25) (BCom Ondernemingsbestuur, 2006; BCom(Hons) Bemarkingsbestuur, 2007) is ’n spesialis-groepverkoopskonsultant by die Mega-groep van maatskappye. Megamaster, Mega Palisade, Mega Huts en Bosca is filiale van die groep.
  • Neil Cameron (41) (BSc(Hons) Toegepaste Wetenskap, 1998; MSc, 1999) is die hoofbestuurder van Johnson Controls Systems & Service Suid-Afrika. Bates ter waarde van R500 miljoen en sowat 320 personeellede val onder sy bestuur.
  • Piet Muller (54) (BSc Agric, 1978; BSc(Hons) Agric, 1979; BInstAgrar(Hons), 1980) is ’n vooraanstaande boer van die Amana-boerdery op Levubu en die voorsitter van Subtrop, die oorkoepelende kwekersvereniging vir die avokado-, lietsjie-, mango- en makadamiabedryf. Hy is ook die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Makadamiakwekersvereniging (SAMKV), en is onlangs aangewys as die nuwe voorsitter van die Suid-Afrikaanse Avokadokwekwersvereniging (SAAKV).
  • Charl du Plessis (33) (BMus, 1999; BMus(Hons), 2000; MMus, 2003; DMus, 2009), sedert 2000 Nataniël se begeleier en pianis, het onlangs sy doktorsgraad aan die Universiteit van Pretoria behaal. Hy het ook pas sy tweede album, Piano Man, die lig laat sien. Charl het aan die begin van 2007 sy sololoopbaan met die vertoning Pianist Monologues begin, en hy word tans gereken as een van die veelsydigste plaaslike pianiste.  
  • Joshua Chimakula Ngoma (49) (MIng Projekbestuur, 2001) is een van die stigterslede en hoof- uitvoerende beampte van die Tranter-groep van maatskappye. Hy is in Chipata (destyds Fort Jameson) in die oostelike gedeelte van Zambië gebore. In 1988 het hy ’n graad in mynbou-ingenieurswese aan die Camborne-mynskool in die suidweste van Engeland verwerf, en in 2001 het hy ’n meestersgraad in projekbestuur aan UP verwerf. 
  • Liesbeth Schlumberger-Kurpershoek (45) (Dip Musiek, 1985; Dip Kerkmusiek, 1985; BMus, 1985; BMus(Hons), 1986) het met haar studies onder wyle prof Stephanus Zondagh aan UP begin toe sy nog op skool was. In 1985 het sy die SAUK-musiekprys en die Unisa Oorsese Studiebeurs gewen, wat haar in staat gestel het om orrel onder Marie-Claire Alain by die Conservatoire National de Rueil-Mailmaison en klavesimbel onder Huguette Dreyfuss te studeer. Sy het in 1989 die eerste prys in die Internasionale Orrelkompetisie gewen wat in Bordeaux gehou is. Sy is in 1996 aangestel as assistentprofessor vir Jean Boyer aan die Conservatoire National Supérieur de Musique in Lyon, Frankryk.
  • Dr Elize Strydom (52) (BA Regte, 1978; LLB, 1980) is die arbeidsverhoudinge-adviseur en hoofonderhandelaar van die Kamer van Mynwese, en is as die nuwe voorsitter van Socpol by Besigheidseenheid Suid-Afrika (BUSA) genomineer. Elize het ook LLM- en LLD-grade van die Universiteit van Suid-Afrika. Sy is ’n toegelate prokureur van die Hoë Hof van Suid-Afrika.