UP Kunste bied aan: Simply Stunning Soloist
Deur Philippa Lotzé
Gelaai op 15 September 2010
UP Kunste bied die Universiteit van Pretoria se Simfonie Orkes aan in ?n concerto fees met nege student-soliste vanuit die orkes. Die talent in die orkes sal ten toon gestel word deur bewegings vanuit concerti uit die hele klassieke spektrum.
Methenjwa Machi speel die derde beweging uit Hummel se Trompet Concerto in E-mol Majeur, wat bekend is vir die tegniese eise wat aan die solis gestel word: die werk is destyds geskryf om die wonder van die nuwe sleutel trompet ten toon te stel. Carin Jansen van Vuuren voer die eerste beweging van Lalo se Symphony Espagnole uit. Die werk bevat opwindende Spaanse ritmes en melodieë. Die tweede en derde bewegings uit Vieuxtemps se Concerto vir Viool No 5 word uitgevoer deur Mia Björkman. Die Concerto is liries en poeties van aard.
Vivaldi se Winter uit die Vier Seisoene word uitgevoer deur Ané du Toit. Hierdie opwindende klankverwerking van díe koue seisoen word subtiel deur Du Toit geskets. Die orkes se eerste fluitspeler, Laetitia van Niekerk en die tweede fluitspeler Daniel Kwak, gee lewe aan Cimarosa se immergewilde dubbel concerto, Symphonie Concertante.
Junnan Sun speel die derde beweging uit Weber se Klarinet Concerto No 1 wat die omvangrykheid en aanpasbaarheid van die instrument ten toon stel. Die warrelwind van emosie en passie in Camille Saint-Saëns se Allegro Appassionato deur Catherine Schenck, sal die diversiteit en musikale buigbaarheid van die tjello uitbeeld. Van die mooiste Horing Concerti in die repertorium, Mozart se Vierde, kan gehoor word in die tweede beweging uitgevoer deur Jaco van Staden.
Die konsert vind plaas om 19:00, op 22 September in die Musaion op die Universiteit van Pretoria se Hoofkampus onder die leiding van Eric Rycroft. Kaartjies teen R60.00 en R40.00 (studente en pensionarisse) is beskikbaar by die deur. Kontak 012 420 4183 of epos upso@up.ac.za vir enige navrae.
|
|
|