|
Wat behels die program?
Die graad BCom (Rekreasie- en Sportbestuur) is 'n driejaarprogram wat jou toerus om sport- en rekreasiebyeenkomste en -fasiliteite in die private sowel as die openbare sektor te bestuur. Omdat die sport- en rekreasiebedryf in die breedste sin wêreldwyd 'n multimiljardrandbedryf geword het en ook 'n integrale deel van die Suid-Afrikaanse ekonomie uitmaak, is daar 'n toenemende behoefte aan doeltreffende sport- en rekreasiebestuurders om nasionale en internasionale sportbyeenkomste te bestuur en aan te bied. Hierdie program is bedoel om jou voor te berei om die verskillende komponente van die sport- en rekreasiebedryf doeltreffend te bestuur en te administreer. Die graad BCom (Rekreasie- en Sportbestuur) is die ideale program vir enigiemand wat in die besigheids- en bestuurkant van sport en rekreasie belang stel.
Wat kan ek met hierdie kwalifikasie doen?
Die BCom (Rekreasie- en Sportbestuur)-graad stel jou in staat om verskeie loopbane in die sport- en rekreasiebedryf te oorweeg. Dit sluit in professionele bemarker van sport- en rekreasiegoedere en -dienste, bestuurder van sport- of rekreasiebyeenkomste en bestuurder van sport- en rekreasiefasiliteite. Algemene sportbestuurder, sportagent, sporttoeroperateur en sporttoerismebestuurder kan ook hierby ingesluit word, asook sport- of rekreasie-entrepreneur en sportspanbestuurder.
Programinhoud
Die leerprogram vir die graad BCom (Rekreasie- en Sportbestuur) bestaan uit fundamentele modules en kernmodules. Fundamentele modules sluit in Rekenaar- en Inligtinggeletterdheid en taalvaardighede is verpligtend. Kernmodules behels Sportwetenskap, Rekreasiekunde, Bemarkingsbestuur, Ekonomie, Ondernemingsbestuur, Finansiële Rekeningkunde, Statistiek en Besigheidsreg vorm die res van die leerinhoud. Sportwetenskap sal een van jou hoofvakke wees. In die drie studiejare sal jy kennis maak met kwessies soos die sport- en rekreasiebedryf, sportsielkunde, sport- en rekreasiesosiologie, sosiale bemarking van sport en rekreasie, korporatiewe welsyn, regsaspekte van sport en rekreasie, fasiliteitebestuur, byeenkomsbestuur en sporttoerismebestuur. Kliek hier vir meer besonderhede oor die BCom (Rekreasie- en Sportbestuur) Graad
|