English |  Afrikaans |    
  
Alumni

Woordpoort: Pretoria se eerste woordkunsfees

 

Gauteng se heel eerste woordkunsfees, Woordpoort, het vanaf 24 tot 27 September 2009 by die Universiteit van Pretoria plaasgevind. Woordpoort is die breinkind van Linette van der Merwe en 'n inisiatief van die FAK, in samewerking met die Universiteit van Pretoria. Daar word beoog om die fees jaarliks in September aan te bied.

 

Die bestaan van verskeie Afrikaanse kunstefeeste toon aan dat Suid-Afrika se Afrikaanssprekende bevolking 'n behoefte aan uitvoerende en skeppende vermaak het. Al die kunstefeeste in Suid-Afrika is streeksgebonde, en tot nou toe het Gauteng nog nie 'n kunstefees gehad waarvan Afrikaanse woordkuns die hooffokus is nie. Meer as 1.2 miljoen Afrikaanssprekende mense bly in Gauteng, en hulle moet oor die algemeen ver reis om kunstefeeste by te woon. Die doel van Woordpoort is om Afrikaanse woordkuns te bevorder deur kwaliteitproduksies aan te bied vir 'n gehoor wat dit waardeer. Al die genres van woordkuns is ingesluit.

 

Vir die eerste fees het die organiseerders baie moeite gedoen om 'n interessante program saam te stel. Onder die teaterproduksies was Opentoe, Lagnes en Zack-'n-Pak, 'n satiriese komedie waarin Zack du Plessis en Magda van Biljon vir die eerste keer in 30 jaar saam op die verhoog verskyn het. Daar was verder drie produksies wat die werk van die bekende en geliefde Philip de Vos ingesluit het.

 

Kontemporêre musiek is gevier met optredes deur Anna Davel, André G Nel, Piet van Wyk de Vries, Herman van den Bergh, Louïne van den Vyver, en Jannie du Toit en Christa Steyn. Klassieke musiek het ook 'n plek gekry in die Nuwe Afrikaanse Kunsliedkonsert. Gedigte wat spesiaal vir die konsert deur prominente Afrikaanse digters geskryf is en deur toonaangewende Suid-Afrikaanse komponiste getoonset is, is deur sangers soos Hanli Stapela en Chris Mostert uitgevoer.

 

Verskeie interessante kunsuitstallings is ook gehou, en FAK-blitsseminare oor kontroversiële sake is aangebied. 'n Totaal van 14 boeke is by die fees bekendgestel, en verskeie outeurs het besprekings oor hul werk gehou. 'n Hoogtepunt was die boek-ete met PG en Hans du Plessis en 'n spyskaart wat saamgestel is uit geregte in Onthoukos, 'n boek deur Heleen Meyer wat 'n medalje by die Internasionale Gourmand-resepteboektoekennings gewen het.