University of Pretoria Logo
English |  Afrikaans |    
  
Fakulteit Regsgeleerdheid

Regstelsel verlam oor tekorte, sê oudregter

Apr 20 2009 07:24:37:130PM - (SA)

Alet Rademeyer

Nóg die strafregstelsel nóg die siviele regstelsel werk behoorlik weens ’n gebrek aan bevoegdheid, toewyding en soms integriteit. So het afgetrede regter Kees van Dijkhorst verlede week by die gradeplegtigheid van regstudente aan die Universiteit van Pretoria (UP) gesê. Altesame 173 LL.B-, 34 LL.M- en twee LL.D-grade is toegeken.

Van Dijkhorst het gesê die reg is net woorde op papier. “Om doeltreffend te wees moet dit afgedwing word. As wette nie afgedwing word nie, kan hulle net sowel nie bestaan nie.” Van Dijkhorst het gesê gevaarligte flikker as ons vra of ons regstelsel die toets slaag. Hy het verwys na die nasionale vervolgingsgesag (NVG) wat die vervolging teen ’n politieke figuur (mnr. Jacob Zuma, ANC-president) teruggetrek het terwyl ’n hof bevind het hy hét ’n korrupte verhouding met Schabir Shaik gehad.

Oor die beweerde redes vir die vervolging se opskorting het Van Dijkhorst gesê daar is nie gesê waarom die NVG dit nie aan die hof oorgelaat het om te besluit of gesprekke tussen advv. Bulelani Ngcuka, voormalige NVG-baas, en Leonard McCarthy, Skerpioenebaas, die regsproses ongeldig gemaak het nie. “Die NVG se optrede het sy beeld van onafhanklikheid en onpartydigheid aan flarde geruk.”

Van Dijkhorst het ook verwys na die gedinge waarby regter John Hlophe, die Kaapse regter-president, betrokke is. Dit sluit ’n beskuldiging in dat hy ’n besluit van die konstitusionele hof wou beïnvloed in die saak oor beslaglegging op dokumente van Zuma. Melding is ook gemaak van ’n regter van Pretoria (regter Nkola Motata) wat in Johannesburg met sy Jaguar deur ’n muur gebars het en van dronkbestuur aangekla is. Van Dijkhorst het gesê as bogenoemde is waarby van die hoogste regters betrokke is, kan ’n mens net wonder wat van die laer howe verwag kan word.

Hy het gesê ondanks vertragings met hofsake is dit kommerwekkend dat net ’n klein persentasie van ingediende klagte tot in howe vorder. Luidens die Gauteng-polisie se syfers het net 8% van 47 216 klagte wat in 2007-’08 oor geweld teen vroue en kinders ingedien is uiteindelik in howe beland. Van die 48 865 klagtes oor kontakmisdade het 26% die hof gehaal. “Dit beteken polisie-ondersoeke en voorbereiding vir sake is geheel en al onvoldoende,” het hy gesê.