English |  Afrikaans |    
  
Museums en versamelings

ANTON VAN WOUW MUSEUM 

  
   ANTON VAN WOUW (1862-1945)       AFRIKASTUDIES DEUR ANTON VAN WOUW     

GESKIEDENIS VAN DIE VAN WOUW HUIS

Geskiedenis van die Van Wouw Huis

Die Van Wouw Huis, wat nou aan die Universiteit van Pretoria behoort, was die laaste tuiste en studio van die beeldhouer (1862-1945). Die erf waarop die huis aanvanklik gebou is, het aan mnr J Brookes behoort. Die erf het drie keer van eienaar verwissel en is in 1937 aan Van Wouw verkoop. Hy het die argitek Norman Eaton aangesê om ‘n huis vir hom op die suidelike erf te bou. Die Van Wouw Huis, wat in 1938 voltooi is, is ‘n toonbeeld van Norman Eaton se persoonlike styl wat hy daardie tyd reeds ontwikkel het. Die huis is beide as woning en studio ontwerp. Die eenheid tussen die gebou en die omgewing is duidelik. Van Wouw was ‘n groot natuurliefhebber en was lief vir tuinmaak en het Eaton aangesê om ‘n woning te ontwerp waar argitektuur en die natuur ‘n verwantskap met mekaar het. 

‘n Ornamentele poel, en later ‘n lushoftuin, het tot hierdie skakel tussen die huis en die natuur bygedra. Die huis is van klinkersteen gebou, het ‘n grasdak en houtvensterrame met hortjies. Terracottateëls en houtvloere dra verder tot die sjarme by.

Die klank van water in die visdam, rankplante en lushoftuine koppel die woning met die omringende landskap. Daar is ‘n pragtige uitsig vanaf die groot stoep wat suid front. 

Van Wouw het vroeg in 1939 in sy huis ingetrek en daar gewoon tot en met sy dood op 30 Junie 1945. Professor en mev S F Oosthuizen van die Universiteit van Pretoria het daarna tot en met 1973 in die huis gewoon. 

Tydens die 25ste Jaarlikse Algemene Vergadering van die Rembrandt Groep op 16 November 1973 het dr Anton Rupert aangekondig dat ‘n som geld wat gelykwaardig is aan die eiendom se verkoopsprys aan die Universiteit van Pretoria gegee is om die Van Wouw Huis aan te koop. Met hierdie gebaar het hierdie waardevolle en besonderse huis die Universiteit se eiendom geword. Dr Rupert het die huis amptelik aan die Universiteit op 21 Mei 1974 oorhandig.