University of Pretoria Logo
English |  Afrikaans |    
  
Sokker

TuksVoetbal: AmaTuks se PSL-debuut is net om die draai

Deur Morris Gilbert

Gelaai op 14 Mei 2012

Drie belangrike rolspelers in AmaTuks se bevordering tot die PSL, van links na regs: dr Rendani Muluadzi (TuksSport se Adjunkdirekteur en Algemene Bestuurder van TuksVoetbal), Steve Barker (Hoofafrigter van AmaTuks) en Kenneth Neluvhalani (Bestuurder: TuksVoetbal).
Drie belangrike rolspelers in AmaTuks se bevordering tot die PSL, van links na regs: dr Rendani Muluadzi (TuksSport se Adjunkdirekteur en Algemene Bestuurder van TuksVoetbal), Steve Barker (Hoofafrigter van AmaTuks) en Kenneth Neluvhalani (Bestuurder: TuksVoetbal).

AmaTuks sal min of geen tyd hÍ om aan hul nuwe swaarverdiende status as deel van die Premier Sokkerliga (PSL) gewoond te raak nie, aangesien hul amptelike debuut reeds op 10 of 11 Augustus sal plaasvind.

AmaTuks het amptelik vir PSL-status gekwalifiseer nadat hulle verlede Sondag die eerste posisie op die NVD-punteleer bereik het. AmaTuks sal die Nasionale Eerste Divisie egter eers verlaat wanneer hulle op 20 Mei op die Absa Tuks-stadion teen die Thanda Royal Zulu FC te staan kom (die afskoptyd is 15).

“Dit het ons agt jaar geneem om ons droom van PSL-status te verwesenlik, wat aan ons genoeg tyd gegee het om vertroud te raak met die nuwe uitdagings wat ons nou in die gesig staar. ’n Mens kan nooit goed genoeg voorberei nie, maar ons bevordering was nóg skielik, nóg onverwags. In die loop van die huidige seisoen was ons doelbewus meer toegewyd, gedissiplineerd en professioneel as die res van die NVD-klubs ten einde die oorgang na die PSL makliker te maak. Ons posisie op die punteleer toon in watter mate ons daarin geslaag het om dié doel te bereik,” was die kommentaar van Steve Barker, die hoofafrigter van AmaTuks.

Hy het toegegee dat AmaTuks in die PSL voor groot uitdagings te staan sal kom: “Ons neem nou ons plek tussen die grotes in Suid-Afrikaanse voetbal in, waar geen genade gevra of gegee sal word nie. Om mededingend te kan wees, sal ons moet leer om alles wat tot ons sukses in die NVD bygedra het, nog beter te doen.”

Barker het saamgestem dat dit eerstens nodig sal wees om die huidige span gekontrakteerde spelers te vergroot deur die toevoeging van ervare spelers uit die oordragmark.

Hy het voorts gesê: “Ons sal probeer om soveel moontlik van ons huidige spelers te behou, aangesien dit per slot van sake hulle was wat ons sukses in die NVD en daarna in die PSL-promosie moontlik gemaak het. Ten einde mededingend te kan wees, moet ons egter spelers van elders af invoer.”

Dr Rendani Mulaudzi, Adjunkdirekteur van TuksSport en Algemene Bestuurder van TuksVoetbal, het gesê dat die AmaTuks se bevordering tot PSL-status getuig van die hoë gehalte van die TuksVoetbalprogram en TuksSport se algemene verbintenis tot die aanbieding van uitstekende sportprogramme. Daaraan het hy toegevoeg: “Dit toon dat as die Universiteit eers op iets besluit het, niks in sy pad sal staan nie. Om te kom waar ons nou is, het ’n vasberade spanpoging vereis. Ons nuwe status sal ongetwyfeld potensiële studente se beskouing van Tuks as die plek waar hul voetbaldrome waar sal en kan word, beïnvloed.”

Bookmark this page: