Pleidooi vir radikale transformasie van Bestuursonderwys by RIO+20 bekendgestel
Deur John North
Gelaai op 03 Julie 2012
Die Albert Luthuli-sentrum vir Verantwoordelike Leierskap en die Universiteit van Pretoria het tydens die onlangse RI0+20-nasiekonferensie oor Volhoubare Ontwikkeling in Rio de Janeiro die voortou geneem met die bekendstelling van die 50+20-agenda en -film.
Die VN-konferensie en ander verwante geleenthede is vanaf 13 tot 22 Junie gehou en is bygewoon deur meer as 45 000 afgevaardigdes, wat 120 staatshoofde ingesluit het.
Die 50+20-inisiatief, waarvan die Albert Luthuli-sentrum vir Verantwoordelike Leierskap ’n amptelike mede-outeur is, het ’n visie vir die transformasie van bestuursonderwys bekendgestel waarin die gebruiklike beginsel wat daarna streef om die beste in die wêreld te wees, hersien is ten gunste van ’n benadering wat beoog om besighede te skep wat ontwerp is om die beste vir die wêreld te bereik.
Die 50+20-agenda: Bestuursonderwys vir die Wêreld, ’n dokument wat die visie opsom en ’n kort film, is gedeel met die aanwesiges by die Derde Globale Forum vir Verantwoordelike Bestuursonderwys, waaronder meer as 300 dekane, direkteure en verteenwoordigers van besigheidskole en maatskappye wat die Verenigde Nasies se Globale Kompakte RIO+20 Korporatiewe Volhoubaarheidsforum bygewoon het. Die visie en film is gelyktydig aanlyn by www.50plus20.org vrygestel. Die film kan hier gesien word:
Die 50+20-agenda is oor ’n tydperk van 18 maande tydens ’n reeks konsulterende werkwinkels, wegbreeksessies en vergaderings wat oor vyf kontinente gehou is, ontwikkel. Bydraes is gelewer deur meer as 100 denkleiers en akademici, asook talle ander persone wat aanlyn aan belanghebbersopnames deelgeneem het.
Die 50+20-agenda is ook ’n vertoonvenster vir verskeie “Nuwe Standaarde”, wat voorbeelde is van instansies wat nuwe en relevante standaarde stel wat ’n aanduiding is van ’n samewerkende eerder as ’n mededingende benadering. “Emerging Benchmarks" is dan ook die titel van die 50+20 mobiele uitstalling en die prototipe platform wat gebruik word om “Bestuursonderwys vir die Wêreld” by RIO+20 te demonstreer.
Die uitstalling bestaan uit tweesitplekbanke wat kunstig ontwerp en versier is. Dié banke, wat in opdrag deur kunstenaars van oor die hele wêreld gemaak is, is uit herwonne materiale geskep. Wanneer die banke gerangskik is om ’n leersirkel te vorm, simboliseer hulle ’n verbintenis tot die herwinning van bestuursonderwys vir die wêreld en verskaf hulle ’n fisiese metafoor vir die samewerkingslaboratorium: ’n begrip wat ’n sentrale plek in die 50+20-visie beklee. Die banke word tydens prototipe-samewerkingslaboratoriumsessies gedurende die RIO+20 gebruik.
Die visie
Ten einde ’n wêreld te skep waarin alle burgers goed en binne die vermoëns van die planeet leef, bepleit 50+20 ’n beweging in die rigting van ’n ander soort samelewing met ’n hersiene ekonomiese raamwerk wat geloof word vir sy positiewe bydrae tot die samelewing en die wêreld. Sakeondernemings sal eweneens intiem betrokke moet raak by hierdie transformasie deur uitdagings en verantwoordelikhede te aanvaar wat verder as korttermyn ekonomiese prestasie strek.
Volgens die 50+20-agenda is drie fundamentele rolle by die verskaffing van bestuursonderwys vir die wêreld betrokke:
1. die opleiding en ontwikkeling van globaal verantwoordelike leiers
2. hulp aan sakeondernemings om hulle in staat te stel om die belange van almal te dien
3. betrokkenheid by die transformasie van besigheid en die ekonomie
Hierdie oproep tot diens aan die samelewing verteenwoordig die vermoë om ’n ruimte te skep en in stand te hou waar verantwoordelike leierskap vir ’n volhoubare wêreld verskaf kan word. Dit is binne hierdie konteks van die skep en instandhouding van so ’n ruimte dat ons die manifestering van die sentrale en verenigende element van die 50+20-visie, naamlik die samewerkingslaboratorium, kan sien. Die samewerkingslaboratorium kan beskryf word as ’n samewerkende en oopbron-platform waar aksieleer en navorsing met die fokus op werklike kwessies saamspan en oplossings verskaf wat nie deur teorieë nie, maar deur werklike kwessies gedryf word. Binne die samewerkingsruimte is daar geen formele skeiding tussen kennisproduksie en kennisoordrag nie. Dié filosofie is lynreg in stryd met die denkwyse waarop die gebruik van lesingsale berus – ’n konvensionele ruimte wat oor die algemeen vir bestuursonderwys gebruik word.
In die lig van die kritiese ondersoek van die grondbeginsels waarop besigheids- en bestuursonderwys berus, het die visie te doen met besigheids-, bestuurs- en leierskapsonderwys oor die algemeen. Belanghebbers in hierdie landskap sluit nie slegs besigheidskole en leierskaps- en bestuursontwikkelingsprogramme of korporatiewe universiteite in nie, maar ook dinktenke, besigheidskonsultante en beroepsopleidingsentrums.
Meer oor 50+20
50+20 is ’n samewerkingsinisiatief tussen drie organisasies: die World Business School Council of Sustainable Business (WBSCSB), die Globaal Verantwoordelike Leierskapsinisiatief (GRLI) en die Beginsels van Verantwoordelike Bestuursonderwys (VN-gesteunde PRME).
Die volgende instansies het ruim finansiële hulp verleen en word as amptelike mede-outeurs van die 50+20-agenda erken: die Besigheidskool Lausanne (CH), CENTRUM Católica (PE), die Concordia-universiteit (CA), die Besigheidskool van Kopenhagen (DK), Deloitte Touche Tohmatsu Beperk, ESADE (ES), ESSEC (FR), ICN Besigheidskool Nancy-Metz (FR), Leuphana Universität Lüneburg (DE), Queensland University of Technology (AU), die Rajiv Gandhi Indian Institute of Management (IN), Swinburne University of Technology (AU), die Universiteit van Pretoria (ZA), die Universiteit van St Gallen (CH), die Weense Universiteit vir Ekonomie en Besigheid (AU) en die Zermatt-beraad (CH/FR).
Verteenwoordigers by 50+20 sal ook hul idees aanbied by die Dag vir Besigheidsoptrede vir Volhoubare Ontwikkeling wat op 19 Junie gehou word. Dit is ’n hoëprofielplatform vir interaksie tussen sakeleiers en beleidsbepalers.
Die 50+20-agenda voorsien ’n proses van betrokkenheid met die volgende implementeringsprioriteite:
§ Fakulteitsopleiding en -ontwikkeling: Die ontwikkeling van ’n passie vir onderrig, leer en ontdekking is noodsaaklik vir die geslaagde implementering van die visie. Fakulteite moet ook transdissiplinêre benaderings en samewerking tussen baie belanghebbers en betrokkenheid by openbare besprekings met gemak kan hanteer, wat ander soorte opleiding en ontwikkelingsprogramme sal vereis.
§ Die skep van prototipes van die visie: Die opstel van ’n verskeidenheid prototipes wat aan een of verskeie aspekte van die visie gewy is, maak voorsiening vir die toetsing om te sien hoe die nuwe bestuursonderwysrolle vertolk en uitgevoer kan word. Die samewerkingslaboratorium speel ’n sentrale rol in sowel die skepping as die inkubasiefase van baie van hierdie prototipes, asook in die vorming van nuwe onderwysvorms, navorsing en platforms vir openbare betrokkenheid.
§ Die oriëntering van navorsing om almal te bevoordeel: Die bevordering van die ontwikkeling van samewerkende navorsingsentrums wat verbind is tot transdissiplinêre benaderings, nuwe toekomsgeoriënteerde navorsingsmetodes en nuwe aansporings en maatstawwe vir navorsers.
§ Nuwe maatstawwe vir bestuursonderwys: Die implementering van die visie vereis verskillende aansporings en maatstawwe vir sukses. Bestuursonderwysorganisasies benodig alternatiewe werktuie vir evaluering en beoordeling en klassifikasie, byvoorbeeld nuwe kriteria vir die assessering van die waarde en impak van navorsing en die evaluering van kriteria vir die meet van fakulteite se bydraes tot die samelewing.
§ Die viering van uitmuntendheid: ’n Belangrike dryfveer vir verandering is die daarstelling van erkenning van en vergoeding vir die geslaagde uitlewing van die drie rolle van die visie. Nuwe projekte, transformasie op die institusionele vlak en inisiatiewe en betrokkenheid deur die fakulteit moet bekendgemaak en geloof word.
§ Maak die bestuur van skole tot ’n beroep: Die verskaffers van bestuursonderwys word uitgedaag om ontwikkeling tot professionele bestuur te bevorder, wat ondersteun word deur leierskap met ervaring in die bestuur van verandering en transformerende organisatoriese prosesse. Baie huidige senior leiers het nie voldoende blootstelling geniet of opleiding ontvang om die verandering wat nodig is om so ’n transformasie teweeg te bring, geslaagd te lei nie.