English |  Afrikaans |    
  
Die Albert Luthuli Sentrum vir Verantwoordelike Leierskap

Die Albert Luthuli Sentrum vir Verantwoordelike Leierskap stel nog ’n nuwe program bekend

Deur Cloete Jansen van Vuuren

Gelaai op 05 Julie 2012

Van links na regs: Dr Joseph Matjila van Exxaro, dr Claudious Chikozho van die ALSVL , prof Niek Schoeman, waarnemende dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, prof Giel Niemann, departementshoof van Ondernemingsbestuur, prof Derick de Jongh, direkteur van die ALSVL en mnr Koos Smit en mnr Andre Cronje, albei van Exxaro, gedurende die bekendstelling van die nuwe navorsingsprogram oor sake- en biodiversitetsleierskap.
Van links na regs: Dr Joseph Matjila van Exxaro, dr Claudious Chikozho van die ALSVL , prof Niek Schoeman, waarnemende dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, prof Giel Niemann, departementshoof van Ondernemingsbestuur, prof Derick de Jongh, direkteur van die ALSVL en mnr Koos Smit en mnr Andre Cronje, albei van Exxaro, gedurende die bekendstelling van die nuwe navorsingsprogram oor sake- en biodiversitetsleierskap.

Die Albert Luthuli Sentrum vir Verantwoordelike Leierskap (ALSVL) aan die Universiteit van Pretoria (UP) het in samewerking met Exxaro ’n nuwe navorsingsprogram oor sake- en biodiversiteitsleierskap van stapel gestuur.

Die bekendstelling het op 26 Junie 2012 by UP se Hatfieldkampus plaasgevind en is deur personeellede van die Universiteit, kundiges van Exxaro en die gemeenskap asook ander akademici in die geledere van sake en biodiversiteit bygewoon. Prof Derick de Jongh, direkteur van die ALSVL, het die gaste verwelkom en prof Niek Schoeman, waarnemende dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, het die openingswoord gelewer. Die programdirekteur van Exxaro, dr Claudious Chikozho, het die fokus van die program uiteengesit terwyl mnr Koos Smit van Exxaro die maatskappy se doelstellings vir die befondsing van die program bespreek het.

Toenemende bewyse vanuit verskeie wêrelddele toon dat talle sakeondernemings ’n slegte invloed op goed funksionerende ekostelsels en biodiversiteit uitoefen, hoewel hulle daarvan afhanklik is. Daarom hou die konstante agteruitgang wat tans in die wêreld se ekostelsels en biodiversiteit waargeneem word daadwerklike uitdagings vir sakeondernemings, openbare beleid en die breë gemeenskap in.

Die sakesektor het tradisioneel winsgrense geprioritiseer ten koste van biodiversiteitsbewaring. Met nuwe denke en raad oor die regte omstandighede kan sakeondernemings inderwaarheid beide winsgewend en in harmonie met die natuur wees. Die uitdaging is hoe om dit te bewerkstellig en hierdie program soek na antwoorde op daardie vraag.

Die hoofdoel van die program is om na drie jaar van uitvoering te sien dat kollektiewe leierskap en verantwoordelikheid in biodiversiteitsbewaring en volhoubaarheid in Suid-Afrika uitgevoer en bevorder word. Nog ’n doel is om die program as ’n voorbeeld van ’n suksesvolle en volhoubare vennootskap tussen die wetenskap- en sakesektore in Suid-Afrika voor te hou met wesenlike potensiaal vir navolging.

Die program vervul ’n interdissiplinêre rol in navorsing en samewerking en bevorder die kennis oor sake en biodiversiteit. Dit het dit ook ten doel om relevante opvoedkundige programme aan die Universiteit van Pretoria te vestig deur kort kursusse vir rolspelers op nasionale vlak aan te bied en nagraadse studente op meesters- en doktorale vlakke te lei. Deur middel van strategiese voorspraak-inisiatiewe sal die implementering van die program die hoofstroming van kennis vir gebruik in openbare beleid en die sakesektor fasiliteer om sodoende die dryfkrag vir verandering te versterk.

Die goue draad wat deur die program verweef is, is dat sake en biodiversiteit nie noodwendig die vreemdelinge vir mekaar is soos wat hulle tradisioneel beskou word nie. Dit moet deesdae gesien word as twee stelsels wat in harmonie kan bestaan as die korrekte omstandighede geskep word. Daar word voorspel dat sakeondernemings binne twee dekades van nou af waarskynlik meer teleurgesteld gaan wees oor die dinge wat hulle nie gedoen het nie as dít wat hulle wel gedoen het. Hierdie program doen ’n dringende beroep op alle rolspelers om dadelik aksie te neem, om navorsing te doen en werkbare oplossings te vind en om verantwoordelik op te tree.



Bookmark this page: