English |  Afrikaans |    
  
Die Albert Luthuli Sentrum vir Verantwoordelike Leierskap

Albert Luthuli Sentrum vir Verantwoordelike Leierskap vorm gemeenskap van praktyk

Deur Suzanne Kleynhans

Gelaai op 31 Julie 2012

Die Albert Luthuli Sentrum vir Verantwoordelike Leierskap (ALSVL), wat in die Departement Ondernemingsbestuur gesetel is, het ’n belangrike bydrae gelewer tot die gesprekke oor transformasionele leierskap gedurende ’n werkswinkel wat in Julie 2012 plaasgevind het.

Die werkswinkel met die tema “Toward more effective development in Africa: transformational leadership and enhanced accountability capacity for results” het by die Centurion Lake Hotel plaasgevind.
 
Mnr Ben van der Merwe, ’n personeellid van die Albert Luthuli Sentrum vir Verantwoordelike Leierskap, het ’n kort voorlegging by die werkswinkel gelewer oor een van die ALSVL se projekte, getiteld “Leierskap vir Afrika”.
 
“Die projek is gegrond op die oortuiging dat leierskap ’n belangrike rol in die realisering van Afrika se potensiaal kan speel. Die projek sal voorafopgestelde, individualistiese en westerse konsepte van wat leierskap in Afrika konstitueer vermy. Dit sal daarna strewe om die sleuteldryfvere en remmende faktore vir leierskap in hul individuele, kollektiewe en institusionele dimensies te identifiseer om vir ’n waarlik volhoubare Afrika aangewend te word. Dit sal as ’n samewerkende poging tussen navorsers regoor die kontinent aangepak word en deel vorm van hierdie projek genaamd ‘Leiers vir Afrika’. Die doel is om die leierskapshulpbronne te dokumenteer wat dit vir Afrika moontlik kan maak om sy potensiaal te bereik, asook om die uitdagings te verstaan wat Afrika daarvan weerhou om hierdie potensiaal te realiseer," sê mnr Van der Merwe.
 
Die voorlegging het ook die geleentheid vir ’n diepte gesprek oor transformasionele leierskap vanuit ’n Afrika-perspektief geskep, waar vier dimensies van transformasionele leierskap geïdentifiseer is, naamlik etiese leierskap, visioenêre leierskap, aanspreeklike leierskap en omgewingsondersteuning.
 
Verteenwoordigers van sowat 15 Afrikalande met verskillende agtergronde en professionele dissiplines het die werkswinkel bygewoon en die karaktereienskappe van die beginsels wat met transformasionele leierskap in die spesifieke konteks van die Afrika-kontinent verband hou, bespreek.
 
’n Kort verslag sal gepubliseer word en die hoop word gekoester dat ’n opvolg-byeenkoms gereël sal word waar die fokus op die implementering van transformasionele leierskap en aansprekklikheidsvaardighede op nasionale vlak sal val.


Bookmark this page: