University of Pretoria Logo
English |  Afrikaans |    
  
Die Albert Luthuli Sentrum vir Verantwoordelike Leierskap

YES in Japan

Deur Sonja van der Waldt

Gelaai op 03 April 2012



Cloete Jansen van Vuuren, ín student in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aan die Universiteit van Pretoria, het op 21 Maart 2012 na Japan vertrek om by die Youth Encounter on Sustainability (YES) aan te sluit. YES is ín baanbrekerskonsep in opvoeding vir volhoubare ontwikkeling en teiken universiteitstudente en jong beroepsmense.

Jong leiers is op hierdie stadium van hulle lewens gemotiveerd, besorg oor die toekoms en geneig om belangrike besluite oor hul loopbane te neem. Die multidissiplinêre YES-kursus voorsien ’n platform om jong leiers van oor die wêreld heen byeen te bring.

Die YES-kursus bring 40 deelnemers van 30 verskillende lande vir ’n 17-dag-kursus byeen. ’n Verskeidenheid van lesings, gevallestudies, projekte, uitstappies, simulasiespeletjies, groepstake en interaktiewe werkswinkels oor die talle uitdagings van volhoubare ontwikkeling word vir die deelnemers aangebied. Die basiese kursusse fokus op die temas van menslike en natuurlike stelsels, voedsel en water, energie en materiale, asook lewensruimte, en oorweeg die oorkruisende rolle van die regering, die korporatiewe sektor en die burgerlike gemeenskap.

Hier is wat Cloete oor sy avontuur te sê het:

“Dit is inderdaad ’n belewenis! Tokio is nie die mees gebruikersvriendelike plek wat ek al besoek het nie, dis inderwaarheid meer ingewikkeld as enige ander stad ter wêreld! Die ondergrondse treine loop op ’n massiewe spinnerak van lyne met honderde stasies. Sommige stasies het tot vyf lyne en verskillende platforms, motors ens. En asof dit nie ingewikkeld genoeg is nie, is als in Japannees geskryf, met ’n Engelse woord hier en daar.

So ek dink dis akkuraat om te sê dat ek verskriklik gespanne was om die korrekte lyn te vat en by die korrekte stasies af te klim. Gelukkig is die mense in Tokio baie vriendelik en meer as gewillig om te help met die bietjie Engels wat hulle ken. Ek het ook gevind dat dit baie help om handgebare te gebruik om die boodskap oor te dra.

Na ’n byna twee-uur-treinrit het ek eindelik daarin geslaag om die Tokio Sentraal-jeughostel op die spoor. Ek het op die 18de verdieping van ’n baie groot gebou gebly, wat die oulikste klein koffiewinkels, kafees en restaurante op die eerste en tweede verdiepings gehuisves het.

Ek het my kamer gekry en hoewel ek totaal uitgeput was na my vlugte en so meer, het ek besluit om die strate te gaan verken en foto’s te neem. Daar was helder ligte, fietse en honderde mense net waar jy kyk! Ek het nie juis ver gevorder voordat ek te moeg geword het en na die Hostel teruggekeer het nie.

Na ’n goeie nagrus het ek die ander sewe YES-deelnemers ontmoet en besluit om Tokio saam met hulle verken. Ons het een of twee blokke gestap, ’n lekker koppie koffie en iets te ete gekry (om na prentjies te beduie was aan die orde van die dag!), waarna ons die moltrein gehaal het om na Akihabare te gaan, waar daar ’n massiewe agt-verdieping-winkel is, elke verdieping met ’n ander tema. Een verdieping het selfone gehad, ’n ander grimering, nog ander rekenaars, restaurante ensovoorts.

Nadat ons ’n uur of wat in die winkel deurgebring het sonder om enige iets te koop (daar was bloot te veel om in te neem), het ons besluit om ’n behoorlik tradisionele Japanse middagete te geniet.

Ons het na ’n klein restaurantjie gegaan waar daar skaars genoeg plek vir ons almal was en waar ons weer moes worstel om die sogenaamde Engelse spyskaarte te ontsyfer. Wanneer jy besluit het wat jy wil bestel, gaan jy na ’n verkoopmasjien om jou bestelling te plaas. Jy plaas jou geld in die masjien, druk die knoppie met die prentjie van die kos wat jy wil bestel en neem die kaartjie wat uitgedruk word. Daarna gee jy die kaartjie vir die kelnerin en jou kos is bestel. Ek het tradisionele Japanse noedels met geroosterde vark geëet en dit het… wel… interessant geproe. Nie sleg nie, net baie anders as waaraan ek gewoond is.

Na middagete het ons na die Hostel teruggekeer, die nodige dinge gekry en weer na die moltreinstasie gegaan om ’n trein na Hosei Universiteit se Tamakampus te vang. Ongelukkig het ons besluit om dit op die besigste tydstip by die moltreinstasie te doen en is oënskynlik saam met die helfte van die wêreld se bevolking in ’n treinkompartement geprop. Om te sê dat dit beknop was, sal ’n massiewe onderskatting wees. Ek het eindelik verstaan waarom al die mense antibakteriese maskers oor hul gesigte dra.

Die reis het ’n uur en ’n half geduur, waarna ons al die pad na die Eeufeessaal op die Tamakampus moes stap. Die ding is, niemand het ons gewaarsku dat dit soortgelyk aan ’n uithouwedren sou wees nie, teen ’n lang en steil bult op met jou tas in die een hand en ’n sambreel in die ander, met trappe op en oor ’n brug voordat jy EINDELIK die Eeufeessaal bereik! Ek het nog nie veel tyd gehad om met enige van die ander deelnemers wat nie saam met my in die Hostel bly te gesels nie, so ek is nog opgewonde daaroor om almal te leer ken.

En hier is ek nou, besig om ewe lekker op ’n Macbook met gratis internet te tik, maar gereed om ’n goeie nagrus te kry.



Bookmark this page: